Medelye stroom in ná Mthembu se afsterwe

Jackson Mthembu, minister in die presidensie. (Foto: GCIS)

Verskeie organisasies het Donderdag hul meegevoel betuig met die afsterwe van minister Jackson Mthembu.

Maroela Media het vroeër berig die minister in die presidensie is dood weens Covid-19-verwante komplikasies. Dit volg sowat tien dae nadat die 62-jarige Mthembu positief getoets het vir Covid-19 nadat hy simptome getoon het.

Die Solidariteit Beweging het vandag sy medelye teenoor minister Jackson Mthembu se gesin en kollegas betuig ná die minister se afsterwe vroeër vandag. Die Beweging het Mthembu se gesin sterkte toegewens in hierdie moeilike tyd.

John Steenhuisen, leier van die Demokratiese Alliansie, het gesê Mthembu se afsterwe is vir hom ʼn groot skok. “Ek kan my net indink watter verwoestende impak dit op diegene het wat naby was aan hom. Namens die DA betuig ek my meegevoel aan sy familie, vriende en die party. Julle het ʼn vrygewige man met ʼn groot hart verloor wat ʼn groot sin van humor gehad het. Jackson was baie geliefd.”

Steenhuisen sê Mthembu was ʼn man van integriteit en iemand wat die groter prentjie kon sien. “Hy was altyd voorbereid om oplossings te vind vir watter probleem ook al deur die parlement in die gesig gestaar is.”

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het ook namens sy party sy medelye uitgespreek met die naasbestaandes van Mtembu. “Die VF Plus se simpatie is ook met die ANC waar Mthembu ʼn staatmaker en harde werker was. Hy was jare lank hoofsweep van die ANC en in die parlement, waar hy hom baie goed van sy taak gekwyt het. Op ʼn persoonlike vlak was hy altyd vriendelik en het mense met respek behandel.”

Groenewald sê Mthembu het self verskeie traumatiese voorvalle weens misdaad beleef. Hy was onder meer slagoffer van ʼn gewapende rooftog waartydens hy etlike kere geskiet is. Hy het dit oorleef en voortgegaan om sy werk te doen.

“Mthembu was bekend as ʼn aangename persoon en ʼn staatmaker in die ANC en sy afsterwe sal ʼn groot leemte laat.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.