Mboweni se bitter medisyne vir siek SA ekonomie

Tito Mboweni, minister van finansies, lewer die begrotingsrede in die parlement. (Skermskoot: eNCA)

Bitter medisyne en verskeie Bybelaanhalings vorm die basis van die begrotingsrede wat die minister van finansies, Tito Mboweni, vanmiddag gelewer het.

Sy gebruik van die aalwyn as plantsimbool (bittere vasbyt en medisinale eienskappe) en selfs Psalm 23 (om geen onheil te vrees nie, al gaan jy deur die vallei van doodskadu) het die raam verskaf vir ʼn begrotingsrede gekenmerk deur sombere realisme.

Die begrotingsdoelwitte is beter ekonomiese groei, verhoogde belastinginvordering, redelike en bekostigbare besteding, die stabilisasie en vermindering van skuld, die hersiening van staatsbeheerde instellings en die afwaartse bestuur van die staatsdiensrekening. Mboweni het toegegee dit gaan moeilik wees, maar hy voer aan die land is reg vir vernuwing.

Daardie vernuwing gaan volgens hom taai wees, want die staat se belastinginkomste is R15,4 miljard minder as begroot.

Aan die positiewe kant maak Mboweni daarop aanspraak dat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens herstel word. Hernieude klem word op die bevegting van belastingontduiking en onwettige gedrag in onder meer die sigaret- en tabakbedryf geplaas, die eenheid vir groot ondernemings word weer in die lewe geroep, inligtingstegnologiestelsels word herstel en verbeter én verskerpte optrede teen oorgrensmisdaad is ʼn prioriteit.

Al bogenoemde was skerp kritiek op die ampstyd van die vorige kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, Tom Moyane.

In ʼn aanduiding van die benarde toestand van staatsinkomste asook die feit dat dit ʼn verkiesingsjaar is, gaan inkomstebelasting én die kerwe vir inkomstebelasting nie verhoog word nie, wat beteken dat minder mense minder belasting gaan betaal, en meer mense meer belasting gaan betaal, as salarisverhogings in ag geneem word. Dit behoort ʼn klein toename aan inkomste vir die staat te beteken.

Sondebelastings (op byvoorbeeld drank en sigarette) is oudergewoonte stewig verhoog, en verbruikers kry ʼn stewige skop in die tande met ʼn verhoging in heffings op die petrolprys – ʼn verhoging van 15 sent per liter in die regstreekse brandstofheffing, 9 sent vir petrol en 10 sent vir diesel in ʼn nuwe koolstofbelasting vanaf Junie en 5 sent in die padongelukkefondsheffing.

Die struktuur van die padongelukkefonds word ook darem hersien om dit weer behoorlik te laat funksioneer.

Argieffoto: GCIS

Staatsbesteding en -instansies

In ʼn tersluikse bekentenis van die vermorsing van die onlangse verlede word staatsbesteding met R50,3 miljard ingekort oor die volgende drie jaar.

Mboweni het ruiterlik erken dat staatsbestuurde ondernemings ʼn groot probleem is. Volgens hom moet drie vrae gevra word: Het ons hulle nodig? Kan ons hulle bestuur? Wat moet ons met hulle doen?

Hy het openlik erken “om geld vir Eskom in sy huidige formaat te gee, is om water deur ʼn sif te gooi”. Eskom moet dus, soos pres. Cyril Ramaphosa aangekondig het, herstruktureer en intussen met R23 miljard per jaar ekstra aan die gang gehou word.

Ten einde Eskom behoorlik te bestuur sal ʼn hoof-herorganiseringsbeampte voortaan vanaf die tesourie en die departement van openbare ondernemings na Eskom gesekondeer word – en aan daardie twee departemente verantwoordbaar bly.

Dit volg daarop dat Eskom vanjaar ʼn verdere inspuiting van R50 miljard van die staat moes ontvang, Denel R1 miljard en die SAL R6,2 miljard. Die Landbank het darem begin om vroeëre inspuitings terug te betaal. Strenger reëls sal voortaan vir instemming tot sulke kontantinspuitings geld.

Mboweni het verduidelik dat die staat tans R243 miljard per jaar meer uitgee as wat ons inkry. Elke weekdag leen die staat R1,2 miljard en betaal R1 miljard per dag aan rente op skuld. Dit moet volgens hom nou stabiliseer.

Hy het toegegee staatsdiensuitgawes is buitensporig. Nasionale en provinsiale salarisrekeninge moet met R27 miljard oor die volgende drie jaar afneem. Sowat 80% hiervan sal deur vroeë aftrede van staatsamptenare bereik word terwyl inkorting van Suid-Afrikaanse ambassades en konsulate ook beplan word.

Geen salarisverhoging word vanjaar vir LP’s, LPW’s en mense in bestuursposte by openbare instellings toegestaan nie.

Mboweni het toegegee die aard van staatsbestuur het onsekerheid in die private sektor geskep. Verskeie stappe om beleggings aan te moedig gaan dus gedoen word. Hieronder tel dat visumvereistes verslap gaan word vir toeriste en beleggers, dat die staat gaan belê in die vermindering van datakoste, en ʼn belegging van R19,8 miljard gaan doen in industrialisering, onder meer in die ondersteuning van 50 000 werksgeleenthede in die tekstielbedryf.

Argieffoto.

Infrastruktuur en die grondkwessie

Grondhervorming bly ʼn prioriteit. Sonder om na die EFF te verwys, het Mboweni die verskil in grondbeleid tussen die ANC en die EFF stewig geaksentueer – dat die ANC-regering grond vir private boerdery-inisiatief beskikbaar wil stel in teenstelling met die staatsbesit wat EFF-beleid kenmerk.

R1,8 miljard word in 262 projekte belê, terwyl die Landbank ʼn verdere R3 miljard sal belê.

R30 miljard word vir nuwe skole en infrastruktuur beskikbaar gestel en welsynstoelaes word verhoog: R80 per maand meer vir ouderdomspensioen, ongeskiktheidstoelaag en oorlogsveterane en R40 per maand vir pleegsorgtoelae. Die kindertoelaag verhoog na R420 per maand.

Mboweni het beklemtoon dat nuwe stappe ingestel sal word om mense te verplig om hul munisipale rekeninge te betaal.

Wat die toekoms betref, het Mboweni beter projekbestuur in die vooruitsig gestel, wat dit makliker sal maak om infrastruktuur te bou. Die staat se infrastruktuurfonds is ʼn belangrike prioriteit.

Mboweni meen daar is baie redes om vir ʼn beter toekoms te hoop. Ten einde so ʼn beter toekoms te bou moet die geleenthede wat tegnologie bied, aangegryp word, volhoubaarheid moet die wagwoord wees, verstedeliking moet in ag geneem en nasionalisme wat geleenthede aan immigrante wil ontsê, moet teengegaan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

36 Kommentare

Theresa ·

En wie moet ons bedank vir al hierdie gemors…………….??!!

Hennie ·

En wie gaan hiervoor betaal alles pragtig mooi met inkortings en af skaffings , wie gaan die extra rekening vir Eskom betaal . Beter belasting invordering hoe gemaak want die belasting onduikers en nie betalers is in die meerderheid ,het JoJo al betaal wat hy skuld .immigrante kom leef lekker hier in SA veral as jy van Afrika en China af kom . Ons sal moet sien hoe uitvoerbaar al hierdie plannetjies is .

Koos ·

In ‘n land wat reeds oorbevolk is in terme van verskeie natuurlike bronne, soos beskikbare water om net een te noem, behoort geen kindertoelaes betaal te word nie.
Dit moedig net onnodige bevolkingsgroei aan wat verder tot gevolg het dat die werkloosheidsyfer net onnodig styg, onderwys meer onder druk geplaas word, ens.

Wend daardie fondse eerder aan om beter gehalte dienste en onderwys aan die reeds bestaande bevolking aan te bied en sodoende werklooshied bekamp en hoër gehalte arbeid tot voordeel van die hele land en sy mense daar te stel.

EP ·

Eskom R50 Millard , Denzel R1 miljard en SAL R 6.2 miljard! Regtig! Wat doen hulle met die geld. Ons belastingbetalers moet maar net aanhou ingooi in die bodemlose put!! Privatiseer die hele lot.

Judge Dredd ·

Hoekom moet Denzel R1 miljard kry?
Hy maak sekerlik genoeg geld uit al sy flieks.

Swartbees ·

Jy weet die anc is in beheer van die instansies en self veryking is top prioriteit.

Ronel ·

Goed en wel dat hulle mense wil verplig om munisipale rekeninge te betaal, maar hulle moet die munisipaliteite verplig om eskom te betaal rn minder partytjies te hou

Hennie ·

En wie gaan hiervoor betaal alles pragtig mooi met inkortings en af skaffings , wie gaan die extra rekening vir Eskom betaal . Beter belasting invordering hoe gemaak want die belasting onduikers en nie betalers is in die meerderheid ,het JoJo al betaal wat hy skuld .immigrante kom leef lekker hier in SA veral as jy van Afrika en China af kom . Ons sal moet sien hoe uitvoerbaar al hierdie plannetjies is .

D B ·

Mooi man, jy het baie mooi AL die probleme aangeraak, maar ek lees niks van oplossings nie.

shark ·

klomp skelms..nou moet die belasting betaler weer opdok vir die klomp lamsakke wat die land laat in-een stort.

LHS ·

Gaap. Bla bla bla……altyd dieselfde stories. Begin eerder die kriminele vervolg wat hulself so verryk en laat hulle terugbetaal.

Andre ·

Hy sal ook vining vervang word, weer. Alles net smoke en mirrors, die belasting betaaler gaan net meer en meer opdok todat daar niks oor is nie.

Geen hoop vir ons land met die klomp aan die beheer.

GM ·

Koos, ek stem saam met jou. Hulle wil alles regmaak deur meer geld te wil vat van mense wat alreeds onder druk is, en dit terwyl die ‘armes’ net als verniet kry. En nooit, maar nooit, sal hul erken dat hul armoede hul eie skuld is nie. Dis makliker om vir twee kinders kos te gee, as om vir 30 kinders te moet voorsien, en dan nog 6 vroue te moet onderhou. Ek sal nie eers aan een van my kinders se behoeftes kan voldoen met R420 nie. En ek het nie eers formulemelk gebruik nie, ook nie skoolgeld betaal nie. ‘n Boks doeke alleen kos rondom R320 (en ek sien pryse skuif alweer op).

Bekommerd ·

Ek sou sê moet nie heeltemal wegdoen met die kindertoelaag nie, maar beperk dit tot 2 kinders per ouerpaar. Daar is mense wat werk wat ook hul kindertoelae eis omdat hulle nie die mas kan opkom nie, salarisse is maar min en lewenskostes is buitensporig hoog.

John ·

Die eierdans op die aalwyn was nogal oulik maar die feit bly: niks gaan verander nie. Die nie-betalers gaan niks doen nie en munisipaliteite beplan reeds die volgende funksie of oorsese reis en en. Eskomkrag gaan baie duurder word en voedsel, want petrol word duurder. Studente gaan steeds betoog want die apies op hul ruè het steeds het die meeste kennis en wysheid in pag. Net klasbywoning aktiveer die oordragfasiliteit. Aanhalings uit die Bybel help niks… sonder doen nie.

JJP ·

Ag siestog die mense leef in n droomwereld en sal nooit wakker word nie.

Nel ·

“Don’t worry, be happy
In every life we have some trouble
But when you worry you make it double
Don’t worry, be happy
Don’t worry, be happy now…”

Vra maar net ·

Is daar iets genoem van die staatspensioen en toelaes wat n verhoging gn kry. Ek het nie die begroting geluister nie

John ·

Ja, dis op, maar moenie ‘n lang vakansie by die see beplan nie.

Wielspore ·

Hoe gaan dit ons raak, my besteebare inkomste het effe verhoog van Desember 2018 nadat ons finansiele verantwoordelikheid teenoor ‘n instansie nie meer nodig is. Nou word die kortings bedrag per inkomste opgeskuif wat veroorsaak dat jy minder belasting korting gaan kry, in kort, jy betaal meer inkoste belasting.
Daar verminder my besteebare inkomste en die regering kan my nie waarborg dat staats instansies beter diens gaan lewer.
So wat kry ek in ruil vir meer belasting, niks!

Johanna Botha ·

Bedank die brigarde van wigte en teenwigte vir die groot GEMORS ! ! En nog NIEMAND is vervolg of sit in die tronk nie !

Oujongvrou ·

15 miljard verminderde belasting inkomste!!! Mooi so, want die belastingbetalers is almal besig om hierdie sinkende skip te verlaat. Ek het 5kinders wat oorsee sit en daar belasting betaal, en hulle se elke dag hoor hulle van nog SA ners wat bykom. Net in een straat hier is daar 7 gesinne weg. So ANC, jaag ons weg, en kyk hoe gaan eerlike hardwerkende mense en ondersteun ander lande.

Skrikwakker ·

Eish ooh ehh ehh, Yoh. Daar is geen medisyne vir die ……………

Deon ·

Duidelik doen die begroting weinig om ekonomiese groei te stimuleer.

ne ·

Daar is nie “rigting pilletjies” by apteke nie. Ek dink ons moet dit ontwerp en aan die anc verskaf!

Irma vd Berg ·

As all die ryk klomp wat in die parlement sit net die helfde gee van wat hulle in hulle rekings het sal daar genoeg wees en dalk nog oor he.Hoe daai.

Lothar ·

Ek wonder wat hierdie “hoof-herorganiseringsbeampte” se pakket alles insluit? Seker iets soos twee Lamborghinis, ‘n Rolls Royce en ‘n Bentley per jaar, vyftig prestasie bonusse, elf paleise, sestien plase, heeltydse partytjies plus al die KFC wat hy en sy hele familie kan opeet? En dan kry hy nog R250 000 salaris per maand!

Jammer, maar ‘n mens kan nie anders as om sarkasties te wees nie.

Alida ·

Ons vrees elke dag die bose en leef elke dag in die vallei van die doodskaduwee. Wat se hy nou eintlik?

PietPompies ·

Baie dankie dit is ‘n wonderlike artikel wat werklik die staatsrede uiteensit, skop business insider se stert.
Skitterend!

Sophia ·

Hoeveel onnodige geld word aan infrastruktuur bestee wat eenvoudig net afgebrand word as sommiges nie hulle sin kry nie? Begin om die mense te dagvaar wat dit doen!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.