Mbalula se raskwotas vir sportspanne is onwettig

Die minister van sport, Fikile Mbalula. Foto: GCIS

Die minister van sport, Fikile Mbalula. Foto: GCIS

Die vakbond Solidariteit het Dinsdag in ʼn brief aan Fikile Mbalula, minister van sport, gesê sy voorneme dat nasionale sportspanne binnekort ʼn kwota van 60% swart spelers moet bevat, is teen die Wet op Gelyke Indiensneming wat kwotas verbied.

Die media het Mbalula aangehaal wat gesê het dat sportspanne soos die Springbokke, die Proteas en Bafana Bafana verbied sal word om internasionaal deel te neem as hulle nie aan die kwota voldoen nie.

Johan Kruger, woordvoerder van Solidariteit, sê spelers wat kontrakte met unies en maatskappye het, is ongetwyfeld werknemers en die Wet op Gelyke Indiensneming is op hulle van toepassing. “Die Wet op Gelyke Indiensneming magtig numeriese teikens maar verbied spesifiek kwotas. Dít wat minister Mbalula voorstel en in soveel woorde as kwotas bestempel, is derhalwe ʼn onwettige manier om rassetransformasie te bewerkstellig. As vakbond het ons professionele sportlui as lede en daarom het ons die volste reg om hierdie vrae te vra en die wettigheid van die besluit te toets.”

Die vakbond het ook die amptelike notule van die vergadering waar die minister en die provinsiale LUR’e vir sport dié kwessie bespreek en besluit het om die 60%-kwota onmiddellik in werking te stel, versoek. “Indien die notule nie aan ons verskaf word nie, sal ons ʼn aansoek om toegang tot inligting bring ten einde die notule te bekom. Ons win reeds regsadvies in oor die moontlikhede om die besluit van die minister aan te veg.”

Kruger sê Mbalula se dreigemente dat die befondsing van sportspanne wat nie aan die kwotas voldoen nie onttrek sal word, is verregaande. “Daar is geen plek vir hierdie soort inmenging in beroepsport nie. Dit is ondenkbaar dat die minister van sport so ver sal gaan as om borgskappe teen te staan en internasionale deelname onder die vaandel van rassetransformasie te verbied.”

Klik hier om Solidariteit se brief te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johan Viljoen ·

As die sogenaamde agtergeblewendes na 20 jaar nog nie op standaard is nie, sal hulle nooit wees nie. Die mense se minderwaardigheids gevoel raak nou bietjie dik vir n daler. Maar nouja, hulle wou mos van die begin af net he en niks gee nie..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.