Mdluli se verhoor nóg ʼn keer uitgestel

Richard Mdluli, die voormalige hoof van misdaadintelligensie van die polisie. (Foto: NVG/OD-kommunikasie)

Die bedrogverhoor van Richard Mdluli, die polisie se voormalige hoof van misdaadintelligensie, is Dinsdag weer uitgestel nadat die verhoor reeds verlede maand in die hooggeregshof in Pretoria uitgestel is.

Sindisiwe Seboka, woordvoerder van die ondersoekdirektoraat (OD) van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het destyds gesê die saak sal op 20 Julie aangehoor word, maar is Dinsdag weer tot 7 September uitgestel.

Mdluli het reeds vier keer tevore versuim om by die hof op te daag en het glo vorige hofverrigtinge misgeloop weens swak gesondheid. Hy het eindelik op 19 Junie in die hof verskyn nadat ʼn lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik is, maar dié is ook uitgestel.

Mdluli se medebeskuldigdes, Heine Barnard en Solomon Lazarus, het nie Dinsdag saam met hom in die hof verskyn nie weens Covid-19-verwante oorsake. Barnard is ʼn voormalige verkrygingsbestuurder en Lazarus die voormalige finansiële hoof by die misdaadintelligensie-eenheid.

Mdluli, Barnard en Lazarus staan almal tereg op aanklag van bedrog, korrupsie en diefstal wat met die plundery van die polisie se geheime geldfonds tussen 2008 en 2012 verband hou.

Seboka het gesê die aanklagte teen Mdluli en sy medebeskuldigdes hou verband met beweringe van growwe misbruik van die polisie se geheime geldfonds.

“Dit sluit in betaling vir private reise na China en Singapoer, die private gebruik van staatsgetuies se huise, omskakeling van dié eiendomme vir persoonlike gebruik en die verhuring van Mdluli se private woning aan die staat om sy verband te betaal.”

Volgens Seboka wag Mdluli nog op terugvoer van die staat oor sy versoek om bystand met sy regskoste. Barnard en Lazarus het intussen ook aansoek gedoen by die staat vir finansiële hulp om hul regskoste te delg.

Mdluli dien tans ʼn vyf jaar vonnis uit in ʼn afsonderlike saak nadat hy skuldig bevind is aan ontvoering, aanranding en ernstige aanranding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Androclus ·

Hy wil die selfde streke probeer uit haal wat Zuma gedoen het.

capie ·

Ek kan die kloutjie nie mooi by die oor kry nie. Hy dien tans tronkstaf uit, maar n lasbrief word vir sy inhegtenisneming uitgereik. Hy is dan alreeds in die tronk. Moet korrektiewe dienste nie sien dat hy in die hof verskyn nie, of word mense nou weer omgekoop of onwettige opdragte gegee, papiere wat wegraak. dalk doen hy tronkstraf deur nooit in die tronk te wees nie.

koos10 ·

capie. Ek dink die lasbrief was uitgereik voordat hy gevonnis was vir die ander saak.

Francois ·

Elke saak word op sy eie meriete hanteer, ongeag waar die beskuldigde hom bevind. Dit is uiteraard makliker om die lasbrief te bestel as hy n vaste adres het(in die geval die tronk) Die lasbrief is soos ‘n kennisgewing om op ‘n sekere datum op ‘n sekere plek(hof) te verskyn. Beskuldigde moet dus ook op ‘n lasbrief uitgereik en bestel die kans gegun word om regsverteenwoordiging te verkry. Elke beskuldigde word van hierdie basiese voorreg voorsien.

DEON ·

Bere hom ook maar eerder soos Zuma, hulle almal maak van die regstelsel ñ groot bespotting.

Anoniem ·

Kry vir jul, jul wil mos nie die hele Republiek van Suid Afrika se wettige landsburgers dieselfde behandel nie. Daar is mos verskeie wette vir sekere groepe en die wettiges/onskuldiges kry die swaarste straf en boetes en media dekking vir beswaddering van die persoon. Die kriminele kom mos die ligste af en hul name word nie bekend gemaak nie, rassehaat word slegs gebruik wanneer dit die Regering pas vir propaganda.

Harley Davidson ·

Dit is n goeie taktieke stel uit ,stel uit en dan verdwyn dit kyk maar Zuma,malema,shivambo. Die sake kom nooit by vonnisoplegging nie.

gatgogga ·

Ons regstelsel werk op die beginse: hoekom na more uitstel wat jy na oormore kan uitstel.

Cherokee ·

Dinge sou soveel anders wees as PW Botha nog die sweep geklap het.

Jack ·

Zuma streke en die regstelsel is te vrot om hom vas te vat. Verhoor hom in absentia. Die wet kan mos verander word kort net n tjap van ramaphosa.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.