Mboweni in sop oor twiet

Minister Tito Mboweni. (Foto: Nokuthula Mbatha/ANA)

Pres. Cyril Ramaphosa het Tito Mboweni, minister van finansies, oor die vingers getik oor uitlatings wat hy dié naweek op sosiale media rakende Edgar Lungu, president van Zambië, gemaak het. Dié het onlangs besluit om die goewerneur van die bank van Zambië in die pad te steek.

Denny Kalyalya se kontrak as goewerneur van die bank van Zambië is Saterdag met onmiddellike inwerkingtreding gestaak. Mboweni, voormalige goewerneur van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, het sy misnoeë hieroor op sosiale media te kenne gegee.

“Presidente van Afrika moet ophou met hierdie onsin om een oggend wakker te word en te besluit om die goewerneur van ’n bank af te dank. Waarom doen ons hierdie dinge as Afrikane? Die president van Zambië moet aan ons redes verskaf waarom hy die goewerneur ontslaan het, anders is die hel op pad. Ek sal mobiliseer!” lui een van Mboweni se inskrywings.

Die twiets, wat pres. Ramaphosa nou veroordeel, is intussen van die minister se Twitterrekening verwyder.

“Pres. Ramaphosa wil die regering en die mense van die Republiek van Zambië daarvan verseker dat dié opmerkings nie die siening van die Suid-Afrikaanse regering en sy mense weerspieël nie,” het die presidensie Maandag in ’n verklaring gesê.

“Die kwessie word aangeraak om te verseker dat so ’n voorval nie weer plaasvind nie.”

Lungu het tot dusver geen verduideliking vir Kalyalya se afdanking gegee nie. Hy het wel bevestig dat hy Christopher Mvunga, adjunksekretaris van die kabinet in Zambië, as die nuwe goewerneur aangestel het.

Dit is nie die eerste keer dat Mboweni se omstrede twiets hom in die moeilikheid laat beland nie. Hy het oor die jare in bekgevegte op Twitter betrokke geraak, onder andere met die Gautengse premier, David Makhura. Mboweni het onder meer uitgevaar teen motoriste wat nie e-tol betaal nie en die gesprek het so vurig geraak dat pres. Ramaphosa moes ingryp om die twee stil te maak. Hy het ook al voorheen gewelddadige betogings gekritiseer en kommentaar gelewer op die privatisering van die Reserwebank.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
Estelle

Miskien moet Mboweni eerder nie weer twiet nie, ook nie Helen Zille nie. Dis soms beter om net te kyk maar niks te se nie. N eerlike opinie word nie altyd verwelkom nie.

gatgogga

Ag shame. Rama is verontwaardig.

Johan

Tito het sy foute maar ek dink hy sou n beter president as Rampspoedig gewees het. Die goed wat hy se is partykeer logies definitief beter as die huidige leier. Hy sou ook nie sy twiets onttrek het as hy die president was nie. Ek dink ook nie hy het baie kaders in die ANC nie hou hom nie op met nonses nie.

Fedup

The president of zambie do not owe you any explanation. His country, his decision.
Rather do your work titie and leave the thinking to those who know how.

Thelsa

Die President het die verkeerde ou oor die vingers getik. Mboweni is ten minste eerlik. Die res van Cyril se kabinet moet hy direk aanspreek en afdank. Nou skiet hy met ‘n haelgeweer en skryf aan die ANC in geheel. Papbroek Cyril.