McBride getuig oor ‘politieke staatsgreep’ van wetstoepassingsowerhede

Robert McBride by die kommissie wat staatskaping ondersoek. (Foto: Bhekikhaya Mabaso/ANA)

Daar was ʼn daadwerklike en deurlopende aanval op die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) om sy strafregtelike ondersoeke na lede van die polisie se misdaadintelligensie-eenheid in die wiele te ry deur Opod-bestuurders te skors en te vervolg, het Robert McBride, oudhoof van die polisiewaghond, vandag by die Zondo-kommissie getuig.

“Die doel van my getuienis is om die kommissie te help en te praat oor my eie ervarings as hoof van Opod en dit wat ek gesien het. ʼn Hele aantal regsgedinge, vervolgings en uitsprake het my laat glo dat daar ʼn aanval op die teenkorrupsiepoging was. My skorsing in 2015 was deel daarvan. Senior bestuurders is [uit hulle poste] ontslaan deur skorsings en vals tugverhore. Mense wat nie in staat was om die werk behoorlik te doen nie, is aangestel en agterna sou jy stories hoor dat prestasie verbeter het nadat die bestuurders afgedank is,” het McBride getuig.

McBride was tussen 2014 en Februarie 2019, toe sy vyfjaarkontrak verstryk het, die hoof van Opod. Die direktoraat se hoof- finansiële beampte, Victor Ofentse Senna, het hom vervang.

McBride het getuig hoewel daar bewyse was dat die polisie se misdaadintelligensie-eenheid se geheime diensrekening “geil misbruik” is, het die weiering om dokumente te deklassifiseer die inhegtenisneming en vervolging van oortreders gestuit.

“Misdaadintelligensie het saamgewerk, maar net vir ʼn paar maande. Daar was waarna ons verwys as ʼn blou gordyn, waar een van die oudste instellings in die land, die polisie, hom teen verandering en oorsig verset het. Daar was selfs voor my aanstelling bewyse van korrupsie, maar die deklassifisering van dokumente wat ons sou toelaat om ondersoek in te stel, het ʼn probleem gebly. Daar was tot dusver nog geen vervolgings nie.”

In sommige gevalle moes Opod hom beroep op artikel 205 van die Strafproseswet om ondersoeke van stapel te stuur. Senior polisiebeamptes het, pleks daarvan om met Opod saam te werk, die howe genader om Opod teen te staan, het McBride getuig.

“Dis nou ʼn regsproses. Dit lyk of die afdelingskommissaris van misdaadintelligensie huiwerig is om sy mag te gebruik om dokumente te laat deklassifiseer.”

Adv. Paul Pretorius SC, die getuienisleier, het McBride gevra hoekom en wie Opod se posisie wou verswak. McBride het gesê hy en ʼn paar senior amptenare van die SA Inkomstediens (SAID) en die direktoraat vir misdaadondersoeke (die Valke) wat ook van hulle pligte onthef is, het saamgestem dat daar ʼn gemeenskaplike poging was om sommige van die land se sleutelinstellings te kaap en te verwater.

“Ek het my vantevore al in die openbaar oor die vraag uitgelaat. Ek het destyds gesê daar was pogings om misdade wat reeds gepleeg is en wat nog beplan word, toe te smeer. ʼn Vergadering is gereël met lede van die SAID, Opod en die Valke wat dieselfde lot gehad het. Dis gereël deur belanghebbende partye en NRO’s by die Nelson Mandelastigting in 2015. Ons het ons kommer uitgespreek oor wat in die land aan die gang is.

“Ek, [die voormalige hoof van die Valke, Anwa] Dramat en [voormalige hoof van die SAID Ivan] Pillay het daarna ʼn gesamentlike verklaring uitgereik oor pogings om die instellings te verwater. Om dít te doen, voorsitter, moet jy die staat kaap. In daardie stadium het ons die term staatsgreep (political coup was sy Engelse term) gebruik,” het McBride gesê.

Ander senior amptenare, onder wie die voormalige Gautengse hoof van die Valke, Patrick Sibiya, en die voormalige hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, Johan Booysen, se vervolgings het ook van hulle slagoffers gemaak van die proses om die staat te verswak, het McBride gesê.

In sommige gevalle is lede van die misdaadintelligensie-eenheid by Opod aangestel om sake te ondersoek. Hulle sou dan na hulle poste terugkeer ná Opod-bestuurders geskors of aangekla is.

Intussen het die nasionale vervolgingsgesag ondersoeke teen mense soos die omstrede Durbanse sakeman Thoshan Panday, wat daarvan beskuldig is dat hy polisielede in KwaZulu-Natal omgekoop het, en genl.maj. Ntebo Mabulu, wat van marteling en moord beskuldig is, onverklaarbaar teruggetrek, het McBride getuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Alida ·

Sjoe hierdie is sommer n emmer vol wurms. Wonder wat gaan CR daaraan doen. Seker weer gaan lieg oorsee en heuning smeer. Slang.

Tilo ·

Cherokee, die “inligting” tel mos nie meer nie – was in apartheidsjare…. Daar is slegs seker gebeur wat van belang is voor 1994.

fred ·

ja ons ouer mense herinner hierdie man nog goed…3 moorde en 69 gewondes….

Cherokee ·

fred, dit gaan nie werklik oor ‘ouer mense se geheue’ nie maar oor gebrek aan werklike belangstelling. Mense wat nie moeite doen om te weet wat aangaan en wie, wie is nie. Daar was al selfs kommentare wat geneig het tot komplimente vir die moordenaar! Ek sal moeite doen en elke niksseggende berig oor hom meer seggend maak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.