McKinsey sê jammer oor R1 miljard van Eskom

Kevin Sneader, wêreldwye besturende vennoot van die internasionale konsultantefirma McKinsey. Foto: www.mckinsey.co

Kevin Sneader, wêreldwye besturende vennoot van die internasionale konsultantefirma McKinsey, het Maandag om verskoning gevra dat die maatskappy Eskom te veel laat betaal het in ʼn omstrede ooreenkoms van byna R1 miljard wat met die staatskapingskandaal verbind word.

Financial Times het berig Sneader het die verskoning in ʼn toespraak by die Gibs-sakeskool in Johannesburg gemaak. Hy het erken McKinsey het Eskom te veel vir sy dienste gevra en die sage te lank laat uitrek. “Die fooi was daarop gerig om ons belegging terug te kry eerder as wat dit gestrook het met Eskom se situasie. In daardie konteks was die fooi te hoog. Dit moes nie gebeur het nie.”

Sneader het gesê McKinsey wil sy “opregte verskoning” oor die debakel uitspreek. Die verskoning kom nadat McKinsey in ʼn skikking ingestem het om die R1 miljard aan Eskom terug te betaal. Die firma het egter beklemtoon die terugbetaling is geensins ʼn erkenning van skuld nie.

Eskom het destyds die geld aan McKinsey betaal vir werk wat gedoen is aan ʼn omkeerprogram. ʼn Ondersoek is daarna van stapel gestuur om te bepaal of McKinsey willens en wetens geld van die kragvoorsiener na Trillian herlei het as ʼn manier om die kontrak met Eskom te verseker.

Volgens Financial Times het Sneader gesê McKinsey het versuim om die volle omvang van die Suid-Afrikaanse publiek se woede in ag te neem oor die staatskapingskandaal waarin miljarde rande van staatsinstansies na maatskappye met bande met die Gupta-familie herlei is.

Die Gupta-maatskappy Trillian was die verskaffersontwikkelingsvennoot vir McKinsey. Trillian het meer as ʼn halfmiljard rand in die sak gesteek met die Eskom-kontrak. Die verhouding tussen Trillian en McKinsey is in Maart 2016 beëindig.

“Om doodeerlik te wees, ons was te ver verwyderd om die toenemende woede in Suid-Afrika te verstaan,” het Sneader gesê.

McKinsey het egter nie die rente terugbetaal wat hy op die fooi gehef het terwyl ʼn regsgeding oor die betaling aan die gang was nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

David ·

Waaroor is hulle rêgtig jammer? Jammer dat hulle uitgevang is?

Arak ·

Dit is nou gaaf en alles, maar wat van die miljard wat hulle die jaar voor dit ook gekry het en so voorts vir die afgelope n (n=24?) jare? Wanneer kan ons die ou geldjies met rente terug verwag? Dit is tog duidelik dat die maatskappy se kern waardes oneties is, so hoekom hulle vir enige projekte gebruik? Ek is van mening dat hulle nie ‘n sent sou terug betaal, was hulle nie uitgevang nie.

Bernard Hellberg ·

Natuurlik nie, dankie aan ons op en wakker media

Thinus Erasmus ·

En nou gaan die Eskom menere weer vat bonusse kry vir hul groot prestasies!

leser ·

Genade, selfverryking op sy beste. Hoe groot is hierdie “pie”…….

Natan ·

McKinsey is seker ook bly apartheid is ‘n sonde, nou kan hulle met die ANC om die vleispotte sit. Toe raak dit warm met Eskom. Nogsteeds ‘n goeie transaksie. Die rente moet nogal stewig wees op daardie bedrag. Baie besighede baat by hierdie korrupte regering, terwyl ons moet glo dit is nou ware demokrasie.

Elize ·

Dit is sulke nuus wat my net weereens laat besef dat mense wat so sanik dat die wêreld moet ingryp in SA hul tyd mors. Hulle soek hierdie korrupte regering, want uit hom maak hul miljarde. Hulle voel hy vy vir ons. Vul net hul sakke.

Eish ·

Ek kom al hoe meer onder die indruk dat die wyse waarop “besigheid” gedoen word in die huidige tydsvak in der waarheid “wettige diefstal” is.
Integriteit is n haas ongekende eienskap in dié landskap waar die skaal gekalibreer is om te mislei.
” n Valse weegskaal is vir die Here n gruwel, maar in n volle gewig het Hy behae. ”
Spreuke 11:1

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.