Mbalula verdedig kaderontplooiing

Fikile Mbalula, minister van vervoer. (Foto: GCIS)

Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC, het opnuut die party se kaderontplooiingsbeleid verdedig, ondanks die feit dat dit in die verlede deur hoofregter Raymond Zondo as “onwettig en ongrondwetlik” verklaar is.

Mbalula het na afloop van die vergadering van die ANC se nasionale werkkomitee (NWK) gesê die ANC doen bloot wat partye wêreldwyd doen en dit is “ontplooi strategiese mense wat die party se manifes uitvoer”.

Hy het ook aangevoer dat kaderontplooiing niks te doen het met enige “wangedrag” in staatsgeledere nie, maar eerder met “onbevoegde en korrupte amptenare” en ʼn algehele luiheid om “progressiewe beleid” in werking te stel.

Mbalula se woorde kom kort op die hakke van die ANC se appèlhof-aansoek om ʼn uitspraak van die hooggeregshof om te keer. Die uitspraak beveel die ANC om alle rekords met betrekking tot die party se kaderontplooiingskomitee aan die DA te oorhandig. Pres. Cyril Ramaphosa was die voorsitter van hierdie komitee tussen 2013 en 2017.

Dr. Leon Schreiber, die DA se woordvoerder oor staatsdiens en administrasie, sê die ANC se kaderontplooiingskomitee meng in by die aanstellingsprosesse van staatsdienswerkers “wat beteken die publiek het ʼn onvervreembare reg om te weet hoe hierdie korrupte komitee funksioneer”.

Hy sê die ANC se jongste aansoek is ʼn “paniekbevange poging” om die waarheid oor Ramaphosa se betrokkenheid by kaderontplooiingskorrupsie vir Suid-Afrikaners weg te steek.

“Dit is duidelik dat die ANC nou desperaat is om die waarheid oor kaderontplooiing weg te steek,” sê hy.

“As daar werklik niks onheilspellend aan hierdie praktyk was nie – soos die ANC graag beweer – hoekom is die party so desperaat om dit geheim te hou?

“Daar is net een logiese antwoord: Die rekords is verdoemend en sal onthul hoe die kaderontplooiingskomitee onder Ramaphosa se voorsitterskap onwettig by aanstellingsprosesse ingemeng het om die misdadigers aan te stel wat die staat gekaap het.”

Mbalula het egter Donderdag volgehou dat die ANC sy beleid oor kaderontplooiing sal verdedig.

“Hierdie verwronge idee dat die kaderontplooiingsbeleid ontwikkeling en sosiale transformasie kniehalter, is ʼn oordrywing en verdraaiing [van die waarheid],” het hy gesê.

“Die DA weet dit is ʼn verdraaiing [van die waarheid] … daarom het ons ons tot die hof gewend in verband met hierdie saak.”

Mbalula sê die DA pas self kaderontplooiing in die Wes-Kaap toe, maar noem dit net nie só nie.

Schreiber het egter onderneem om aan te hou “veg vir deursigtigheid en om die volle waarheid van die aandadigheid van Ramaphosa se kaderontplooiingskomitee aan staatskaping en korrupsie te openbaar”.

Zondo het vandeesweek opnuut gekap na die rompslomp om die kommissie na staatskaping se aanbevelings in werking te stel. Dit sluit in die vervolging van enige vermeende betrokkenes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Petra ·

Ja-nee, hy sal dit verdedig want hy was van die Fifa wêreldbeker se tyd af, al een van die aanstellings waar vrae gevra is.

SjN ·

Wat het geword van die saak met die R10 milj omkoopgeld tesame met ene Danny Jordan?

Oosieoos ·

Kan nie glo hy wys nog sy gesig nie. Moeilik om enige waarheid uit hom te kry en hy weet nie hy weet nie

Johann ·

Hoofnar in die sirkus. Absolute deperate show wat opgesit word om die kern korrupte krip vreters te beskerm.

Republikein in die Wes Kaap ·

Indien die ANC onttroon word moet nuwe regeerdes weet wie om almal af te dank. Sommer binne 60 minute.

Harley Davidson ·

Dit is waar die probleem inkom, gaan hulle die mag oorgee soos die NP gedoen het?

Kobus ·

Waarom so geheimsinnig? Dink nie die kader ontplooiing is as sulks die probleem nie, die probleem lê daarin dat dit baantjies vir boeties is en dat daar nie bevoegde amptenare aangestel is nie en dan natuurlik, teen watter salarisse?

Hendrik ·

Tragies om te dink dat hy een van die land se leiersfigure is wat ons toekoms bepaal. n Vervalle integriteitlose wat hd ewe integriteitlose misdaadsindikaat verdedig.

Republikein in die Wes Kaap ·

Een van die groot redes waarom ons is waar ons is.

Andrew ·

Wel, dit is waarvoor die meerderheid suid afrikaner in 92 voor gestem het.

Anna-marie ·

Presies, ons het hulle probeer waarsku maar hulle het gesê ons is verkramp. Het FW en sy wigte en teenwigte geglo.

Amelia ·

Wel die Wes kaap werk dinge beter nie al die probleme wat bv in gauteng is nie As als gewerk het sou niemand iets gese het nie As jul nie waarheid kan praat nie bly dan eerder stil as om jul name so te slaan met n plank anc

Di ·

Natuurlik sal die groot skelm sulke uitlatings maak. Die ANC BESIT nie die land nie, hulle doel is om die landsburgers te DIEN en ONS belastingbetalers betaal hulle salarisse

Jaco ·

Die beginsel van kaderontplooiing kom uit die ou SA, waar lekker jobs in die staatsdiens en in groot Afrikaner besighede soos Volkskas en Sanlam gereeld vir lede van die Afrikaner Broederbond gegee is. Selfs die moderature van die 3 Afrikaanse susterkerke was met Broederbonders gelaai…
Die Broederbond was die geheime “policy think tank” van die regerende Nasionale Party. Broeders het sleutelposisies gerkry om die Afrikanervolk te beïnvloed om áltyd vir die NP te stem; vandaar die baie Broeder-dominees en -skoolhoofde… Bekwaamheid en meriete is wel meestal darem ook in ag geneem, MAAR die beginsel is presies dieselfde as kaderontplooiing: lekker jobs vir jou politieke pêlle.
Terloops, ek weet ook maar van ‘n hele paar gevalle waar Broeders NIE die beste aanstellings was nie.
Maar ja, “hulle” van vandag het eintlik by “ons” van die verlede die beginsel van kaderontplooiing geleer.

Republikein in die Wes Kaap ·

Bekwaamheid is darem nie ingeboet nie. In gevalle waar ‘n droogmaker aangestel is in ‘n senior posisie was die strukture op laer vlakke baie stewig. Die werk is steeds goed gedoen. Vandag val die pap vinnig deur al die vlakke tot op die grond. Geen veiligheidsnet.

Tikkel Tokkel Jimpels Gogga ·

En verkeerd maak ñ ander verkeerd reg, ja right!

My siening ·

Mbalula, you know Zondo said it wrong and you are one of the corrupt kaders in a position you not deserve as you stole taxpayers money to holiday and more! So hou jou mond toe, want jy praat twak!

Papsak ·

Ja vir jou is dit reg om familie en vriende aan te stel wat van ander mense wat nie werk het of kry nie mmmmm kom se my jy psteties

Wit Leeu ·

Benoude katte maak benoude spronge…………………………….

LANA is ELANè ·

Grap van die jaar uit die hoofnar van die ANC se mond, die mense onder hierdie klomp kyk maar net op na hulle en doen dan presies dieselfde in hulle eie sg “domain” soos in die geval vd verkeerspolisie wat mense in TSHWANE terorriseer vir geld in kamtige padblokkades! ALMAL MOET MOS TOG EET…

skurweberg ·

Indien kaderontplooiing wel plaasvind kies jy tog diegene wat die nodige kwalifikasie het.

Jacobus ·

Sê sy edele Min Fix Bokkerall: seker die beste voorbeeld van die klaaglike mislukking van die beleid. Sy rekord van vernietiging van staats bates is eiesoortig!

Tikkel Tokkel Jimpels Gogga ·

Gaap….ag asb. tog agbare minister, natuurlik sal jy dit verdedig dis dan ANC beleid en tot voordeel van julle en jul party. Of dit nou eties en moreel verkeerd is, is nie ter sprake nie en of dit tot nadeel strek van ons land, is mos nie belangrik nie, solank dit net julle belange dien, is dit okei, né?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.