Mbalula gaan hom teen ‘leuens, laster’ verdedig

Fikile Mbalula, minister van vervoer. (Foto: Bongani Shilubane/ANA)

Die minister van vervoer, Fikile Mbalula, het sy regspan beveel om aan die Zondo-kommissie te skryf nadat hy vandeesweek in getuienis voor die kommissie by bewerings van ongerymdhede betrek is.

Ingevolge die kommissie se reëls moet iemand wat deur ʼn getuie by bewerings van staatskaping betrek word, vooraf daaroor ingelig word. Dié persoon moet ook van ʼn getuieverklaring voorsien word, asook kans kry om daarop te reageer.

Die voormalige voorsitter van die Passasierspooragentskap (Prasa), Khanyisile Kweyama, het Woensdag voor die Zondo-kommissie getuig dat Mbalula die Prasa-raad onregmatig ontbind het, het EWN berig.

Kweyama voer aan dat die minister behoorlike prosedures verontagsaam het om Bongisizwe Mpondo as administrateur van Prasa aan te stel.

Sy het getuig Mbalula se plan het in die hek geduik toe die raad dit teengestaan het, wat gelei het tot sy besluit om die raad te ontbind.

Die kommissie het gehoor dat Mpondo nie net die enorme taak het om die sukkelende Prasa uit sy finansiële verknorsing te red nie. Omdat Prasa nie meer ʼn raad het nie, is Mpondo nou die uitvoerende hoof én die rekenpligtige beampte.

Mbalula sê nou hy is glad nie vooraf ingelig dat Kweyama hom van ongerymdhede gaan beskuldig nie.

“Ek is verras deur mediaberigte dat getuienis voor die Zondo-kommissie gelei gaan word – wat ook getuienis van Kweyama insluit – wat my onder verdenking plaas,” het Mbalula Donderdag gesê.

Die minister sê hy het geen kennisgewing of getuieverklaring ontvang nie, ondanks adv. Vas Soni, een van die getuienisleiers, se versekering dat almal ingevolge die reëls ingelig is.

“Ek het my regspan beveel om aan die kommissie te skryf om dié onrusbarende verwikkeling uit te stryk. Die kwessie oor die aanstelling van die administrateur dien tans voor die Kaapstadse hooggeregshof en word in die komende week aangehoor,” het Mbalula gesê.

Hy sê hy het nog altyd sy steun aan die kommissie gegee en hom daartoe verbind om enige besluite wat hy as minister van vervoer neem, te gaan verduidelik.

“Ek is gereed om ingevolge behoorlike prosesse voor die kommissie te verskyn en die leuens en laster wat Kweyama wil voorhou, te weerlê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

tweeling ·

Hy is in kennis gestel. As jy die verkeerde epos adres gegee het dan is dit jou probleem, moenie skielik ander mense blameer as jy gevang word met jou hand in die koekie blik.

Andre ·

Nee wat ek het LANKAL opgegee en heeltemal vertroue verloor met die Zondo komissie.’n Proses wat 6 maande kon geduur het om al die skuldiges bymekaar te kry en aan te kla neem nou jare.Onbevoeg en die wil om die skuldiges voor die hof te kry ontbreek.

Sobymykoolkop ·

Baie lekker om vir alles hof toe te hardloop as die belastingbetaler daarvoor moet betaal.

Nie Verbaas ·

As minister van vervoer moet hy in elk geval verantwoordelik gehou word vir die wanbestuur en plundering, ongeag wat sy verskonings is. Genoeg van die belasting betaler se geld is gemors.

Scalla ·

Terwyl Frikkie daar is moet hy sommer aan die Zondo komm vertel van die omkoopgeld tydens die wereld sokker bod.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.