Media geroskam ná Gordhan-verklaring uitlek

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, hoof van die kommissie van ondersoek na staatskaping. (20 Augustus 2018). Foto: Karen Sandison/ANA

Adjunkhoofregter Raymond Zondo wat die voorsitter van die kommissie van ondersoek na staatskaping is, het Donderdagaand gesê ʼn ondersoek sal gedoen word oor die uitlek van getuieverklarings voor daardie getuies voor die kommissie kon getuig.

“Sedert die openbare verhore van die kommissie in Augustus vanjaar begin het, het verskeie dele van die media inligting versprei en gepubliseer wat deel is van die inhoud van getuies se verklarings wat by die kommissie ingedien is in verband met die ondersoek van die kommissie nog voordat die getuies dié getuienis voor die kommissie kon lewer en sonder geskrewe toestemming van die voorsitter,” het Zondo gesê.

“Die jongste voorval hou verband met die verklaring van minister Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, wat by die kommissie ingedien is. Dieselfde ding het gebeur met die verklaring wat ingedien is van me. Barbara Hogan, voormalige minister van openbare ondernemings. Beide [Gordhan en Hogan] moes nog hul getuienis voor die kommissie lewer.”

Gordhan se 68 bladsy lange verklaring is Donderdag aan die media gelek en talle het daaroor berig.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings (Foto: ANA)

Terwyl die ondersoek aan die gang is om te bepaal wie dié verklaring laat uitlek het, het Zondo gesê die media moet gehoor gee aan die regulerings waaronder die kommissie funksioneer.

Luidens dié regulerings mag geen persoon enige dokumente wat by die kommissie ingedien is, bekend maak of inligting daaruit publiseer of versprei sonder die geskrewe toestemming van die voorsitter nie.

Zondo sê dit is ook ʼn misdaad om enige dokument wat aan die voorsitter gestuur is “te onderskep” terwyl dit nog op pad na die voorsitter is. Dié oortreding kan ʼn boete of tronkstraf tot gevolg hê.

“Hierdie regulasies maak dit duidelik dat dit ʼn misdaad is vir enigiemand, insluitend die media, om hierdie inligting te publiseer sonder die geskrewe toestemming van die voorsitter. Nadat ʼn getuie sy of haar getuienis voor die kommissie gelewer het en sy of haar verklaring is tydens ʼn openbare verhoor ingedien, mag die media hierdie verklaring of dele daarvan publiseer, tensy die voorsitter andersins beveel.”

Zondo het ʼn beroep op mediahuise en verslaggewers gedoen om nie die kommissie se regulerings te oortree nie en die regte prosesse te respekteer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Pieter ·

Dis soms moeilik om te weet waar die ideaal is om die streep te trek. Waar lê die grense van mediavryheid? Waarom moet die inligting eers weerhou word van die publiek? Moet die inhoud eers gesensor word vóór die publiek net dele daarvan mag verneem? Is dit regtig in openbare belang dat al die sensitiewe inligting in die openbaar bekend moet wees?

Net nog een ding:
Praat ons van “regulerings”, of eerder van “regulasies” of dalk “bepalings”?

Henk ·

En nou sal die media weer eis dis sy reg om te publiseer wat hy wil. Die media is mos verhewe bo die reg

James ·

Daar is so baie voorbeelde waar joernaliste net die sensasie rapporteer en niks voel vir die skade wat hulle veroorsaak nie. Nodeloos om te se word daar ook nooit n korreksie geplaas as hulle verkeerd bewys word nie.

nico k ·

Die ander kant van die saak is, is hierdie inligting veronderstel om geheim te wees? Dit gaan tog bekend gemaak word, so is dit so erg.

Genieve ·

een vir een sal aan die lig kom, wonder wies volgende seker Malema

J ·

Die verspreider sit in jou kantoor meneer waar die verklaring ingehandig is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.