Mbete steun nou vir Ramaphosa

Baleka Mbete, uitgaande voorsitter van die ANC, begin amptelik die verrigtinge. Foto: ANA/Getrude Makhafola

Baleka Mbete, die ANC se nasionale voorsitter, het Saterdag gesê sy steun adj.pres. Cyril Ramaphosa om by pres. Jacob Zuma oor te neem as president van die regerende party.

“Ek steun kameraad Cyril Ramaphosa openlik. Ons het gepraat en ons stem saam oor hoe om die kwessies rondom eenheid in die organisasie aan te pak, spesifiek in die aanloop tot [die nasionale algemene verkiesings in] 2019,” het sy aan joernaliste by Nasrec in Johannesburg gesê waar die ANC se 54ste nasionale konferensie plaasvind.

“Ons moet nie klein dink oor wat ons hier [by die konferensie] kom doen nie. ʼn Groot deel van wat ons kom doen, is om te kyk hoe ons Suid-Afrikaners kan mobiliseer, hoe ons onsself kan organiseer en herorganiseer sodat ons hulle beter kan dien en dat ons tegelyk verseker dat ons ʼn oorwinning in die 2019-verkiesing het.”

In die onderhoud wat op SAUK uitgesaai is, het Mbete gesê dit is belangrik om nie net na die huidige omstandighede te kyk nie, maar ook om die toekoms te oorweeg, omdat die ANC ʼn “breër verantwoordelikheid” teenoor die mense het.

Hierdie jaar se konferensie het wyd belangstelling gelok nadat sewe ANC-leiers aangedui het hulle ding mee om die party se top-posisie. Mbete was een van die sewe saam met Ramaphosa. Die ander is Zweli Mkhize, tesourier-generaal, en hul mede-lede van die nasionale uitvoerende komitee (NUK), Nkosazana Dlamini-Zuma, Lindiwe Sisulu, Jeff Radebe en Matthews Phosa.

Dlamini-Zuma en Ramaphosa is egter loshande die voorlopers in die stryd om president.

Op ʼn vraag aan Mbete hoekom sy Ramaphosa steun en nie vir Dlamini-Zuma nie, het Mbete geantwoord: “Omdat ons al baie lank saamwerk en heelwat meer saamstem oor die uitdagings wat die beweging en Suid-Afrika in die gesig staar.”

Sy het erken sy het nooit ʼn indringende gesprek met Dlamini-Zuma gehad nie. “Inteendeel, daar was nooit regtig geleentheid daarvoor nie.”

Mbete het gesê sy is nie bang vir die moontlike kritiek wat mag spruit uit haar besluit om vir Ramaphosa en nie ʼn vrou te steun vir die top-posisie van die party nie. Sy het gesê elke kandidaat is by die konferensie as ʼn individu en sy is seker hulle sal almal saamwerk.

Op ʼn vraag oor Ramaphosa se kanse om verkies te word, het Mbete gesê “dit lyk positief” en dat sy dink “eenheid is noodsaaklik” by die konferensie. “Daarom gaan hierdie gedeeltelik ook oor eenheid, sodat ons nie oor eenheid praat maar dit het geen betekenis nie. Ons moet prakties oor eenheid praat wat ons iets meer tasbaars sal gee.”

Die afgevaardigdes sal stem vir hul verkose ses top-leiers en lede van die NUK. Die konferensie sal ook bestaande beleid ondersoek en oor nuwe beleid besluit in aanloop tot die 2019- algemene verkiesing.

Saterdag het die ANC die omstrede kwessie rondom die geldigheid van stemgeregtigdes uitgestel tot Sondag nadat die NUK besluit het om sommige afgevaardigdes uit te sluit van die stemmery by die konferensie.

Die konferensie is vir minstens agt uur vertraag nadat die NUK besluit het om ʼn onbeplande vergadering te hou om die omstrede hofuitsprake van Vrydag te bespreek. Die NUK het besluit alle strukture wat nietig verklaar is, sal nie afgevaardigdes by die konferensie hê nie, en die takke wat ongeldig verklaar is, sal nie by die konferensie kan stem nie. Afgevaardigdes van dié strukture word wel toegelaat om by die konferensie aan te bly, maar net as waarnemers, en sal nie toegelaat word om oor enige van die aangeleenthede by die konferensie te stem nie.

Dit het gelei tot verdere ontevredenheid rondom die geldigheid van stemgeregtiges wat eers vanoggend uitgestryk sal moet word. Die registrasieproses van afgevaardigdes het ook nie so vlot verloop soos beplan nie en is eers Saterdag teen 14:00 afgehandel.

Die tweede dag van die konferensie begin vandag met ʼn sakeontbyt. Afgevaardigdes moet om 09:00 by die konferensiesaal aanmeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Stephen Namibia ·

Ongelooflik hoe hierdie mense hulle politieke lojaliteit oornag verander.
Politieke verkleurmannetjies en jaag net die betaalmeester.

Adam ·

Inderdaad en nou is Dlamini van oordeel dat staatskaping vergewe moet word soos wat apartheid vergewe is. Dit sal interressant wees on te sien of sy ‘n “ekonomiese” Waarheids-en Versoenings Kommissie aanbeveel en dat die ou staaskapings- koeie na meer as 20 jaar daagliks uit die slote gegrawe word soos die geval met die ou apartheidskoeie is. Ek is eerlik van oordeel dat sy nie sonder mediese toesig op straat toegelaat behoort te word nie.

Casper Labuschagne ·

Verkeerd, wat hier ter sprake is nie ‘n joppie of not ‘n tjoppie of ‘n geldjie onder die tafel nie, dit is die lisensie om Suid Afrika grootskaals na hartelus te plunder sonder hoegenaamd enige sanksie.

DieAntieSusan ·

Ek dink die oordrag – vanaf BEELD na MaroelaMedia – is nou kompleet.

Casper Labuschagne ·

Na berig word sal 4,776 afgevaardiges stem vir die nuwe partyleier, ‘n stap wat of vir SA dadelik in die afgrond kan laat intuimel, of ‘n meer langsame proses na die afgrond toe. Jy en ek, ons demokrasie, ons parlement, niemand het deel hieraan nie, behalwe die afgevaardiges na die partykongres. Dit is die slegste moontlike uitkom vir Suid Afrika, suiwer Stalinisme.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.