Mduduzi Manana, adjunkminister van hoër onderwys en opleiding, het bedank.
Dr. Bongani Ngqulunga, woordvoerder in die presidensie, het Saterdagoggend bevestig dat Manana sy bedanking ingehandig het.
Ngqulunga het in ʼn verklaring gesê sy bedanking is deur pres. Jacob Zuma ontvang en aanvaar.
“Die president het Manana bedank vir sy bydrae tot die werk van die regering gedurende sy ampstermyn,” het hy gesê.
ʼn Koor stemme het vroeër geëis dat Manana moet bedank óf afgedank word nadat hy in Augustus betrokke was by die aanranding van ʼn vrou in Cubana in Fourways.
Die voorval het vroeër in Augustus in ʼn kuierplek in Johannesburg plaasgevind ná ʼn hewige woordewisseling oor wie pres. Jacob Zuma glo moet opvolg. Die vrou het blykbaar aangevoer Manana is gay voordat die beweerde aanval plaasgevind het. Die woordewisseling het glo ook buite in die parkeerterrein voortgegaan. Die aanranding is by die Douglasdale-polisiestasie aangemeld.
“Ek vra onvoorwaardelik om verskoning aan Mandisa Duma, haar familie, die regering en alle Suid-Afrikaners, veral vroue, rakende die voorval die afgelope naweek,” het Manana ná die voorval in ʼn verklaring gesê. “Ongeag die uittarting moes ek van beter geweet en beheer uitgeoefen het. Die voorval moes nooit plaasgevind het nie.”
Manana het op 10 Augustus in die hof verskyn en is op borgtog van R5 000 vrygelaat.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
30 Kommentare
Kom ons wees eerlik met mekaar hy sal net weer sy verskyning in ‘n ander pos en hoedanigheid sy verskyning maak as herontplooide kader.
Dis die eerbare ding om te doen, indien dit sy eie besluit is. Baie lank getalm. Minstens kan die vervolging nou voortgaan.
Hy sal niks oorkom nie. Hulle beskerm mekaar in sulke tye
En waar is sy volgende possie?
Nie dat ek nou iets impliseer nie. Ek vra maar net heel onskuldig met my tong in my kies.
Kan zuma nie ook die’ eerbare stap neem Manana se voorbeeld volg nie?DIT sal ‘n geskiedkundige dag in die’ land se geskiedenis wees!