Medelye ná ‘sagmoedige reus’ in fratsongeluk sterf

Die Beyers-gesin. (Foto: Facebook)

Tientalle boodskappe van medelye stroom steeds in ná die dood van Van Zyl Beyers wat Vrydagmiddag in ʼn fratsongeluk dood is.

Beyers (24) was ʼn gewilde oudleerling van die Hoër Jongenskool Paarl, oftewel Boishaai. Sy ouers, Pieter en Helene, boer op die plaas Mineral Springs in die omgewing.

Beyers was ʼn plaasbestuurder op ʼn buurplaas en sou later die familieboerdery oorneem, het Helene Beyers gesê.

Volgens haar het Beyers vermoedelik aan ʼn hoogspanningsdraad bokant ʼn kweekhuistonnel geraak waar hy Vrydagmiddag besig was om te werk.

Die Drakenstein-plaaswag is inderhaas na die toneel, van waar verskeie nooddienste ook ontbied is. Hulle het Beyers op die grond aangetref, nadat hy van die leer waarop hy gestaan het, afgeslinger is.

“Gegewe die enorme ondersteuning en die noodradionetwerk, is alle toegangspaaie en -hekke oopgemaak en is geen tyd verspil [om by Van Zyl uit te kom] nie. Die reaksietyd kon nie vinniger gewees het nie.”

Luidens die plaaswag het paramedici bykans 45 minute lank vergeefs gespook om Beyers by te bring. “Ons gedagtes is met die familie wat ʼn enorme verlies moet verduur.”

Helene was ook op die toneel. “Ek het sy hand gevat en dit omgedraai. Ek het gedink dit is vol grond en wou dit skoonvee, maar toe sien ek dit is spierwit gebrand.

“Hy is dadelik doodgeskok,” het sy gesê.

“My kind… hy was so ʼn groot mens, maar hy het so ʼn klein hartjie gehad. Daar was só baie wat vir hom voorgelê het,” het Helene gesê.

“Van Zyl kon net alles doen. Hy was ʼn wonderlike mens wat nooit nee gesê het nie. Almal was lief vir hom,” het sy vertel.

Helene sê Beyers, wat ʼn allemintige 60 cm lank met geboorte was en tot meer as twee meter lank gegroei het, bly haar baba.

“Hy het altyd gespot en gesê ons moet nog ʼn baba hê sodat hy nie meer die babatjie is nie,” het sy gesê.

Sy het gesê haar man verwerk die gebeure nog bitter swaar.

Beyers het ʼn ouer broer, PC (29), en suster, Naudene (30). Helene het gesê sy vriendin, Marcelize Koen, is ook platgeslaan deur die gebeure.

Helene het gesê hulle word gedra deur die ondersteuning van die gemeenskap en dat selfs wildvreemdelinge aanbied om te help met enigiets van takies tot etes. “ʼn Mens is verstom oor hoeveel mense omgee.”

Boishaai het ook hulle medelye betuig. “Dit is met groot hartseer dat ons een van ons eie moet groet. Van Zyl Beyers (matriek 2013), oudstudent van HJS, is [Vrydagmiddag] oorlede. Sterkte aan die Beyers-familie, mag jul vrede ontvang in hierdie moeilike tyd. Van Zyl was ʼn ware Boishaaier en ʼn broer vir so baie van ons. Rus in vrede,” het die skool op sy Facebook‑blad geskryf.

Vriende van Beyers het hom onder meer beskryf as ʼn sagmoedige reus (gentle giant) en iemand wat die lewe met entoesiasme en oorgawe aangepak het.

‘n Begrafnisdiens vir Beyers word Vrydag om 11:00 by die Nederduits Gereformeerde Kerk Die Paarl (Strooidakkerk) gehou.

*Die berig is gewysig sedert dit aanvanklik gepubliseer is. – Red

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Liza ·

My innige simpatie aan die familie, het ‘n neef ook so verloor….

Albert Jürgen ·

Ons innige mmeegevoel en medelye met die Beyers Familie, ons gebed is dat die HERE JESUS julle as familie en vriende kring deur hierdie moeilike tyd van hartseer en verlies sal dra!

Sandy ·

Aai dis vreeslik hartseer. My innige meegevoel met die familie. Ek vertrou dat God julle sal dra in die moeilike hartseer tyd.

Chantel ·

Baie sterkte aan die familie en vriende in die moeilike tyd.. My gebede is by julle.

Nico Strydom ·

Dagsê Sandra
Dankie vir jou kommentaar. Hulle bynaam is wel Boishaai soos in die artikel gemeld word.
Baie dankie
Vriendelike groete
Maroela Media

hercu ·

geen menslike simpatiseer kan ‘n traan keer, geen mense twee hande uitreik kan jou leer hoe om te beweeg van lewe na dood en nie verstaan why, hoekom, waarom? ~ slegs Abba Vader kan julle troos en met geroeste-spyker-deurboorde-hande-voete sal Jesus julle dra ~ die Heilige Gees vou julle toe in ‘n vredes kokon van sagte liefde en vee die trane van rou ~ baie sterkte aan die gesin, familie & distrik

shalom

Bossie ·

Ons is werklik jammer vir jul verlies. Sterkte. RIV Van Zyl.

Naudene ·

Van Zyl se diens is Vrydag, 23 Augustus om 11h by NG Strooidak Kerk.

Jana ·

So jammer. Mag julle mooi herinneringe aan hom sy nalatenskap lank eer bied. <3

SHANNON ·

Sterkte aan familie.onthou God het n Engel nodig gehad Langs die Kruis.

Jean.Joke! ·

Ag jinne mense man…ai..My innige meegevoel vir julle..Mag Die Almagtige God jul hartseer dra deur die swaar tyd…

Kachne Ross ·

My innige meegevoel aan die Beyers familie, mag hy in VREDE rus. Ek was sy Wingerdkundige dosent by Elsenburg, so n spesiale kind wat ‘n mens net voor lief kon wees. Baie met my gegrap maar het ook altyd geluister en altyd geglimlag. Baie sterkte aan die familie, RIP seun.

Magda Joubert ·

My hart breek vir julle!Mag julle eendag berusting vind!Vier sy lewe met oorgawe!!!❤

ANNE-MARIE ·

My trane loop sommer vir jul part…Innige sterkte en meegevoel …Ek het my enigste grooooot seun 2010 verloor en ken die smart en pyn …My hart gaan uit vir julle almal Baie sterkte Geen woorde kan vertroosting bring Net by Hom is troos

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.