‘Medepligtige’ in Patel-saak ontsnap

Rameez en Fatima Patel. Foto: Facebook

Die polisie in Polokwane het ʼn reusesoektog van stapel gestuur na drie verhoorafwagtende gevangenes wat uit aanhouding ontsnap het.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê die drie het Maandag tussen 05:00 en 06:00 ontsnap deur die dak in die gebied waar hulle geoefen het stukkend te sny.

Charls Chialana (30) is in hegtenis geneem vir huisroof. “Hy is ook ʼn medepligtige in die saak van Rameez Patel wat van die moord op sy ma aangekla word,” het Ngoepe gesê.

Maroela Media het vroeër berig Patel is op 30 September in hegtenis geneem in verband met die moord op sy ma, Mahejeen Banu Patel (51), by haar huis in Polokwane vroeër in September. Hy was toe uit op borgtog nadat hy aangekla is in verband met die moord op sy vrou, Fatima (28), in April 2015.

Rameez se pa, Feroz Patel (54), is in Augustus 2016 in die Ladine-nywerheidsgebied in Polokwane in sy motor doodgeskiet. Die polisie het destyds gesê Feroz is deur vier mans in ʼn grys Volkswagen agtervolg waarna ʼn jaagtog ontstaan het. Feroz het beheer oor sy motor verloor en teen ʼn heining gebots. Die verdagtes het uit hul motor gespring en hom doodgeskiet voordat hulle ʼn sak uit sy kattebak gehaal en verdwyn het. Niemand is nog in verband met dié moord in hegtenis geneem nie.

Die ander twee verdagtes wat ontsnap het, is Steven Rasenakana (19) wat in hegtenis geneem is vir huisroof, en Peter Moyo (26) wat ingevolge die Wet op Immigrasie vasgetrek is. Die omstandighede rondom die verdagtes se ontsnapping word ondersoek.

Enigiemand met inligting oor die verdagtes of die voorval kan Kapt. Richard Boshomane by 084 322 1341 bel.

Lees alle vorige berigte oor Rameez Patel op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.