Medelye stroom in ná roeiafrigter se dood

Nicholas Whaits (Foto: V Whaits)

Medelye het dié naweek op sosiale media ingestroom ná die dood van Nicholas Whaits, die 19-jarige roeiafrigter, toe hy en die 14-jarige William MacDonald Saterdag tydens ʼn regatta in Germiston aan die Oos-Rand deur weerlig getref is.

Maroela Media het vroeër berig die regatta is Saterdag omstreeks 17:00 by die Victoriameer in Germiston afgelas weens donderstorms in die omgewing. Deelnemers was besig om alles weg te pak toe Whaits en MacDonald deur ʼn weerligstraal getref is, het Gerhard Potgieter, stasiebevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), Sondag gesê.

Die NSRI Gauteng en paramedici wat by die regatta was, het dadelik gereageer. Mond-tot-mond-asemhaling is toegepas, maar pogings om Whaits by te bring, was tevergeefs. Whaits het in die voorval gesterf terwyl MacDonald beseer en in die hospitaal opgeneem is.

Roei SA het sedertdien sy meelewing op Facebook uitgespreek. “Ons is diep geskok en hartseer om te hoor van die weerlig-voorval wat vandag tydens een van ons regattas plaasgevind het en gelei het tot die dood van ʼn afrigter en die besering van ʼn atleet,” lui die inskrywing.

Roei SA het gevolglik besluit om die res van die regatta te kanselleer. “Hierdie moeilike besluit is geneem uit die diepste respek vir diegene wat deur die voorval geraak is en in die belang van die breër roeigemeenskap.”

Nicholas Whaits (Foto: Facebook)

Bishops Diocesan College in Kaapstad het sy meegevoel betuig met Somerset College in Somerset-Wes waar Whaits ʼn afrigter en oudleerder was. Hy het ook ʼn jonger sib wat by Somerset College skoolgaan.

“Ons wil graag ons medelye aan almal by Somerset College stuur. Julle het ons volle ondersteuning.”

Die Victoriameer-roeiklub het ook sy skok en hartseer op sosiale media gedeel. “Ons bied ons innige meegevoel aan die gesinne en vriende van die jong afrigter en verseker julle dat ons gedagtes by julle in hierdie moeilike tyd is. Ons gaan voort om te bid vir ʼn spoedige herstel vir die jong Somerset College-roeier en ons harte gaan uit na die studente en personeel van Somerset College in die algemeen, veral hul roeiklub.”

Honderde sosialemediagebruikers het in hul persoonlike hoedanigheid medelye met Whaits se naasbestaandes betuig. Een gebruiker het die voorval as ’n “tragiese gebeurtenis vir die hele Suid-Afrikaanse roeigemeenskap” bestempel.

ʼn Saalbyeenkoms is Maandagoggend by Somerset College gehou ter nagedagtenis aan Whaits waarna die roeispan kon agterbly vir traumaberading. Vlae het vandag halfmas by die skool gehang en die skoolgemeenskap is genooi om swart armbande te dra uit roubetoon aan Whaits.

“Nick sal onthou word as ‘n intelligente, vriendelike en opregte mens wat vreugde daaruit geput het om jonger studente te mentor. Tydens sy lang verbintenis met Somerset College, het hy die bewondering van sy eweknieë en hoofde deur sy deernis en toewyding verdien,” sê Megan van der Poll, woordvoerder van Somerset College.

Thokozile Xasa, minister van sport, het vroeër ook háár medelye met die familie van die oorledene betuig. “Ons is hartseer om van die dood van Whaits te verneem. Ek wil graag my medelye met familie en vriende van Whaits, sowel as die roeigemeenskap en die hele sportfamilie oordra,” het Xasa gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pretorius ·

Sal julle asseblief die feite reg kry iemand is dood en julle doen nie die moeite om eers die dorp reg te kry nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.