Mbete sê binnekort oor geheime stemming

Baleka Mbete

Speaker Baleka Mbete. Foto: AP Photo/Denis Farrell

Baleka Mbete, speaker van die nasionale vergadering, sal Maandag haar besluit bekend maak of die mosie van wantroue teen pres. Jacob Zuma Dinsdag met ʼn geheime stemming beslis sal word of nie.

Die wetgewer het in ʼn kort verklaring gesê Mbete sal die aankondiging om 15:30 tydens ʼn mediakonferensie by die parlement maak.

Die DA het die eerste versoek vir die mosie op 30 Maart vanjaar ingedien en die mosie sou aanvanklik op 18 April gedebatteer word. Die mosie is egter op ys geplaas nadat die United Democratic Movement (UDM) en die EFF ʼn aansoek voor die konstitusionele hof ingedien het om te versoek dat die mosie met ʼn geheime stemming beslis word.

Die konstitusionele hof het op 22 Junie bevind dat Mbete verkeerd was toe sy gesê het sy is nie by magte om te besluit oor die geheime stemming nie. Die hof het beslis dat Mbete nou weer ’n besluit moet neem op grond van die uitspraak. Hoofregter Mogoeng Mogoeng het gesê daar is geen regsgronde waarvolgens die hof die speaker kan dwing om op ’n geheime stemming te besluit nie.

Mbete het daarna al die partye in die nasionale vergadering genooi om voorleggings aan haar te maak rakende hul siening oor die stemproses en het gesê sy sal hul insette in ag neem wanneer sy haar besluit neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kaspaas ·

Die mosie is more en sy maak haar besluit van middag bekend. Kom nou dis so duidelik soos daglig wat gaan gebeur. Sy gaan die geheime stemming afkeur wat die ander partye amper geen tyd gaan toelaat om terug hoef toe te gaan nie soos hulle gese het hulle sou. Dan gaan die mosie weer uitgestel word tot seker iewers in Sept en ons begin weer.

Wens daar was n Superbru op die ek sou baie beter gevaar het as met die rugby.

Justice ·

Ek verstaan dat indien Zuma uitgeskop word is Mbete die tydelike President van Suid Afrika vir `n paar maande totdat `n nuwe President verkies word – ek hoop werklik dat ek verkeerd gehoor het en dat dit net `n nare droom was.

Scalla ·

Vertragingstaktiek, almal van hulle wil tog so belangrik wees as daar n mikrofoon voor hulle is.

JoeV ·

Mens wonder wat die waarde van die aankondiging nou eintlik sal hou? As iemand weet die “verkeerde” aankondiging sal in onmiddelike ontslag uitloop glo ek nie die aankondiging sal in die land se belang wees nie. Ons is nog nie so ver ontwikkel nie, onwikkel maar nog so rukkie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.