McBride-getuienis voor Zondo-kommissie weer uitgestel

Robert McBride Foto: Werner Beukes/SAPA

Die langverwagte getuienis van Robert McBride, voormalige hoof van die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod), voor die kommissie wat staatskaping ondersoek, is weer uitgestel. Die partye wat McBride in sy getuienis sou betrek, is glo nie daaroor ingelig nie, soos wat die kommissie se bepalings vereis.

Adv. Paul Pretorius SC, getuienisleier van die kommissie, het gesê tussen 30 en 50 kennisgewings aan diegene wat betrek word, is voorberei en sal vandag (Maandag) uitgestuur word.

McBride se getuienis, wat glo lig gaan werp op die beweerde kaping van wetstoepassingsowerhede, is in Februarie ook uitgestel omdat die betrokkenes nie daaroor ingelig is nie. Sommige persone wat in sy getuienis genoem word, is glo hooggeplaaste amptenare in die veiligheidsgroepering.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, was min beïndruk en het daarop gewys dat die kommissie nie onbepaalde tyd het om sy werk te voltooi nie.

“ʼn Uitstel is op 8 Februarie toegestaan sodat diegene wat betrek word, in kennis gestel kan word daaroor. Die regspan het oor ʼn tydperk van ses weke versuim om dit te doen. Dit is onaanvaarbaar. Ek besef dat die regspan hard werk en besig is, maar dié verskoning kan nie aanvaarbaar wees nie. Ek hoop, met die maatreëls wat ingestel word, dat dit nie weer gebeur nie,” het Zondo gesê.

Hy het McBride se getuienis tot Donderdag uitgestel.

Ingevolge die kommissie se bepalings moet kennisgewings aan diegene wat betrek word gestuur word voordat iemand kan getuig. Pretorius het aan Zondo gesê die fout berus by hom en die regspan en dat hulle verantwoordelikheid daarvoor aanvaar.

Victor Ofentse Senna het McBride vervang as hoof van Opod nadat sy vyfjaartermyn in Februarie verstryk het.

McBride het nie vandag se verrigtinge bygewoon nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Sean ·

Mcbibe maak clowns van zondo Hahhaha hy was nie eers daar nie Zondo mors sy tyd

Gert van Wierdapark ·

Vertragingstaktiek van die outjies wat hy gaan betrek! McBride het niks om te verloor nie en sal ‘n punt of twee wil bewys. Die Senna snaar wat in MB se plek aangestel is sit skynbaar nog in die kuipe vas – nog niks van sy kant gehoor nie?

marous ·

n Junior klerk kon die kennisgewings uitgereik het ! Dis ‘n vinger iewers in ‘n koek … sekerlik ‘n mis koek .

Buite Stander ·

McBride is ‘n regte “dramaqueen”. Hoe vinniger hy van die toneel verdwyn, hoe beter.

Alida ·

Die magtige McBride gaan hard val. Dit is pure nalatigheid dat die kennisgewings nie uit is nie. Ek ruik n rot.

Well Done ·

Ek vertrou hom nie eers op die afskrif van ‘n foto nie.
Hy praat alles om ‘n draai

Uiltjie ·

Gee die man n regverdige kans mense. Ons weet nie watter bomme hy gaan loslaat nie.

Dries du Toit ·

Dit gaan baie interessant wees.. dit kos n skelm om n skelm uit te wys. Hy ken daai verrotte sisteem baie goed

Marinda ·

Klink meer en meer vir my iemand wil nie he hy moet getuig nie.

George in Bloem ·

Net die blote feit dat hierdie selferkende veroordeelde moordenaar so gereeld nog in die nuus is en goeie poste beklee en die “royal life” van die “gravy train”leef sonder enige gewete,is genoeg bewys daarvan dat daar geen geregtigheid meer in hierdie piesangrepubliek is nie. Skandalige vent.

Speedguard ·

Hy is nou wel ‘n self erkende moordenaar maar sal hy nie ‘n duit terugstaan vir die mense wat hy eens gehelp het hom nou in die rug steek nie, ek dink hy doen ‘n goeie werk by OPOD !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.