Mboweni moet boere onthou in begrotingsrede

Foto ter illustrasie

Titi Mboweni het môre ʼn gulde geleentheid om Suid-Afrika se fiskale beleid weer op koers te kry. Dit is die mening van die landbou-organisasie Agri SA.

Agri SA glo dit is tyd vir die minister van finansies om terug te keer na beste praktyk deur gebruik te maak van die regte instrumente om onnodige uitgawes sonder aansien des persoons te besnoei. “Die balans tussen staatsinkomste (belastinginkomste) en -uitgawes is sentraal tot die regering se begroting,” sê Kulani Siweya, landbou-ekonoom van Agri SA.

“Minister Mboweni is onder ernstige druk om seker te maak dat Suid-Afrika se boeke klop. Indien hy die ekonomie wil laat groei, is die landbousektor die sleutel. Die landboubedryf het homself as ’n veerkragtige sektor bewys wat, met behulp van die regering, die ekonomie kan herbou en fiskale stabiliteit kan verbeter,” sê Siweya.

Agri SA hoop dat Mboweni ook sal aandag gee aan die volgende elemente in sy begrotingsrede:

  • hervorming van Eskom en die elektrisiteitsektor deur privaatsektordeelname,
  • ondersteuning vir die Landbank met gepaardgaande druk om sy prestasie te verhoog,
  • grondhervorming en ondersteuning aan opkomende boere deur tegniese ondersteuning en mentorskap,
  • finansiering en ondersteuning vir die daarstelling van ’n Agri-ontwikkelingsfonds vir opkomende boere,
  • versnelling van uitbetalings van dieselkortings en skeiding van die dieselkorting- en BTW-stelsels,
  • beperking van oormatige verhogings in aksynsbelasting wat andersins ʼn nadelige invloed op die wyn- en tabakbedrywe het,
  • aandag aan swak dienslewering, korrupsie en infrastruktuurverval, en
  • ondersteuning tydens rampe en toepaslike toewysing van geld wat die impak wat onvoorsiene rampe op die sektor het, sal demp.

Agri Wes-Kaap het uitgewys dat die groei wat die landbousektor in 2020 ten spyte van Covid-19-inperkingsregulasies getoon het, die sektor se onmisbare rol in die ekonomie van die land bevestig het. Die organisasie glo die sektor het ondanks talle uitdagings winsgewend gebly. Daarom moet dit beskerm word deur ʼn gesonde beleidsraamwerk en implementering daarvan, maar ook deur gebruik te maak van die kundigheid van kommersiële boere in die waardeketting.

Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, sê: “Die landbou sal in 2021 voortgaan om geleenthede te gebruik, maar die regering gaan moet help om die kwessies op die tafel wat die volhoubaarheid van die sektor belemmer, te takel. Dit sluit in finansiële hulp aan die wynbedryf, die regruk van die Landbank se struktuur en regeringshulp aan droogtegeteisterde boere.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Anoniem ·

Indien hy enigsins iets te sê het, sal dit wees om die werkers nie soos slawe aan te hou nie.

Dries ·

As hy die boere terwille gaan wees het hy Ramaphosa op sy nek

Estelle ·

Dis miskien tyd dat ons besef die regering wil nie ons blankes hier he nie. Wanneer sal ons oe oopgaan? Hul gaan nie die boere help nie. Ons is alleen teen n oormag en moet mekaar help.

Mariana ·

Boere moet maar nie staat maak op dit nie. Hierdie begroting gaan niks bring nie, soos gewoonlik, dalk net meer probleme.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.