Mboweni gaan nie ‘noodmagte’ vir SAL-finansiering gebruik

(Argieffoto: ANA)

Die minister van finansies, Tito Mboweni, sê in hofstukke hy het geen besluit geneem om sogenaamde noodmagte te gebruik om geld uit die Nasionale Reserwefonds beskikbaar te stel om die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se sakereddingsplan te finansier nie.

Mboweni het gereageer op ʼn dringende hofaansoek van die DA en benadruk in sy beëdigde verklaring dat hy nie die tesourie verbind het tot die R10,1 miljard wat dringend benodig word om die lugredery te red nie. Die verbintenis is om finansiering by ander bronne te vind.

“Die bewoording van die brief is noemenswaardig. Die regering het hom nie verbind tot die finansiering van die vereistes van die sakeplan nie, maar het hom verbind tot die mobilisering van finansiering vir die korttermyn-, mediumtermyn- en langtermynbehoeftes om ʼn lewensvatbare en volhoubare nuwe Suid-Afrikaanse lugdiens op die been te bring,” het Mboweni gesê.

Die DA het die hooggeregshof vroeër genader om te vra vir ʼn hofbevel wat Mboweni verbied om artikel 16 van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur te gebruik om die SAL se afleggings en die hervat van vlugte te finansier. Artikel 16 van die wet laat die minister toe om noodfinansiering vir onvoorsiene omstandighede te gebruik.

Mboweni sê die DA het onder die verkeerde indruk opgetree en voer aan die aansoek is dus ook nie dringend nie.

“Geen sodanige besluit is geneem nie en ʼn besluit gaan ook nie binnekort geneem word nie.”

Mboweni het gesê die regering het nog nie besluit hoe die redery gefinansier gaan word nie, maar oorweeg verskeie opsies. Moontlikhede sluit in dat die regering ʼn gedeeltelike aandeelhouer van die lugdiens bly en private vennote vir die res van die finansiering vind.

Mboweni het ook geantwoord op die gebruik van pensioengeld om die nasionale lugdiens te hervorm.

“Instellings kan genader word vir die belegging van pensioenfondse,” het hy in die hofstukke gesê.

Die DA se woordvoerder oor finansies, Geordin Hill-Lewis, het gesê die party het intussen besluit om sy aansoek van die dringende hofrol te onttrek, gegewe die minister se onderneming dat hy hom nie op artikel 16 sal beroep nie.

“Ons behou steeds ons aansoek op die gewone hofrol om die minister, indien nodig, in die toekoms te verhoed om artikel 16 van die wet vir dieselfde doel te gebruik.”

Die artikel is vantevore deur die destydse minister van finansies, Malusi Gigaba, gebruik om R3 miljard aan die SAL te voorsien.

Die redery het die afgelope dekade miljarde rande verloor.

Mboweni het vantevore openlik gesê hy is ten gunste daarvan dat die redery gesluit word, maar die kabinet het sy steun gegee aan ʼn sakereddingsplan wat die redery se krediteure ook verlede week aanvaar het.

Dié plan gaan onder meer lei tot die aflegging van 2 700 van die SAL se werkers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Jack ·

‘n Mens kan in elk geval nie glo wat politici sê nie.

Hy het nog nie besluit nie maar hy mag dalk more besluit. Hy het hom nog nie verbind nie maar hy mag dit dalk volgende week doen, veral as hy nie alternatiewe befondsing kan vind nie.

JohanR ·

My gooiste DA! Julle moet nooit ‘n saak terugtrek met die ANC nie. Hulle sal nou vir jou iets se, en die oomblik dat jou rig gedraai is gaan die panga diep in.

Kokerboom ·

Weereens toon DA geen ruggraat en reageer uiters naief om wat ANC kaders voorle vir soetkoek op te eet.. My magtig man leer jul nooit! Mboweni se antwoord is uiters vaag en ontwykend en hy lewer GEEN waarborge dat hul nie anders gaan optree. Sou hul(ANC ) voortgaan en die beoggde lugdiens flop MOET die betrokke ministers asook betrokke ANC lede asook vakbonde letterlik aanspreeklik gehou kan word! OP SKRIF!!!

gatgogga ·

Die hele SAA debakel is te kostelik vir woorde.
Vir hoeveel jare nou al is die ANC gewaarsku dat SAA nie gered kan word nie – maar die ANC het aangehou en miljarde rande ingepomp, wat nou duidelik verkwis was. Nou gee die ANC toe dat SAA tot niet gemaak word.
Maar hier kom hulle kostelike logika weer na vore: ons moet nou weer ‘n lugredery begin, maar met ‘n nuwe naam! Dan sal mos beter werk!
En waar gaan die geld vandaan kom? Niemand weet nie, maar ons weet wel waar die geld heen gaan: in die comrades se sakke.
Ons kan seker redeneer dat ons belastings nie verhoog sal word nie. Die ANC het tog biljarde tabakbelasting van die hand gewys, as gevolg van hulle onnosele hardkoppigheid.
Het u al gewonder hoekom hierdie regering ‘n eie lugredery MOET besit, teen enige koste?
Dit is die comrades se “getaway car”. Hulle beroof die land, en wanneer ons mense uiteindelik agterkom wat aan die gang is, en ‘n soort Franse revolusie bars los, dan moet die comrades vinnig ontsnap.

marius ·

Hoop daar is goeie gehalte kring televisie by die lughawens want wil graag sien hoe styg ‘n boeing op met drie mense per sitplek ….

Inkpot ·

Gee die bankrot redery ń nuwe naam, dan maak dit volgens hulle sin om nog geld in te pomp.

marius ·

Waarom neem hy en al sy kamerade nie die voortou en vat al hul spaargeld en bele dit in die plek nie ? Vra dit vir hom .

Pieter ·

Ek het geweet die DA is nie van die slimste nie nou weet ek dit. Hoe kan hulle n ANC komunis glo. Jy glo nie n terroris of n komunis nie. Tito en sy ANC regering gebruik al lankal die mense se pension geld dit is hoekom kop doek nie worrie oor belasting geld nie. Tito wag vir die geld van die IMF af dan sit hulle dit kamstig terug. Plek probeer die DA die geld stop wat die komuniste wil leen by die IMF die ANC en sy menisters sal daai geld plunder dat daar niks oor is nie. Ons belasting betalers gaan weer betaal soos wat ons die laaste ses en twintig jaar betaal en ons kry niks vir ons belasting geld nie. Ons belasting betalers moet op IMF se facebook kapsie maak.Die ANC het miljarde geplunder en nie mand is al vervolg of toe gesluit nie. Dit is tyd dat ons wakker skrik

Stefan ·

Nou waar dink hulle gaan hulle beleggers idiote uitkrap om in ‘n lugdiens te belè wat volgens die staat en vakbonde se wense (eise) bedryf gaan word???

koos10 ·

Nou wil hy hê dat die ouens se pensioen gebruik moet word om 2700 mense op “pensioen” te plaas.
Kan iemand dalk help om ons pensioen fondse te beskerm? ‘n Moontlike hof bevel dat pensioene net kan belê word in maatskappye wat die afgelope 5 jaar wins getoon het, of wat se bates die gelde kan dek?

Inkpot ·

Beter plan, laat die skatryk ANC kabinet hulle eie fondse waarvoor hulle so “hard gewerk” het, belê in SAL en gee dit sommer ń nuwe naam, ANC Freedom Airways.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.