Mbalula gryp in by probleme met rybewyse

(Argieffoto)

Goeie nuus vir keelvol motoriste is dat die minister van vervoer, Fikile Mbalula, nou ook stappe aangekondig het om landwyd die agterstand met die hernuwing en nuwe uitreiking van bestuurderslisensies te help uitwis.

Mbalula en die uitvoerende hoof van die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) het die Themba-toetssentrum in Hammanskraal Woensdag onverwags besoek, ná toenemende woede van gefrustreerde motoriste oor die enorme agterstande op die aanlyn besprekingstelsel.

Fikile het ook erken daar is “uitdagings met korrupsie” landwyd en het onderneem om te verseker skuldiges ry aan die pen.

Die minister het aangekondig dat:

  • 70% van alle kapasiteit, menslike hulpbronne en toerusting by toetssentrums toegewys sal word aan die hantering van vervalde bestuurslisensies en professionele bestuurspermitte (PDP’s);
  • 70% van tydgleuwe op die aanlyn besprekingstelsel toegewys sal word aan vervalde bestuurslisensies en professionele bestuurspermitte;
  • twee satellietsentrums by die RTMC-kantoor in Centurion en Midrand geopen gaan word.

Fikile het gesê die daaglikse bedrywighede by toetssentrums sal voortaan fyn dopgehou en die beskikbaarheid van tydgleuwe deurlopend geëvalueer word.

Motoriste is nou al maande lank keelvol met die probleme by lisensiekantore.

Ure word ook verleng sodat sentrums mense van Maandag tot Sondag kan help.

Alle sentrums wat onder die Tshwane-metroraad val, sal vanaf Desember daagliks reeds 06:00 open.

Fikile het gesê die maatreëls sal geld tot die agterstande uitgewis is.

Die minister het motoriste om verskoning gevra vir die ongerief weens die onbeskikbaarheid van tydgleuwe en sê hy oorweeg ʼn verlenging van die geldigheid van bestuurderslisensies.

Motoriste word gevra om inligting oor bedrog en korrupsie by lisensietoetssentrums by 0861 400 800 aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Johan ·

So nou moet die belastingbetalers ( baie min) weer opdok vir die gemors van hulle, werk van maandag tot sondag lekker oortyd ne. Hulle gaan definitief ook nie probeer baie produktief wees nie want anders verloor ek oortyd betaling. Net een groot korrup spul.

Leana ·

Daar is sentrums wat vir baie lank nou al glad nie oop is nie. Soos Hopetown in die Noord-Kaap.

koos10 ·

Ou Frikkie, die “uitdagings met korupsie” is jy en jou eie ANC se gevolge. Iets verkeerd wat jy self begin het en nogsteeds doen in nie ‘n uitdaging nie. Ek sou reken julle grootste uitdaging is om julle agterente uit die tronk te probeer hou. Ons het nog nie van jou besoek aan die VSA en die Mayweather boksgeveg vergeet nie.

Vonkprop ·

Hoekom die verlenging oorweeg, DOEN DIT NET!!! Daar is mos nou ‘n gemors en dit gaan nie in die volgende week verdwyn nie. En wat betekening die verlenging, dat jou lisensie nou 10 jaar geldig is of net geldig is vir 6 maande na vervaldatum?

Adam Adriaan ·

Hierdie is net ‘n manier om geld te maak. Waarom moet ‘n lisensie hernu word? In die verlede(voor 1994) is lisensie nooit hernu nie. Het my lisens op 6 Nov 1966 gekry. Nog nooit ‘n ongeluk gemaak nie. ver oor 2 milj km gery. Wat is die verskil tussen jou trou lisensie en jou bestuurs lisensie?. In daardie geval ook jou wapen lisensie?

Misky ·

As hy/hulle weet daar is probleme met lisensies en die hengse agterstand, hoe kan daar daagliks nog boetes uitgereik? Belaglik man en mors jou en my tyd

Adam Adriaan ·

Lyk my as Mbalula en die ANC sy sin kry sal ‘n mens ook elke 5 jaar jou martiek eksamen moet herskryf, teen ‘n stywe bedrag geld.

Deon ·

Terwyl hy mense rond skuif om 70 % tyd aan die lisensies te spandeer wat word dan nou van die werk wat hulle ansersins sou doen? Of sit die ander net in elk geval rond en niks doen? Die raak nou n geval van “borrow from peter to pay paul”. Stop net dood eenvoudig die simpel idee van lisensie kaarte wat verval en al julle strooi is opgelos. Hulle sal wel n ander plek kry om daai geld op te maak. Ek wonder hoeveel die inkomste van hierdie onlogiese idee inbring vir die kadders.

Piet ·

Langer ure gaan nie help nie. Dit is wat jy gedurende daardie ure doen. Die prosesse is die probleem. By Brits is die proses as volg. As jy 6vm aankom sal jy omtrent Nr 80 in die tou wees. 8vm maak hulle die hek oop. As jy nie afspraak het nie neem hulle jou besonderhede en teen 10vm behoort jy te weet wanneer jou afspraak is.
Soms is hulle stelsel van lyn af, of daar is n kragonderbreking.
Soms het hulle nie papier of ink om dokumente te druk nie.
Praat van “overcomplicating the issue”.
Hoekom kan die lisensie nie uitgereik word op n *first come first serve basis” nie.

Nie Verbaas ·

Kry hulle net om doeltreffend te wees gedurende normale werksure mnr “you must sit down before you get in”. Wie gaan vir oortyd betaal en met watter geld?

Dup ·

Skud maar net jou kop en kyk noord.Wat is ñ sirkus sonder ñ paar narre.Hierdie belaglikheid gaan nooit stop nie.

Derek ·

Wanneer hulle moet werk dan sleep hulle voete. Maar wanneer daar gestrike word sal hulle heeldag in die warm son staan en dans soos in Kimberley. Ons moes Barkly Wes toe ry om gehelp te word, op ons koste. So word korrupsie maar net afgelag sedert 1997, alles is net challenges wat nooit opgelos word.

Cecilia ·

Hy moet bietjie Nelspruit kom besoek. 20 toonbanke vol mense en net 2 werk eintlik. D stelsel gaan gerieflikheidshalwe tussen 10 vm en 3 nm elke dag v lyn af. Jy staan buite in d bloedige Lawveld son v 7vm af in d rye net om nie eers gehelp te word nie!

Nico ·

Van wanneer af mag ‘n persoon met ‘n leerling lisensie alleen bestuur waar is die tyd toe met ‘n geldige bestuurs lisensie saam in die motor moet wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.