‘Medepligtige’ vas oor miljoene se bedrog by Absa

Foto: Absa Groep

ʼn Vermeende medepligtige is in hegtenis geneem in verband met miljoene rand se bedrog by Absa.

“Walter Dzulani Mashau (26) het Woensdag vir die tweede keer in die Waterval-landdroshof in Limpopo verskyn,” het kapt. Matimba Maluleke, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke), gesê. Hy bly in aanhouding tot 7 Oktober vir sy formele aansoek om borgtog.

Mashau is Vrydag by Mashau in hegtenis geneem deur die Valke se eenheid wat ernstige handelsmisdaad ondersoek. “Dit volg ná ʼn omvattende ondersoek in ʼn saak waar ʼn bankkonsultant van die Absa-tak in Elim, na bewering R25 miljoen van die provinsiale regering se departementele rekeninge gesteel het,” het Maluleke gesê.

Mashau het na bewering saam met sy vriend, Fhatuwani Sydwell Mudzanani (27) gewerk om die geld te steel en dit na hul bankrekeninge oor te plaas.

Mudzanani, ʼn konsultant by die Elim-tak, is vroeër in hegtenis geneem op aanklag van bedrog en is op 31 Julie vrygelaat op borgtog van R10 000 in dieselfde hof. “Tydens sy inhegtenisneming het beamptes beslag gelê op vier Absa-kitsbankkaarte, twee onttrekkingstrokies en meer as R2 000 kontant. Hy moet op 20 Oktober weer in die hof verskyn.”

Maluleke het gesê die ondersoek duur voort na nog verdagtes.

In ʼn afsonderlike saak het ʼn Limpopo-staatsaanklaer, wat in Thohoyandou gebaseer is, Woensdag in die plaaslike landdroshof verskyn op aanklag van korrupsie. Ratshilumela Leonard Makhado is op 15 Mei 2020 deur die Valke in hegtenis geneem. Hy het na bewering R6 000 omkoopgeld van ʼn klaer geëis in ʼn saak van roekelose of nalatige bestuur om die aanklagte terug te trek. Hy is vrygelaat op borgtog en moet op 30 November 2020 weer in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Persheks Adri ·

Hierdie borg maak niks sin nie dit kan nie eers die bedrog regverdig nie! Liewe genade waar gaan dit eindig?

Faruk ·

Hoe is dit moontlik dat een land so baie skelms kan bevat? Om elke hoek en draai is een!

Yvonne ·

As daar poste beskikbaar kom…wie kry die werk …..beslis nie n persoon wat n skoon rekord het of tevrede is met net n salaris nie…..dis so hartseer

Moedeloos ·

Vir my part kan geen borgtog toegelaat word nie. As jy wil skelm wees moet jy sit.

Anoniem ·

Ek is ‘n afgetrede Absa Bank amptenaar ……………………maar nooit was daar sulke bedrog in my tyd in diens gepleeg nie!!! Waar gaan ons land heen!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.