Medelye stroom in vir vermoorde boer

Darryl en Jessica Richter saam met hulle twee dogters. (Foto: Facebook)

Medelye vir die 34-jarige Darryl Richter, ’n boer wat Saterdagaand in die Oos-Londen-omgewing vermoor is, stroom sedert sy dood in.

Maroela Media het berig dat Richter Saterdagaand op patrollie in die omgewing van Oos-Londen was toe hy met messe aangeval en vermoor is.  Hy het teruggeveg en twee van die drie aanvallers doodgeskiet. Die derde aanvaller is steeds soek.

Richter het op die plaas Waterfall buite Oos-Londen geboer en word oorleef deur sy vrou, Jessica, en twee jong dogters.

Tris Kretzmann, ’n vriendin van Richter, skryf op Facebook dat hy nie net haar beste vriendin se man was nie, maar ook soos ’n ouer broer vir haar gevoel het.

“Jy het altyd ’n luisterende oor gehad wanneer ek dit nodig sou kry en altyd raad gegee as ek nie geweet het wat om te doen nie. Jy was ’n beste vriend vir my man en die wonderlikste oom vir ons kinders.

“Ons sal hulle altyd van die avonture vertel waarop jy hulle geneem het wanneer hulle daar gekuier het.

“Ons sal mooi na jou geliefde Jessica kyk en na jou kinders omsien asof hulle ons eie is,” skryf Kretzmann.

Natalie Leach het in ’n inskrywing op haar Facebook-blad gesê dat sy hartgebroke is oor die verlies van ’n “wonderlike mens”.

“My hart is egter nog meer gebreek dat my dierbare vriendin Jessica en jou pragtige meisiekinders nie nog ’n dag saam met jou sal kry nie.

“Al wat ek kan dink, is dat God jou meer nodig gehad het.”

Die aanval op Richter is ook uit verskeie oorde veroordeel en ’n beroep is onder meer weer op die regering gedoen om landelike veiligheid te prioritiseer.

“Die moord is nog ʼn bewys dat landelike veiligheid steeds nie ʼn prioriteit is vir die ANC-regering nie,” sê Piet Mey, VF Plus-parlementslid en provinsiale leier in die Oos-Kaap.

“Plaasaanvalle soos hierdie moet voor die deur van die ANC-regering gelê word aangesien dié soort misdaad tot ʼn groot mate beperk kan word indien spesialis-eenhede teen plaasaanvalle op die been gebring word.”

Die aanval op Richter kom slegs 29 dae na die moord op die 79-jarige boer, John Viedge, in die nabygeleë Nqanqarhu-omgewing (voorheen Maclear).

“Die VF Plus doen ’n beroep op die polisie om sy landelike veiligheidstrategie in werking te stel en sy pogings te verskerp om plaasaanvalle te voorkom.”

“Dit is bitter tragies. Darryl is ’n held. So kan dit nie aangaan nie,” sê Ernst Roets, AfriForum se hoof van beleid en aksie.

Dianne Kohler Barnard, DA-parlementslid, sê die feit dat Richter self bewapen was en kon terugbaklei, beklemtoon die belangrikheid om ’n vuurwapen vir selfverdedigingsdoeleindes te besit.

“Hierdie is maar een van vele gewelddadige aanvalle op boere en plaaswerkers oor die afgelope drie maande. Dít is wat Suid-Afrikaanse boere op ’n daaglikse basis, 24 uur per dag, in die gesig staar.”

Kohler Barnard is van mening dat indien Bheki Cele, polisieminister, sy sin kry om Suid-Afrikaners te ontwapen, die oortreders waarskynlik ná die moord op Richter moontlik sou kon wegry om ook sy gesin aan te val en te vermoor.

“Ons boere en plaaswerkers is blootgestel aan aanvalle en dit wil voorkom asof Bheki Cele nie tevrede sal wees tot hulle hulself nie meer teen marteling en dood kan verdedig nie.

“Ons innige meegevoel gaan aan Richter se weduwee, kinders en familie uit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Belinda ·

soos dit deesdae aangaan, sal ons geen boere oor he nie en dan gaan die mense begin honger lei….

Werner ·

Ou bheki kan wette maak tot die perde horings kry hy sal geen wapen van my kry nie

Persheks Adri ·

Hoed gaan ons NIE ontwapen NIE punt! Ons mag dit nie toelaat nie. Hoe dink hy moet ons onsself beskerm teen verkragting en moord ens? Hy kan dit waaragtig vergeet so vinnig soos hy daaraan gedink het. Nou wil hy van ons kriminele maak se agterent man

Misky ·

Woorde ontbreek ‘n mens na so afskuwelike daad en dit hou eenvoudig nie op nie. Sterkte aan Jessica en haar kosbare twee dogtertjies wat nou sonder ‘n pappa moet groot word

Nie Verbaas ·

Alle simpatie aan die familie. Dit is absoluut aaklig dat hy met sy lewe moes boet. Vir die ander gemors wat dood is, geen simpatie.

Vonny ·

Mnr Ramalhosa!!! Wanneer gaan jy onz begin help????
Ka.n ..Die VSA nie help???
Afriforum en solidariteit ons enigste hoop…???!
Onz bid vir die jong weduwee en kinders. So sinneloos….????

Anel ·

Waar is die hoed se kommentaar? Sou seker onder sy hoed uit gespring het as slegs die aanvallers dood was. Sterkte aan hierdie jong gesin en die res van die familie.

Jacques ·

Ń mens lees altyd hoe die verskeie partye díé moorde “ten sterkste veroordeel”, maar sien nooit regtig daadwerklike oplossings óf dat dit enigsins beter gaan nie. Ek besef mense doen wat hulle kan met die hulpbronne wat aan hulle beskikbaar is, dis net só hartseer dat dit nie stop gesit kan word nie. My medelye aan almal wat op ń daaglikse basis op so ń hoë risiko probeer ń lewe maak vir hul-self en talle ander.

SjN ·

Simpatie aan sy geliefdes, waar is Hoedeman se 72 uur kitsplan oplossing of is dit nie hier van toepassing nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.