Mbalula was glo ontsteld oor Guptas-aanstelling

Siphiwe Nyanda, voormalige minister van kommunikasie by die Zondo-kommissie (Foto: Karen Sandison/African News Agency/ANA)

Siphiwe Nyanda, voormalige kabinetminister, het Donderdag aan die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping gesê Fikile Mbalula is reeds in 2010 in kennis gestel deur die Guptas oor sy voornemende aanstelling as minister van sport.

Voormalige kabinetminister Trevor Manuel het vroeër in die dag aan die kommissie gesê Mbalula het in Augustus 2011 ʼn emosionele bekentenis gemaak tydens ʼn vergadering van die ANC se uitvoerende komitee, dat die Guptas hom na hul Saxonwold-huis ontbied het om hom geluk te wens met sy bevordering.

Mbalula, wat in daardie stadium adjunkminister van polisie was, is glo deur die Guptas in kennis gestel oor die besluit dat hy na die kabinet bevorder sou word nog voor oudpres. Jacob Zuma hom amptelik in kennis kon stel.

Nyanda het aan die Zondo-kommissie gesê dit wou voorkom of Mbalula nie gelate wou aanvaar dat nuus van só ernstige aard aan hom oorgedra word deur mense buite die regering nie.

Nyanda het ook gesê Mbalula se bekentenis was ʼn direkte bewering teen die president van die ANC wat die vergadering saam met 80 ander NUK-lede bygewoon het.

“Mbalula het dié onthulling gemaak en ek dink dit was kritiek op die manier hoe hy in kennis gestel is van die beoogde aanstelling en hy was ontsteld daaroor. Hy het gesê hulle het hom laat weet hy sal minister word, en daarna is hy as minister aangestel.

“Ek dink hy het dit gedoen omdat hy ontsteld was dat mense, wat geen belang gehad het om te weet dat hy ʼn minister sou word nie, hom genader het. Ons was uiteraard besorg, en die beamptes moes ook besorg gewees het. Ek weet nie of hulle dit bespreek en hoe hulle dit hanteer het nie.”

Nyanda het gesê die saak is nooit in die ANC-strukture bespreek ná die NUK-vergadering nie. Hy kan nie onthou hoe Zuma reageer het op Mbalula se aantygings nie.

Nyanda, wat in daardie stadium die minister van kommunikasie was, het gesê Mbalula se bekentenis was vir hom ʼn bevestiging van die gerugte wat in daardie stadium die ronde gedoen het dat die Gupta-familie ʼn groot invloed het in die regering en dat dit ook tot sy afdanking gelei het.

Nyanda is kort ná Mbalula se aanstelling afgedank tydens een van Zuma se grootste kabinetskommelings teen die einde van Oktober 2010.

“Ek is afgedank toe Mbalula aangestel is,” het hy gesê. “Ek glo ek was nie die enigste een wat vermoedens gehad het nie. Ek het fluisteringe gehoor dat ek moontlik uit my amp verwyder sou word. Ek het my eie vermoedens hoekom ek uit die kabinet afgedank is. Ek het selfs probeer om met ANC-beamptes en die president te gesels, maar ek het nie ʼn antwoord gekry nie.”

Manuel het getuig die kabinetskommeling het ten doel gehad om oortollige ministers te vervang met ministers wat bereid sou wees om die Gupta-familie se sakebelange te bevorder.

Nyanda is met Dina Pule vervang.

Die ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Waarheid1 ·

Korrup tot in die core.Lekker gewees met die Sokker wereldbeker in 2010 ou Frikkie!!!!

Dries du Toit ·

Die feit is . Hy is minister gemaak omdat daar n doel was wat hy sou moes vervul. Hy is deur die Guptas aangestel nie om dowe neute nie. Hy het later toe Zuma die Wantroue mosies oorleef het baie duidelik gewys hy is n heftige ondersteuner en met luide toejuiging Zuma soos n wafferse Impi besing. Hy moes geweet het hoekom hy minister geword het

Sarel ·

En wat is daaromtrent gedoen? Dus was dit ANC beleid dat niks bevraagteken mag word nie. Die ANC in totaliteit staan dus aanspreeklik gehou te word.

Anita ·

Ek is so moeg vir die Guptas en dit lyk nie of daar enige iets gedoen gaan word om hulle aan die pen te laat ry nie.

ne ·

Zuptas is “untouchable” Seker omdat jz te dom was om self besluite te neem, onthou net laerskool opleiding en dan word jy president.

Josua Keys ·

Ek hoop die 80 lede wat die vergadering en aankondigging bygewoon het word ook by die kommisie betrek, hoeveel van die huidige ministers tans in die ANC het op dieselfde wyse hul poste gekry en word stil gehou, hier is baie meer agter die storie as wat ons besef, die vraag is wat will hulle beryk, die ANC doen in elk geval niks aan die korripsie nie, by “regte” moes die hele ANC “click” al reeds toegesluit gewees het asook van die EFF tot hulle onskuld bewys kan word. Tipies Suid Afrika !!!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.