Verskeie organisasies het hul meegevoel uitgespreek ná die afsterwe van David Sipunzi, hoofsekretaris van die National Union of Mineworkers (NUM).
Sipunzi is op Kersdag omstreeks 11:00 oorlede, maar die oorsaak van sy afsterwe is nog nie bevestig nie.
Solidariteit neem met groot hartseer kennis van Sipunzi se afsterwe en betoon medelye met Sipunzi se familie en sy kollegas by die NUM.
Volgens Solidariteit was Sipunzi ʼn kryger vir billike behandeling in die werkplek, maar ook ʼn samebindende figuur wat politiek en ideologie tydelik ter syde kon skuif ter wille van die bevordering van vreedsame arbeidsverhoudinge.
“Benewens David se verbintenis tot die bevordering van werknemers se belange, het hy hom ook beywer vir eenheid onder vakbonde, en hy kon bo verskille uitgestyg om eenheid te bevorder,” verduidelik Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit. “David sal ook onthou word vir sy unieke benadering tot onderhandelinge waar hy in geen onduidelike terme sy standpunt kon stel en nooit geskroom het om sterk standpunt in te neem oor kwessies wat hom na aan die hart gelê het nie.”
Solidariteit voer aan dat Sipunzi juis te midde van hierdie ongelooflik uitdagende jaar uitgestaan het as ʼn leidende figuur vir veiligheid onder in Suid-Afrikaanse myne.
“David het veral gedurende die jaar herhaaldelik sy kommer teenoor mynbase en die
departement van minerale hulpbronne en energie uitgespreek dat daar nie genoegsame balans gevind is om mynwerkers teen beide Covid-19 en afleggings te beskerm nie,” sê Du Plessis.
“David se voortydige afsterwe kom in ʼn tyd waarin arbeidsverhoudinge binne Suid-Afrika en die wêreld na ongekende waters gedwing is. Dit is ʼn reuseverlies vir sy familie, die NUM en arbeidsverhoudinge dwarsoor ons land. Hy laat egter ʼn onuitwisbare voetspoor in ons wêreld na en ons sal nog vir jare lank terugverwys na David se nalatenskap in die bedryf en die besondere manier waarop hy sake benader het. David se nalatenskap leef voort in die wyse waarop hy ander kon beïnvloed en vyande met mekaar kon versoen,” sluit Du Plessis af.
Die SAKP het gesê Sipunzi sal onthou word vir sy onwrikbare toewyding om werkers se probleme te takel.
Die Thabo Mbeki-stigting het Sipunzi beskryf as “ʼn toegewyde en nederige kader, ʼn ware staatmaker”.
Hy het in 1985 by die NUM aangesluit. Hy is in 1999 as die streeksekretaris in die Vrystaat aangewys en is in 2015 as hoofsekretaris verkies. Hy het ook as adjunkpresident gedien van die wêreldfederasie van vakbonde.