Mbalula vol vertroue in span wat BLO-ongeluk moet ondersoek

Een van die wrakstukke van die Cessna wat na die ongeluk gevind is. (Foto: Facebook)

Die minister van vervoer het weereens die onderneming gegee dat die ondersoek na die vliegongeluk wat die lewens van drie amptenare van die Burgerlugvaarowerheid (BLO) geëis het, onafhanklik sal wees.

Die Cessna Citation S550 S/II van die BLO het verlede Donderdag by die George-lughawe opgestyg en minute later van die radar af verdwyn. Die wrak met drie bemanningslede aan boord is ure later in die omgewing van die Robinson-pas tussen Mosselbaai en Oudtshoorn gevind.

Kapt. Thabiso Collins Tolo (49), eerste offisier Tebogo Caroline Lekalakala (33) en vluginspekteur Gugu Comfort Mnguni (36) was besig met kalibrasiewerk vir die lughawe toe die vliegtuig neergestort het. Al drie het in die vliegongeluk omgekom.

Mbalula het Vrydag gesê hy het met kommer kennis geneem van berigte wat die onafhanklikheid van die ondersoekspan bevraagteken. Hy sê die afdeling wat ongelukke of voorvalle ondersoek, is verantwoordbaar aan sy departement en nié aan die BLO nie.

Eerste offisier Tebogo Caroline Lekalakala (33) is een van drie mense wat in die ongeluk omgekom het. (Foto: BLO)

“Die berigte en kommentaar wat tot dusver kop uitgesteek het, is misleidend en word ooglopend gedoen om die werk van ʼn uiters bevoegde ondersoekspan te probeer ondermyn en hulle onafhanklikheid en geloofwaardigheid in twyfel te probeer trek, terwyl hulle besig is met ʼn bitter moeilike taak,” het hy gesê.

“Ek wil die publiek en die lugvaartgemeenskap verseker dat die ondersoek nie op enige manier in die gedrang gebring sal word nie en dat ons dit aan die treurende families én die publiek verskuldig is om die ware feite van wat tot die tragiese ongeluk kon gelei het, te bepaal.”

Mbalula het gesê Suid-Afrika se lugvaartveiligheid word hoog aangeskryf en voldoen aan alle internasionale standaarde.

Dit is die eerste keer in die land se geskiedenis dat ʼn vliegtuig van die BLO neerstort. Mbalula sê die ondersoekspan het hom in die verlede nog net uitstekend van sy taak gekwyt en dat daar geen rede is om nou aan hulle onafhanklikheid en bevoegdheid te twyfel nie.

Vluginspekteur Gugu Mnguni. (Foto: BLO)

Verskeie ander lande word boonop by die ondersoek na die voorval betrek. Verteenwoordigers van die lande waar die vliegtuig ontwerp en vervaardig is, asook die enjinvervaardiger, neem deel.

Die regering is besig met die afhandeling van die wetsontwerp wat die onafhanklikheid van die ondersoekeenheid selfs verder sal versterk.

“Ek doen ʼn beroep op alle belanghebbendes om bespiegeling te vermy en die ondersoekspan te vertrou om uit te vind wat tot die tragedie gelei het,” het Mbalula gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Ou Baardbek ·

Daardie voëltjie is nie ‘n “hangvlieër” nie hoor! Dinge gebeur vining, en dalk, net dalk, is dit nie die beste keuse vir die waarskynlik manuvreerwerk wat dalk vereis mag word tydens kalibrasie/ondersoek van navigasie hulpmiddels nie? Verbeel my dat ek êrens ook kommentaar gesien het dat die weerstoestande nie ideall was die dag nie? Die beweerde vliegure van die hoofvlieënier word nie binne ‘n week of twee bymakaar gemaak nie, natuurlik mits dit as “gesagvoerder” bymekaar gemaak is? Indien bloot as “mede vlieënier” is dit ‘n ander saak, maar daar was klaarblyklik nogtans aansienlike ervaring aanboord. As lugvaart betrokkene onstel alle en enige “voorval” steeds!

Realis Thailand ·

Dit was sekerlik weer onbekwame memse wie die ongeluk veroorsaak het
Dis maar die nuwe sa

Niklaas ·

Waarom is die agbare minister nou so betrokke ?Asof daardie bemanningslede se vermoens onder verdenking is. Hulle was sekerlik goed opgelei.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.