Medelye ná skietery by rugbyklub

(Argieffoto)

Die Pongola-rugbyklub in KwaZulu-Natal het sy innige medelye met die familie van Shown Matthews wat Vrydagaand in ʼn rooftog by die klub doodgeskiet is, betuig.

Matthews, asook een van die gewapende aanvallers, is dood toe ʼn skietery in ʼn kuierplek by die klub uitgebreek het.

Die klub het Maandagmiddag in ʼn verklaring gesê volgens inligting tot sy beskikking was drie van die ses rowers met vuurwapens gewapen – twee met handwapens en een met ʼn haelgeweer.  Sommige van die aanvallers het ook pangas by hulle gehad waarmee hulle verskeie van die klante in die kuierplek bygedam het.

“Twee aanvallers is dadelik na die kasregister en het ʼn vuurwapen op die kroegman gerig. Die kroegman het sy hande in die lug gesteek en agteruit tot in die kombuis gestap.

“Die aanvallers moes swak inligting gehad het, want daar was bitter min kontant in die kasregister. Die meeste klublede vereffen hul rekeninge op ʼn maandelikse basis met elektroniese oorbetalings,” het die klub gesê.

Die aanvallers het glo begin skiet voordat enige van hulle nog ʼn woord gesê het. Sommige klante is ook met die pangas geslaan en het geringe beserings opgedoen. Een van die gaste het met sy eie vuurwapen op ʼn rower geskiet, waarna hulle uit die kuierplek gevlug het.

Volgens die klub het nóg ʼn gas, wat ook gewapen was, daarna waarskuwingskote geskiet om die rowers af te skrik om terug te keer. Een van die rowers het glo omgedraai en weer begin skiet. Hy het slegs voertuie raakgeskiet.

“Niks is geroof nie omdat die rooftog te vinnig gestuit is en die rowers se plan skeefgeloop het. Daar is net ʼn onbevestigde verslag dat die rowers geld van ʼn potspeltafel geneem het.”

Die polisie het vroeër bevestig dat een van die rowers op die toneel doodgeskiet is. ʼn Ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie is by hom gevind. Nóg twee vermeende rowers is Maandagoggend naby die grens met Swaziland in hegtenis geneem. Die soektog na hulle makkers duur voort.

Luidens die verklaring is Matthews na die Itshelejuba-hospitaal noord van Pongola geneem waar hy ʼn ruk later dood is.

“Die lid van die publiek wat ’n aanvaller doodgeskiet het, het reeds ʼn verklaring by die polisie afgelê en sy vuurwapen vir ballistiese toetse ingegee,” het die klub gesê.

Die klub het ook ʼn beroep op die publiek gedoen om nie geslote kringtelevisiebeeldmateriaal van die voorval wat op sosialemediaplatforms geplaas is, verder te versprei nie “omdat dit die staat se saak kan verswak en dit onsensitief teenoor die betrokke families” is.

ʼn Forensiese ondersoekspan van die polisie het die toneel reeds vir leidrade gefynkam.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Michael

Dit is net jammer nie meer kliente was gewapen nie,nou is n goeie man dood oor wettelose arogantheid.

Sean

Goeie werk deur SAP om die ander 2 so gou te gevang het Hoop julle kry daai ander 3 gou

Pieter J

Hierdie wys weereens hoe belangrik dit is dat die publiek bewapen moet wees en na hul eie veiligheid moet omsien.

Eugene

Jy skiet nie waarskuwing skote as jy aangeval word nie

Willem

Ja, ek het ook eenkeer my pistool vir “ forensiese toetse” inghandig nadat ek dit gebruik het om, in die afwesigheid van die SAPS, my lewe te verdedig. My Walther TPH (‘n bykans onbekombare versamelstuk) is nooit aan my teruggegee nie en volgens die polisie gestuur om vernietig te word.