Medelye ná AMSA-voorval; volledige ondersoek geëis

Die skade Woensdagoggend by ArcelorMittal Suid-Afrika (Amsa) se aanleg in Vanderbijlpark (17 Februarie 2021) (Foto: Numsa/Facebook)

Solidariteit het vandag met skok kennis geneem van die voorval by ArcelorMittal Suid-Afrika (Amsa) se Vanderbijlpark-aanleg wat tot dusver een werknemer se lewe geëis het en waarin nog twee werknemers vermis word.

Maroela Media het vroeër berig ʼn ontploffing het omstreeks 02:00 plaasgevind. Daar word in dié stadium gevrees dat die vermiste werkers onder die puin vasgekeer is.

Solidariteit spreek sy innige simpatie en medelye uit teenoor die gesinne van hierdie werknemers wat deur die tragedie geraak word.

“Dit is die derde voorval van dié aard by Amsa se Vanderbijlpark-aanleg in die afgelope 12 maande,” sê Willie Venter, adjunkhoofsekretaris van metaal- en ingenieurswese by Solidariteit. “Dit bring die integriteit van die geboue en strukture by hierdie ou aanleg onder verdenking. Duidelik is dit nie veilig nie en daar moet ʼn behoorlike ondersoek van stapel gestuur word. Ons kan nie toelaat dat nóg voorvalle plaasvind en meer werknemers se lewens in gevaar gestel word nie.”

Volgens Solidariteit moet Amsa se bestuur ʼn behoorlike risiko-analise doen om die onderliggende oorsake wat tot hierdie voorvalle aanleiding gee, te bepaal. Solidariteit voer verder aan dat die integriteit van die infrastruktuur en geboue weens die ouderdom van die aanleg in twyfel getrek word en dat dit ʼn dreigende gevaar vir alle werknemers by die aanleg inhou.

“Die veiligheid van werknemers is ononderhandelbaar. Ons kan nie toelaat dat ons lede hul lewens op die spel plaas bloot deur vir werk op te daag nie. Amsa moet verantwoordelikheid aanvaar en sy ondersoek nie net beperk tot die oorsaak van ʼn enkele voorval nie, maar hy moet hom beywer om by die kern van al die soortgelyke voorvalle uit te kom en moet bereid wees om daarop in te gaan. Tragedies soos dié een moet ten alle koste voorkom word,” het Venter bygevoeg.

Solidariteit sal enige ondersoek steun en bied aan om deel te wees van so ʼn ondersoek by die aanleg. “Solidariteit sal die ondersoek van hulp wees deur sy kennis en ervaring beskikbaar te stel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.