Medebeskuldigde dien klag van intimidasie in teen Mooinooi-‘meesterbrein’

Koos Strydom in die hooggeregshof in Mogwase (18 September 2018). Foto: Landi Slatter

Die medebeskuldigde in die saak oor die moord op Mandie Janse van Rensburg het ’n klag van intimidasie teen Koos Strydom (53), hoofbeskuldigde in dié moordsaak, aanhangig gemaak.

Die medebeskuldigde mag nie in dié stadium geïdentifiseer word nie aangesien hy een van dié is wat van verkragting aangekla word in die sogenaamde Mooinooi-moordsaak rakende die opspraakwekkende moord op Joey en Anisha van Niekerk. Strydom word in daardie saak as die “baasbrein” agter die moorde bestempel.

Adrian Nell, Strydom se regsverteenwoordiger, het aan Maroela Media gesê die vrou wat Dinsdag begin getuig het en nie geïdentifiseer wil word nie, het haar getuienis Woensdagoggend voortgesit. Die staat het teen Woensdagmiddag begin om sy tweede getuie, ook ʼn werknemer van Strydom, te ondervra.

Dié getuie was ook ʼn medebeskuldigde in die Mooinooi-saak, maar die klagte teen hom is intussen teruggetrek. Hy is sedertdien in ʼn getuiebeskermingsprogram geplaas.

“Die getuie beweer hy het dreigemente ontvang toe hy saam met hulle [Strydom en die medebeskuldigde] in die selle was,” het Nell gesê.

Maroela Media het vroeër berig Strydom en sy medebeskuldigde word aangekla van moord, sameswering om moord te pleeg, roof met verswarende omstandighede, die onwettige besit van ʼn vuurwapen en die onwettige besit van ammunisie. Strydom staan ook tereg op ʼn bykomende klag van intimidasie.

Strydom en die medebeskuldigde het onskuldig gepleit op alle klagte teen hulle.

Staatsaanklaer Rodger Muraume het Dinsdag in die hof gesê dat Janse van Rensburg ʼn deel van haar kleinhoewe aan Strydom sou verkoop en die twee het lewenspolisse ter waarde van R1,8 miljoen op die ander uitgeneem as sekuriteit.

Strydom het gevolglik ná Janse van Rensburg se moord op 24 Junie 2014 die R1,8 miljoen ontvang. ʼn Amptelike nadoodse ondersoek het bevind dat Jansen van Rensburg gesterf het weens ʼn skietwond aan haar kop. Sy is doodgeskiet in ʼn voorval wat aanvanklik as ʼn plaasaanval bestempel is.

Die saak duur vandag voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Lizzy ·

Die waarheid kom altyd uit nè. Hoop julle kry wat julle toekom, almal van julle skuldiges.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.