McBride se aanstelling verras, laat vrae ontstaan

Die voormalige hoof van Opod, Robert McBride, getuig by die kommissie wat staatskaping moet ondersoek. (Foto: Bhekikhaya Mabaso/ANA)

Die DA en VF Plus meen die aanstelling van Robert McBride as direkteur vir die buitelandse tak van die Staatsveiligheidsagentskap (SVA) kom as ʼn verrassing en laat talle vrae ontstaan.

Dianne Kohler Barnard, DA-LP en die party se woordvoerder oor staatsveiligheid, het McBride se aanstelling verwelkom, maar ook gesê dit is verbasend.

“’n Jaar gelede het ANC-lede van die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie hul afkeer met hom getoon toe daar bespreek is of sy amp as hoof van die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) verleng moet word. ’n Mens sou kon dink dat hy die heel laaste kandidaat ter wêreld sou wees wat oorweeg sou word om hierdie pos te vul.”

McBride is aangestel in ʼn pos wat byna ʼn jaar lank vakant was. “Die DA hoop dat McBride bo die politiek sal uitstyg en die werk sal doen wat hy en die agentskap eintlik veronderstel is om te doen,” het Kohler Barnard gesê.

Die VF Plus is gekant teen McBride se aanstelling. “Die vraag moet gevra word hoe hy die nodige klaring vir die pos kon kry gegewe verskeie omstrede voorvalle uit sy verlede,” het dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, gesê.

McBride is in 2006 toe hy metropolisiehoof in Ekurhuleni was, in hegtenis geneem en aangekla van dronkbestuur nadat hy in ʼn motorongeluk betrokke was. Hy is in September 2011 skuldig bevind en is twee jaar gevangenisstraf opgelê. Die vonnis is opgehef nadat sy appèl in 2013 geslaag het.

Daar was verdere omstredenheid om McBride weens onder meer beweerde voorvalle van huishoudelike geweld nadat sy dogter in 2017 klagte van aanranding teen hom ingedien het. Die klagte is later laat vaar.

“Dit is nie goed genoeg vir die Staatsveiligheidsagentskap, waar ʼn onkreukbare rekord en ʼn hoogs geheime veiligheidsklaring verkry moet word, om ʼn persoon met só ʼn omstrede verlede aan te stel nie.”

Die VF Plus sal vrae oor die geldigheid van hierdie aanstelling vra, het Groenewald gesê. “McBride hoort nie in die staat se hoogste veiligheidsagentskap met soveel omstredenheid om sy kop nie en dit is onverstaanbaar hoe hy goedgekeur kon word vir die pos.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Fedup ·

Not surprised at all.
The more corrupt, the better the hold.

Pieter ·

Ja nee, hy gaan Anc help lieg verder en met moord laat wegkom.

Kokerboom ·

VF+ Jul moet asb vergeet van standaarde en aanpas by die gegewe. Die regering voel ‘n veer vir jul gekerm en windblaas. Ons staan geen kans

Cherokee ·

Ek sien julle DA-lede het mcbride se aanstelling verwelkom dmv Kohler Barnard.

Adeline ·

Die kwalifikasies van die betrokke verkose persoon is so reg in die kriteria van die korrupte regering se kraal – lekker!!!

Cherokee ·

As hy enige gewete gehad het, sou moorde nie gepleeg gewees het nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.