Mbalula reageer op bewerings oor vakansiegeld

Fikile Mbalula, minister van polisie (Foto: Elmond Jiyane, GCIS)

Fikile Mbalula, minister van polisie, het die bewerings dat Sedgars Sport einde verlede jaar R680 000 aan hom en sy gesin betaal het vir ʼn vakansie van ses nagte in die Atlantis-hotel in Dubai ten sterkste ontken.

Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het vroeër aan Maroela Media gesê indien die bewerings waar is, sou dit ʼn ernstige botsing van belange daarstel en moet Mbalula, wat toe die minister van sport was, dit erken en as minister van polisie bedank. Groenewald het gesê dit laat ruimte vir korrupsie, aangesien Sedgars Sport sake gedoen het en steeds doen met die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok). Hy het gesê dit kan ook die indruk wek dat die geld omkoopgeld was.

Mbalula het wel bevestig dat hy en sy gesin oorsee gereis het op daardie spesifieke datums, maar hy het die bewerings dat hy die geld ontvang het as “innuendo-joernalistiek” afgemaak. ʼn Verklaring van sy kantoor wat namens hom uitgereik is, sê Mbalula besef ook dat ʼn “leuen wat baie kere herhaal word, die waarheid word vir die publiek”.

“Die minister het nie ʼn borgskap ontvang vir die privaat gesinsreis nie. Daar is ook geen gratifikasies of geskenke ontvang nie. Wat lede-etiek betref, het die minister geen botsende belange wat die reis betref nie. Die minister en sy gesin is en was verantwoordelik vir die reis [wat betaal is] vanuit die gesin se finansiële hulpbronne waarvan die besonderhede heeltemal vertroulik is en beskerm word deur die beginsel van die reg op privaatheid,” lui die verklaring.

Mbalula sê die bewerings is ʼn “georkestreerde plan” om sy integriteit te ondermyn en hom en sy gesin doelbewus skade te berokken.

“Só ʼn privaat aktiwiteit [die vakansie] is beskermde inligting en boonop vertroulik. Joernaliste weet dit, maar dit word doelbewus geïgnoreer,” het hy gesê.

Die burgerregte-organisasie AfriForum het voor dié verklaring ’n skriftelike versoek gerig aan Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), om ’n ondersoek van stapel te stuur na die betaling.

Die verklaring vanuit sy kantoor

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Callie ·

Gaan kyk maar, almal, as hul ten sterkste ontken sal hulle binne n week n ander deuntjie sing en verklarings maak.

Johanna Botha ·

Hy se familie betaal …sal my familie nou 600K gee vir n toer deur Dubai …en hoekom gaan almal na Dubai …laat mens wonder ne ?

snoefie ·

dubai s peperduur. as n 500ml botteltjie water jou skuins oor R100 kos, dink wat sal n gesins ete jou kos.

John Samuel ·

BOG Storie snoefie!! Dit duidelik van iemand wat in sy lewe nog nie in Dubai was nie o_O
R4 koop jou n Dirham, en n 500ml bottel Coke of Pepsi is AED1 .50. 1L bottel water is tussen 2 en 4 AED. Moenie bydrae tot vals informasie nie.

Stef ·

Hoe kry jy dit reg om R680k in 6 dae te blaas in elk geval?)

Eish ·

Dalk ook n residensiële eiendompie naby die keiser aangeskaf vir die groot vlug.

Deon Meyer ·

As die verslaggewer van EWN dan verkeerd was en geen bronne vir die bewering gehad het nie sal die geagte Minister sekerlik sy regsopsies uitoefen.Daar is egter stilswye,so daar is ‘n rokie iewers.

Afrikaanse Knaap ·

Moenie versuim om te vra wie vir jy Mayweather uitstappie in die VSA in Las Vegas betaal het nie.
Ek sal jou sê, ek en jy.

Vermeende ·

N man wat baie praat lieg gewoonlik en n man wat baie hard verduidelik in gewoonlik skuldig, hy doen sommer altwee!

Leahim ·

Die ou se bynaam by baie Suid Afrikaners is nie verniet Pinoccio nie en dit het niks met sy kop te doen nie.

Ada ·

Die waarheid kom altyd uit!! Dan gaan hy ook seker bedank voor hy geroskam moet word en dan is ons ontslae van hom!!

Blits ·

Gelukkig weet almal hoe hy die waarheid verdraai om hom te pas, hy het geen idee van eerlik of wat waarheid beteken nie

johan ·

Hoe kry hy dit reg. Sy uitstappie na Mayweather se geveg teen Pacman in amerika en nou dubai…..kry die man dan soveel geld as salaris by ons belasting betalers?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.