McKinsey versoek om R1,6 miljard terug te betaal

Argieffoto: GCIS

Suid-Afrikaanse owerhede wil McKinsey, ʼn internasionale konsultasiemaatskappy, en ʼn plaaslike firma wat deur sakevennote van pres. Jacob Zuma beheer word, verplig om R1,6 miljard terug te betaal wat hulle verdien het uit ʼn kontrak met die nasionale kragvoorsiener, Eskom.

Hierdie aankondiging vererger die finansiële en reputasieskade wat McKinsey reeds gely het en is volgens die opposisie die jongste aanduiding van Zuma se rol in staatskaping.

Daar word tans ondersoek of McKinsey wetend geld van die kragvoorsiener na die finansiëledienstemaatskappy, Trillian, herlei het as ʼn manier om die kontrak met Eskom te verseker. Die firma is in dié tyd bestuur deur Ajay, Atul en Rajesh Gupta wat almal noue bande met Zuma het.

Die besluit om die geld van McKinsey en Trillian te verhaal kom nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se batebeslagleggingseenheid die goedkeuring bekom het om die bates van die omstrede Gupta-familie, ter waarde van R1,6 miljard, te bevries. Dit is een van die eerste gevalle waar die regering openlik teen die Gupta-familie opgetree het.

“Ons versoek dat hulle die R1,6 miljard terugbetaal. Dit hou direk verband met die Eskom-kontrak,” het Knorx Molelle, ʼn senior aanklaer van die NVG se batebeslagleggingseenheid, aan eNCA gesê. Molelle het gesê die owerheid sal nie aandring om inhegtenisnemings of dagvaardings voor die ondersoek afgehandel is nie.

Die NVG het nie op ʼn versoek vir kommentaar gereageer nie.

Mmusi Maimane, leier van die DA, het gesê die Guptas en Zuma moet vervolg word vir hul rol in die beweerde staatskaping. “Dit is geen geheim dat pres. Zuma onder verdenking is en by die saak betrek word deur sy alombekende verhouding met die Guptas nie,” het Maimane in ʼn verklaring gesê.

ʼn Woordvoerder vir McKinsey het gesê die maatskappy sal hul samewerking gee aan die owerhede met hul ondersoek en is gereed om ongeveer R1 miljard terug te gee wat aan hulle betaal is vir hul werk aan Eskom.

McKinsey het ʼn interne ondersoek gedoen na sy vennootskap met Trillian en het gesê die maatskappy het in Maart 2016 sy verhouding met Trillian gestaak nadat ʼn ondersoek getoon het dat daar bande met die Guptas was.

Die uitsprake is teenstrydig met ʼn weergawe wat in November aan Reuters gegee is deur vier bronne na aan die Eskom-transaksie. Hulle het gesê McKinsey het steeds voortgegaan om saam met Trillian te werk vier maande nadat die maatskappy van Trillian se Gupta-bande bewus geword het.

McKinsey het reeds verskeie vooraanstaande kliënte, onder meer Standard Bank, verloor weens die omstredenheid.

Trillian het nie gereageer op ʼn versoek vir kommentaar nie, maar het in November ontken dat hy enigsins oortree het in sy hantering van die Eskom-kontrak.

Zuma het vroeër gesê hy sal ʼn kommissie van ondersoek aanstel om die bewerings rakende staatskaping te ondersoek. Zuma en die Gupta-familie ontken dat hulle enigsins oortree het.

Zuma se woordvoerder het nie op ʼn versoek vir kommentaar gereageer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.