Mbete sê oor genomineerdes vir ANC-konferensie

Baleka Mbete en Sihle Zikalala tydens die KwaZlu-Natalse PGC (4 Desember 2017) Foto: ANA

Baleka Mbete, voorsitter van die ANC en wat haar oog op die presidentskap het, het Maandag aan afgevaardigdes in KwaZulu-Natal gesê hulle moet nie hulself of die regerende party verkleineer by die eersdaagse nasionale konferensie nie.

“Ons moet fokus op dié dinge wat die meeste beteken vir ons mense, soos die kwessies wat die armes raak. Hierdie dinge beteken die meeste vir die ANC. Ons sal nie mekaar aan die keel gryp nie,” het sy gesê, onder luide toejuiging van die skare.

Mbete het die openingstoespraak gelewer tydens die ANC se twee dag lange vergadering van die provinsiale algemene raad (PGC) in KwaZulu-Natal. Dit dien as voorloper voor die nasionale konferensie van die ANC wat oor twee weke by Nasrec in Johannesburg plaasvind. Die PGC sal hul aanbevole kandidaat aankondig wat die leisels by ANC-leier pres. Jacob Zuma kan oorneem.

KwaZulu-Natal en Limpopo is die enigste provinsies wat nog hul aanbevole kandidate moet aankondig. Die Limpopo PGC het ook Maandag begin.

Mbete het gesê alhoewel die nuwe leierskap die kollig steel in die media en by analiste, is dit maar net een aspek van die 54ste konferensie.

“Die nominasie van kandidate is ʼn item op die agenda, maar dit is net een item. Ons prioriteit is om te reageer op die behoeftes van ons mense. Ons moet fokus op die behoeftes van ons mense en wat ons takke wil hê; die taklede bly onder ons mense,” het sy gesê.

Sy het ook verwys na die sogenaamde “laaste Avondmaal”, toe alle presidensiële kandidate van die ANC verlede week saam met pres. Jacob Zuma geëet het. “Die laaste Avondmaal, soos dit genoem is, was konstruktief en genesend. Dit het gevoel soos ʼn uitgebreide familiebyeenkoms en iets wat ek al vir lank nie meer gevoel het nie, die gevoel van heel wees, het na my teruggekom.”

Sy het gesê daar was ʼn ontspanne, genesende luim en kameraadskap tydens die ete. Daar is ook ʼn gesamentlike besluit geneem om nie enige klere aan te trek wat afgevaardigdes se voorkeur vir kandidate sou uitbeeld nie en geen verdelende liedjies is gesing nie.

“Ons het provinsiale leiers gevra om hulself daartoe te verbind om hul provinsies by die konferensie te lei op ʼn gedissiplineerde en konstruktiewe manier. Alles by die konferensie moet die waardes van die ANC weerspieël,” het sy gesê.

Sy het die lede van die ANC daaraan herinner dat die party groter is as net een persoon of provinsie. “Die ANC is groter as ons almal saam en elkeen van ons afsonderlik, groter as al die provinsies saam of op hul eie, groter as die Desember-konferensie. Die ANC moet triomfantlik wees, ondanks die konferensie,” het sy gesê.

Mbete het bygevoeg sy sal steeds die wenners ondersteun, selfs al wen sy nie een van die nominasies vir die topses posisies nie, omdat dit haar verantwoordelikheid is as ʼn ANC-kader. “Jy moet oortuig wees in dit wat jy vir die ANC kan gee, en daaraan vashou tot die demokratiese proses by die kongres, en dan moet jy aanvaar wat gebeur en sê, ‘die mense het gepraat’.

“Dis oukei om te glo in wie jy ook al glo, maar jy moet nie negatief wees teenoor enigiemand anders wat ook ʼn reg het om gekies te word nie.

“Die hele wêreld kyk vir ons, want die ANC lewer ʼn beduidende bydrae tot die kontinent en die wêreld.”

Adj.pres. Cyril Ramaphosa is tans die voorloper met 1 305 nominasies, met Nkosazana Dlamini-Zuma op 987, alhoewel die getal vir die voormalige voorsitter van die Afrika-Unie die sogenaamde “eenheidsnominasies” van Mpumalanga insluit.

KwaZulu-Natal sal na verwagting Dlamini-Zuma nomineer.

Die PGC sal ook die provinsie se gereedheid, om die konferensie aan te bied, bespreek, nuwe nasionale leierskapsposisies bevestig, ANC-beleidsbesluite oorweeg en perspektiewe oor grondonteiening sonder vergoeding, radikale ekonomiese transformasie, party-eenheid, en die nasionale verkiesing in 2019 onder die loep neem.

Meer as 700 afgevaardigdes van ANC-takke oor die provinsie heen woon die konferensie by.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.