Media gewaarsku oor Oscar-verhoor

Oscar Pistorius op dag 2 van die moordverhoor Foto: Antoine de Ras / Independent Newspapers Ltd - Pool (SAPA)

Oscar Pistorius op dag 2 van die moordverhoor Foto: Antoine de Ras / Independent Newspapers Ltd – Pool (SAPA)

Regter Thokozile Masipa het die media Dinsdag tydens Oscar Pistorius se moordverhoor gewaarsku oor foto’s en beeldmateriaal van getuies.

Die staatsaanklaer Gerrie Nel het die hofverrigtinge Dinsdag onderbreek nadat hy in kennis gestel is dat Michelle Burger, staatsgetuie, se gesig op televisie gewys is, ondanks haar versoek dat beeldmateriaal van haar nie uitgesaai mag word nie.

ʼn Foto van Burger is op eNews Channel Africa uitgesaai. Patrick Conroy, hoof van nuus by eNCA, voer aan hulle het ʼn foto van die universiteit, waar Burger ʼn dosent is, vertoon. “Ons het nie die hofbevel oortree nie,” het Conroy gesê. Die foto is intussen verwyder.

Beeld het Dinsdag ook ʼn foto van Burger in sy gedrukte uitgawe gebruik.

Regter Thokozile Masipa het gesê dat geen foto’s van getuies gewys mag word, maak nie saak wat die oorsprong daarvan is nie, indien die getuie so versoek het nie. Masipa sê die kwessie sal ondersoek word.

Regter Dunstan Mlambo het verlede week toestemming aan die media verleen om die hofsaak met streng voorwaardes uit te saai. Dié voorwaardes sluit in dat foto’s van getuies nie gepubliseer mag word indien die getuie nie toestemming verleen het nie.

Intussen word die vraag of Reeva Steenkamp geskree het voordat sy doodgeskiet is, op dag twee van die verhoor in die Pretoriase hooggeregshof ondersoek.

Barry Roux, vir Pistorius het Burger ondervra oor teenstrydighede tussen haar weergawe en Pistorius se weergawe in sy aansoek om borgtog.

Die staat poog om te bewys dat Pistorius moord met voorbedagte rade gepleeg het toe hy Steenkamp op 14 Februarie 2013 in sy huis in Pretoria-Oos doodgeskiet het. Hy staar ook aanklagte van die oortreding van die Vuurwapenwet in die gesig. Sy prokureurs gaan aanvoer dat hy haar vir ʼn oortreder aangesien het toe hy haar deur ʼn geslote toiletdeur geskiet het. -SAPA

Klik hier om grafika van Pistorius se weergawe van die gebeure te sien.

Klik hier om hooftrekke uit die hofverrigtinge op Maroela Media te volg

Lees ook:
Oscar Pistorius-moordverhoor: “Hoe kon hy nie gille hoor?”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.