‘Mbalula moet publiek inlig oor Valke-diefstal’

Fikile Mbalula, minister van polisie (Foto: Elmond Jiyane, GCIS)

Die Demokratiese Alliansie het Sondag die polisieminister Fikile Mbalula versoek om inligting aan die publiek te verskaf oor die inbraak by die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) se hoofkantoor in Pretoria.

Rekenaars is tydens die inbraak in die vroeë oggendure op 5 Julie uit die kantoor gesteel.

“Die DA sal Francois Beukman, voorsitter van die polisie se palementêre portefeuljekomitee, skriftelik versoek dat Mbalula dringend besonderhede aan die komitee sal verskaf oor sake wat van nasionale belang is, en tot dusver nog nie na wense deur die minister aangespreek is nie,” het Zakhele Mbhele, woordvoerder van die DA, gesê. “Die minister moet, so gou as wat die parlement volgende maand hervat, die aanbieding doen.”

Die aanbieding moet spesifiek die vordering van die ondersoek insluit ná die inbraak en bewerings dat Israel Kgamanyane, voormalige waarnemende hoof van die onafhanklike polisieondersoek-direktoraat (Opod), geweier het om ʼn verslag in te dien oor sy termyn as hoof van Opod aan uitvoerende direkteur Robert McBride.

“Die minister moet ten volle verslag doen oor die vordering van die ondersoek. Tot dusver het die minister net tevergeefs onderneem om die oortreders in hegtenis te neem.

“Die minister moet ook die komitee inlig oor berigte wat beweer dat Kgamanyane geweier het om die verslag aan McBride te oorhandig om die ‘denkwyse te verstaan vir die verskeie oorplasings, skorsings en dissiplinêre stappe teen Opod-personeel’ terwyl McBride geskors was as hoof van Opod,” het Mbhele bygevoeg.

Die komitee het “direkte getuienis tydens ʼn onlangse vergadering ontvang oor sy weiering om die verslag te oorhandig, nadat hy vinnig en onverklaarbaar van Opod na die Valke oorgeskuif is deur die omstreke vorige polisieminister Nathi Nhleko”.

Mbhele het gesê dit is onaanvaarbaar dat Kgamanyane klaarblyklik toegelaat word om weg te kom met hierdie blatante minagting van die proses. “Mbalula moet die komitee inlig oor wat hy beplan om te doen oor Kgamanyane se weiering om die verslag aan McBride te oorhandig.

“Minister Mbalula moet duidelike en beslissende leierskap oor hierdie saak verskaf om bekwame bestuur in die polisiediens te kweek, wat meer doeltreffende wetstoepassing sal bevorder wat misdaad sal laat afneem en Suid-Afrikaners laat veilig voel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johann Marx ·

Hoe word daar by die Valke se “hoofkantoor” ingebreek? Uit die aard van die inligting wat daar gehou word, behoort dit te wemel van polisiemanne, sekuriteitspersoneel, wagte, ligte, sensors, honde, alarmstelsels en gewapende reaksiemagte nie waar nie? Maar op die nag van 5 Julie breek ‘n spul misdadigers die plek oop en vat wat hulle wil…en niemand verroer ‘n vinger nie? Die regering smeek die publiek amper elke dag om hulle eie eiendom te beveilig, en wakker te wees, en op te let, en saam te werk, en die SAPD te ondersteun, en die “oë en ore” te wees, en eiendomme toe te rus met sekuriteits-stelsels………..maar hulle eie kantore het niks daarvan nie?

Johan. H. ·

Inside jobs,, ek wed julle,,,Nou verwag ek niks beter meer nie,,

Stefaans ·

Ek hou van die “omstreke” vorige minister – klink nogal beskrywend

Justice ·

Daardie privaat sekuriteits maatskappy wat nagelaat het om die Valke se arme wagte te beskerm teen gemene, gevaarlike rowers wat na ure en laatnag in die Winter rondsluip moet summier afgedank en vervang word!

Swartkat ·

En nou ook diefstal by NVG – Wonder of Mabulja opgewasse is , ek dink sport het beter by hom gepas en die polisie is nie ‘ n sport nie maar ‘n groot grap en verleendheid. Die kwota rekenaars met belangrike inligting wat gesteel word is kommerwekkend maar seker deel van regstellende aksie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.