Medelye stroom in ná regter se afsterwe

Regter Anton Steenkamp (Foto: Saslaw)

Anton Steenkamp, arbeidshofregter, wat dood is ná ʼn slang hom in Zambië gepik het, was ʼn man van integriteit en het ʼn beduidende bydrae gelewer tot arbeidsake, het die vakbond Amcu Dinsdag gesê.

Steenkamp (57) was saam met sy vrou Catherine met vakansie in Zambië toe ʼn swart mamba hom gepik het. Hy is Maandag oorlede.

“Hy het seker gemaak dat geregtigheid regverdig geskied,” het die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) bygevoeg. “Ons betuig ons meegevoel met sy familie, sy vrou Catherine, kollegas en alle belanghebbendes in die arbeidsbedryf.”

Die staatsdiens se bedingingsraad (PSCBC) het sy skok uitgespreek oor Steenkamp se skielike afsterwe. “Die PSBC betuig ons innige meegevoel met die Steenkamp-familie. Ons is geskok om van sy afsterwe te hoor. Ons sal hom altyd onthou as ʼn uitstekende regter en arbeidsprokureur. Hamba kahle.”

Die South African Society for Labour Law (Saslaw) het gesê Steenkamp laat ʼn nalatenskap van uitstekende werk in arbeidsreg. “Hy was ʼn uitstekende regter en arbeidsprokureur wat ʼn beduidende bydrae gelewer het tot die ontwikkeling van arbeidsreg. Hy het ook as die nasionale president van Saslaw gedien. Ons is baie hartseer oor sy afsterwe,” het Ludwig Frahm-Arp, president van Saslaw, gesê.

Frahm-Arp het bygevoeg Steenkamp het graag saam met sy vrou deur die kontinent gereis.

Lindiwe Sisulu, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, het gesê sy het die Suid-Afrikaanse Hoë Kommissie in Zambië versoek om die nodige ondersteuning aan die Steenkamp-familie te bied om die liggaam na Suid-Afrika terug te bring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hendrik ferreira

Het vandag gehoor n swart mamba het hom gepik

Ida Kriel

Wat n groot tragedie vir AL sy geliefdes en n baie groot verlies vir Suid Afrika. So jonk en het nog soveel kennis en insig gehad om mense om hom te leer en hoe om n voorbeeld te wees. Tragies as iemand sterwe wat soveel beteken het vir sy land en mense. RIV en my beste wense en medelye aan sy gesin, familie en vriende.

Heksie

Dis baie hartseer , gaan met vakansie min wetend dat hy nie sou terugkeer nie ….

jakes

Nog n slagoffer van slangbyte. 138000 mense sterf jaarliks in die wereld aan slangbyte. Nog meer mense as dit verloor ledemate deur amputasie agv slangbyte. Slange is n bedreiging vir mense en moet ten alle koste vrek gemaak word wanneer opgemerk word. Dit geld vir giftige sowel as nie-giftige slange. Het self vriende verloor deur slangbyte.

Conrad

Ek neem geen slangbyt, dodelik of met weefsel skade ligtelik op nie Jakes. Die afsterwe van enige persoon agv. slangbyt is tragies maak nie saak wat die omstandighede is daar romdom nie. Jou statistieke is bietjie uit. Daar is definitief meer as dit. Neem egter in ag dat die statistieke waarvan jy praat grootliks afkomstig is van armer 3rde wereldse lande waar mediese hulpbronne, vervoer en toegang daar toe totaal en al te kort skiet of onvoldoende is om met slang byt in die algemeen te deel. Voorsorg in terme van toegang tot of kennis van gevorderde eerste hulp vir… Lees meer »