Mboweni, Gordhan onderneem om R10 miljard vir SAL te vind

(Argieffoto)

Tito Mboweni, die minister van finansies, en Pravin Gordhan, die minister van openbare ondernemings, het onderneem om finansiering beskikbaar te maak vir die Suid-Afrikaanse Lugdiens vir sy onmiddellike en langtermyn behoeftes in die uitvoer van ʼn sakereddingsplan.

“ʼn Brief ter ondersteuning wat die regering verbind om ‘finansiering te mobiliseer vir die kort-, medium- en langtermyn vereistes om ʼn volhoubare en lewensvatbare nasionale lugdiens’ is op 15 Julie deur die ministers van finansies en openbare ondernemings onderteken,” het die departement van openbare ondernemings Donderdag gesê.

Die ministers het die brief aan die lugdiens se sakereddingspan gestuur.

Die maatskappy se krediteure het Dinsdag die sakereddingsplan goedgekeur.

Die departement het bevestig die sakereddingsplan vereis ʼn bedrag van R10,1 miljard om die plan te finansier, die balansstaat te stabiliseer, die res van die groep te herstruktureer, en werkskapitaal beskikbaar te maak vir die res van die groep se entiteite om ʼn stabiele en lewensvatbare platform te skep.

Volgens die plan sal sowat 2 700 werknemers teen ʼn koste van R2,2 miljard afgelê word.

Die staat het homself ook verbind tot ʼn waarborg vir die R16,4 miljard skuld wat aan die lugdiens se krediteure verskuldig is.

Gordhan is ʼn entoesiastiese ondersteuner van die plan om die SAL te red, terwyl Mboweni al herhaaldelik aangedui het hy sal die lugdiens eerder wil sluit. Die kabinet het sy ondersteuning gegee om die lugdiens te probeer red.

Die Demokratiese Alliansie is ten sterkste gekant teen die staat se plan om die SAL verder te finansier. Die party het Donderdag gesê hy het ʼn wettige kennisgewing aan Mboweni gestuur dat hy hom in die hof sal daag as hy sy noodmagte kragtens die Wet op Openbare Finansiële Bestuur gaan gebruik om ʼn kontantinspuiting vir die lugdiens te verseker.

“Ons sal moet sien waar hulle die geld vandaan gaan kry,” het DA-LP Geordin Hill-Lewis gesê. “Dit sal absoluut onaanvaarbaar wees om weer die belastingbetaler se geld te gebruik om ʼn reddingsboei vir die SAL te gee, of dat die regering weer waarborge verskaf vir nuwe lenings.”

Hill-Lewis het gesê die skrywe dui aan dat Mboweni teruggekrabbel het ná hy vroeër geweier het om nog geld vir die SAL te bewillig. “Mboweni het gereeld gesê hy is gekant teen enige verdere ondersteuning vir ʼn bankrot staatsbeheerde entiteit soos die SAL. As hy deur die ANC en die kabinet gedwing word om weer staatsgeld aan die SAL toe te ken, sal hy baie noukeurig sy posisie in die regering moet heroorweeg.”

Philip Saunders is vandeesweek as die tussentydse uitvoerende hoof van die lugdiens aangestel. Die aanstelling is deur die metaalwerkersvakbond Numsa veroordeel en die vakbond het gesê Saunders het nie die nodige ervaring nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Nie Verbaas ·

Numsa, julle het nie die kennis of agtergrond om besluite soos die oor Philip Saunders te neem nie of is dit omdat hy wit is? Dudu Meyeni seker die regte kandidaat? Ek wonder waar gaan Gordhan en Mboweni die geld vandaan kry?

Pieter ·

Vat julle staats pension gorhdan en gee dit vir julle bankrot SAL. Ons moet nou saam met die FV plus staan en die belasting boikot onder steun. Ons belasting betalers is nou gat voll vir julle ANC komuniste genoeg is genoeg.

Kobus ·

Hoekom klou ANC so verbete aan SAL? Ekonomies of populisties? Die twee ministers belowe die geld asof dit hulle eie is. Natuurlik gaan ons as belastingbetaler opdok

Pieter ·

Aag, OK, ek sal n paar van my geldbome vir anc skenk. Verder kan ons mos net meer geld druk, ekonomiese beginsels is net duiwelse Westerse uitvindsels om die onskuldiges mee te onderdruk, geen plek vir so iets in Afrika.

Mieke ·

Anders gestel: Hulle gaan nou die pensioen fondse gebruik…

Pieter Rubeus ·

Ja dis tyd dat die staat se geld inspuiting van belasting betalers gestop word. Daar is nou genoeg wetlik gronde dat die staat wan presteer en biljoene van die geld misbruik en dus nie die belasting betaler se versoeke geag beskou nie. Jammer om te sê dis tyd dat die kadres onderdruk word en die geldkas leeg gehou word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.