‘Mbete terug om Zuma te beskerm’

Pres. Jacob Zuma en speaker Baleka Mbete op 12 Februarie 2015 by die parlement in Kaapstad Foto: Elmond Jiyane, departement van kommunikasie

Mmusi Maimane, leier van die DA, het Sondag na Baleka Mbete, speaker van die parlement, gekap deur te sê sy het haar besoek aan Bangladesj kortgeknip om opdragte van pres. Jacob Zuma te ontvang oor hoe die beste manier sal wees om hom te beskerm.

“Dit waarvoor sy vra, is opdragte en rigtingaanwysing van Jacob Zuma,” het Maimane aan joernaliste in Kaapstad gesê.

Mbete het Sondag tydens ʼn mediakonferensie by die OR Tambo-lughawe in Johannesburg gesê sy het vroeër na Suid-Afrika teruggekeer as beplan nadat sy versoeke van die DA en die EFF ontvang het dat die parlement, wat tans in reses is, herroep moet word om oor ʼn mosie van wantroue in Zuma te debatteer. Sy het gesê sy sal die versoeke in die komende paar dae “behoorlik oorweeg”.

Mbete het ook gesê sy sal vandag met die ANC se topses vergader en Dinsdag met die leier van regeringsake, adjunkpres. Cyril Ramaphosa.

Mbete se vroeë terugkeer uit Bangladesj, asook die openlike teenstand teen Zuma se omstrede kabinetskommeling vanaf diegene soos Ramaphosa, Gwede Mantashe, die ANC se sekretraris-generaal, en Zweli Mkhize, die ANC se tesourier-generaal, het vrae laat ontstaan of die president op hul ondersteuning kan staatmaak in die nou bitterlik verdeelde nasionale uitvoerende komitee (NUK) van die party.

Maimane het gesê dit is duidelik dat Zuma wel op die ondersteuning van die NUK kan staatmaak. “Natuurlik is [Mbete] bevooroordeeld teenoor Zuma; sy sal die president beskerm,” het hy gesê. Maimane het tydens ʼn mediakonferensie gepraat om die DA se besluit oor dissiplinêre aanklagte teen die Wes-Kaapse premier, Helen Zille, aan te kondig, maar die konferensie is vertraag omdat Maimane eers ʼn regstreekse uitsending van Mbete se mediakonferensie wou kyk.

Maimane het gesê die tyd het gekom vir Suid-Afrikaners uit alle oorde om kragte saam te snoer om Zuma uit die kussings te lig, maar het beklemtoon die veldtog moet nie net teen Zuma gemik wees nie, maar ook teen sy bondgenote in die party. “Hy is nie ʼn uitsondering in die ANC nie. Hy is deel van die geheel en selfs Baleka Mbete is deel van die geheel.”

Die DA is oortuig ANC-LP’s sal uiteindelik hul geledere in die party verbreek om te stem vir Zuma om uit sy pos verwyder te word. Van die LP’s het hom reeds gekontak om hom te verseker van hul ondersteuning, het hy gesê.

Dit sal die vyfde keer wees wat die amptelike opposisieparty ʼn mosie van wantroue teen Zuma instel. Die ANC-meerderheid het nog altyd met gemak teen die mosie gestem. Maimane het gesê die opposisie sal nie aandring op ʼn geheime stemming nie, omdat die tyd gekom het vir lede van die ANC wat nie vir Zuma ondersteun nie om openlik teen hom standpunt in te neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
MCS

Seeing is believing. But I am childlike optimistic.

Ada

Sy net soos z se ander maatjies beteken niks. Sy is net ‘n pion.

snoefie

talk is cheap. money buys the whiskey. openlik standpunt inneem? nee hulle sal eerder jag maak op die waaragtige twak wat zille en ander blankes op sosiale media maak.

John

Mmusi glo hy het nie meer raad nodig nie en praat namens die res. Hy is ‘n wilde kaart. Mens kan ook nie twee here dien nie. Hy dons alles op met sy pratery. Die VF+ moet hom duidelik distansieer van die man wat eers skree en dan miskien… miskien… dink.

Dirk

Dit verstom my dat ons land so gyselaar gehou kan word deur ‘n korrupte president en ‘n skatryk familie. Dat die meerderheid van die ANC lede sal kies om korrupsie te laat seëvier. Daar is iets meer agter hierdie tendens. Moenie vergeet dat Pravin NIE teen Zuma gestem het tydens die laaste mosie van wantroue in die parlement nie. Dis belangrik om dit te onthou. Hoe is dit moontlik dat ‘n eenvoudige skaapwagter so ‘n hou vas kan hê oor iemand soos Pravin Gordhan? Ek moet net aanneem dat almal korrup is. Sommige net meer as ander en ons Suid… Lees meer »