Mdluli en kie se bates bevries

Richard Mdluli (30 Julie 2019) (Foto: African News Agency/ANA)

Richard Mdluli, Heine Barnard en Solomon Lazarus, asook hul gades en Mdluli se eksvrou, se bates ter waarde van meer as R13 miljoen is bevries.

Dít volg nadat die Pretoriase hooggeregshof in Junie ’n bewaringsbevel aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se batebeslagleggingseenheid toegestaan het.

Dié bewaringsbevel is eindelik Dinsdag aan die betrokke partye beteken. Die partye sluit in Mdluli, Barnard en Lazarus, hul vroue, Vusiwane Mdluli, Juanita Barnard en Sandra Lazarus, asook Mdluli se eksvrou, Theresa Lyons.

Bates van John en Heena Appalsami van die verhuringsagent Daez Trading BK, wat by die saak betrek word, is óók bevries. Hulle word egter nog nie van enigiets aangekla nie.

Mdluli, die polisie se voormalige hoof van misdaadintelligensie, die voormalige verkrygingsbestuurder, Heine Barnard, en voormalige finansiële hoof van die Staatsveiligheidsagentskap, Solomon Lazarus, staan al drie tereg op aanklag van korrupsie, bedrog en diefstal.

Solomon Lazarus en Heine Barnard tydens ‘n vorige verskyning in die hof. (Foto: Verskaf)

Sindisiwe Seboka, woordvoerder van die ondersoekdirektoraat (OD) van die NVG, sê dié aanklagte hou verband met bewerings van growwe misbruik van die polisie se geheime geldfonds tussen 2008 en 2012.

“Dit sluit in betaling vir private reise na China en Singapoer, die private gebruik van staatsgetuies se huise, omskakeling van dié eiendomme vir persoonlike gebruik en die verhuring van Mdluli se private woning aan die staat om sy verband te betaal.”

Adv. Ouma Rabaji-Rasethaba, adjunk- nasionale direkteur van openbare vervolging en hoof van die batebeslagleggingseenheid, verwelkom die bewaringsbevel wat toegestaan is.

Rabaji-Rasethaba verduidelik dat die NVG ’n tweeledige strategie volg om diegene te vervolg wat verantwoordelik is vir die plundering van staatshulpbronne. Dié strategie sluit in strafregtelike vervolging, asook die bevriesing van bates.

“Ons sal nie toelaat dat diegene wat by misdaad baat gevind het, aan hierdie winste vasklou nie. Hulle moet voel dat misdaad nié betaal nie.”

Mdluli en sy medebeskuldigdes sal weer in November in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

SjN ·

Dit is al 14 jaar gelede wat dit gebeur het en die saak word weereens uitgestel. Wie doen nie hul werk.

Wondermaarnet ·

Die mense met lood aan hul voete en hande wat so stadig werk en “cover” vir hul kaders is die mense wat nie hul werk doen nie.

Swerwer ·

Genade, waarom sit Zuma dan nog nie in die tronk nie. Almal word nou wild en wakker aangekeer en tronk toe gestuur maar Zuma, Cele en Malema kom net absoluut niks oor nie!

domheks ·

Waar gaan die geldjies heen as die eindomme verkoop/opgeveil word? Na ‘n ander kader se sak?

Herman L ·

Solank daar korrupte senior offisiere in die polisie is, sal misdaad nie uitgeroei kan word nie. Die feit dat dit 14 jaar neem om by hierdie punt te kom beteken hulle het maatjies wat hulle beskerm! Gaan hierdie maatjies ooit vasgevat word? Miskien wanneer die perde horings kry!

Nie Verbaas ·

En ek vra weer die vraag, wat van Magashule, Zuma en ander politieke “menere”?

Wondermaarnet ·

Daar is so baie sake teen ANC lede dat dit meer as 100 jaar sal neem om al die sake aan te hoor al word sake nie uitgestel nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.