Medevoorsitter van grondwet-hersieningskomitee bedank

Vincent Smith. Foto: Henk Kruger/ANA

Die ANC-LP Vincent Smith het as medevoorsitter van die parlement se grondwetlike hersieningskomitee bedank, maar hy bly aan as LP en beweer hy het nie korrup opgetree nie.

Dit het oor die naweek aan die lig gekom dat Smith honderde duisende rand van die omstrede maatskappy Bosassa ontvang het.

Bosassa het omvattende tenders van die departement van korrektiewe dienste gekry terwyl Smith voorsitter van die portefeuljekomitee oor korrektiewe dienste – die waghondkomitee – was. Verskeie van hierdie kontrakte was volgens baie kenners hoogs bedenklik.

Smith, wat ook vanoggend bedank het as voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor justisie en grondwetlike ontwikkeling, voer aan hy het nie oneties opgetree nie.

Hy het wel erken dat hy in 2015 en 2016 twee persoonlike lenings van Bosassa se operasionele hoof, Angelo Agrazzi, ontvang het, wat hy moet terugbetaal. Die totale bedrag betrokke is R615 000, wat volgens Smith nodig was om te betaal vir sy dogter se studies.

Smith het Dinsdagoggend met die ANC-hoofsweep, Jackson Mthembu, vergader, en aangedring daarop om sy naam in ere te herstel deur voor die parlementêre etiekkomitee en die ANC se etiekkomitee te verskyn.

In reaksie het Mthembu Smith se keuses onderskryf en sy integriteit aangeprys. Hy het die tydsberekening van die onthullings bevraagteken as teken dat dit teenstaanders van onteiening sonder vergoeding is wat dit rugbaar gemaak het.

Mthembu het nie aangedui of die ANC vir Smith gaan vervang as medevoorsitter van die grondwetlike hersieningskomitee nie. Intussen sit die ander medevoorsitter, die ANC-LP Lewis Skweyiya, in die voorsitterstoel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Ander Annie ·

Ek is jammed om dit te lees, want hy het uitstekende werk gedoen met die SAUK se ondersoek. Hy het goeie Voorsitter kwaliteite. Ek hoop hy kan positiewe antwoorde gee.

Ja Nee ·

Moet net asb nie die woord integriteit en die anc in dieselfde berig plaas nie.

jaco ·

Met ‘n salaris as parlementslid van R1. 3miljoen per jaar plus ‘n vet petroltoelae plus ‘n vet onthaaltoelae plus verniet vlieg, waarom moet hy dan hoegenaamd geld leen vir sy dogter se studies? Waarom kry sy dan ook nie beurse nie? Haar pa se politiek is tog reg genoeg dat sy beurse kan kry, al is sy en hy eintlik “not black enough”.

dolce ·

R615 000 vir sy dogter se studies? swot sy aan die gucciod prada universiteit?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.