McBride se borgtogvoorwaardes verslap

Robert McBride Foto: Werner Beukes/SAPA

Die landdroshof in Pretoria het Dinsdag die borgtogvoorwaardes vir Robert McBride, hoof van die onafhanklike polisieondersoek-direktoraat (Opod), verslap.

McBride word daarvan beskuldig dat hy sy tienerdogter aangerand het. Die verslapte voorwaardes beteken hy het nou toegang tot sy ander dogter wat ook as getuie optree in dié strafregtelike saak.

McBride het die hof gevra om die borgtogvoorwaardes wat vroeër opgestel is te hersien “omdat dit die feesseisoen is en hy graag toegang wil hê tot sy jongste dogter”, wie se naam weerhou word.

Die hof het gelas deur McBride onbeperkte toegang tot sy jongste dogter te gee sal nie nadelig vir die saak wees nie. McBride word egter steeds weerhou om getuies, wat lede van sy familie insluit, te kontak. Hy mag ook nie kontak maak met sy 15-jarige dogter wat die klagte aanhangig gemaak het nie. Sy voer aan dat hy haar geslaan en gewurg het.

Die saak sal op 18 Desember weer in die hof voorkom.

McBride wou ná die hofverrigtinge nie met joernaliste praat nie en het net gesê “dis ʼn familieaangeleentheid.”

McBride staan tereg op aanklagte van kindermishandeling en aanranding met die doel om ernstig te beseer. Hy is in Augustus op borgtog van R10 000 vrygelaat.

Maroela Media het vroeër berig  McBride het die bewerings teen hom ontken en gesê dat hy sy dogter slegs vermaan het.

“Ek erken dat ek een van my dogters vir wie ek baie lief is, vermaan het. Sy het ten tyde van die voorval reg agter my in die motor gesit. Dit sou onmoontlik wees vir my om te bestuur, haar terselfdertyd ‘aan te rand’ en te ‘wurg’. Sy het ook nie beserings gehad toe ek haar by die huis agtergelaat het nie,” lui die verklaring.

Die tiener het egter aan die media gesê dié aanval was nie geïsoleerd nie en “gebeur die heeltyd”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Chris Ws ·

Ja nee laat hy maar vir hom kry.Eks dankbaar ek het nie meer kinders in die huis nie.Ek sou hulle dalk vermoor het as hulle my gaan aankla het vir aanranding as ek hulle getugtig het!

HPV ·

Die “dapper” man wat slegs teen ongewapende burgerlikes optree.

Buitestander ·

HPV, Die man is nie “dapper” nie.
In Durban het hy ‘n bom geplant wat baie mense beseer en gedood het.
Is dit dapper????? enige lafaard kan dit doen.

HPV ·

Buitestander, jammer dit kom verkeerd oor. Ek het in ‘n sarkastiese trant probeer geskryf, dit was duidelik nie geslaag nie. Ek stem 100% saam met jou.

hendrik ·

En sommer nog n ding. As dit een van die bleker nasie was, was borgtog geweier en die klag sou wees poging tot moord maar nee wat, hy kry verslapping van borgvoorwaardes. Ai!!

PJC ·

Ongelukkig kan ek geen simpatie met hom hě nie weens sy gruwelike verlede. Hy sal altyd in my oë ń moordenaar bly en die hof het ook beslis dat hy een genoem mag word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.