Media hof toe oor blok van sein tydens staatsrede

Joernaliste het Donderdagaand met die aanvang van die staatsrede beswaar gemaak oor selfoonsein wat geblok is. Foto: Twitter

Joernaliste het Donderdagaand met die aanvang van die staatsrede beswaar gemaak oor selfoonsein wat geblok is. Foto: Twitter

Suid-Afrikaanse mediahuise gaan om ʼn dringende hofbevel aansoek doen om ‘n herhaling te keer van Donderdagaand se voorval waar selfoonsein aanvanklik geblok is tydens pres. Jacob Zuma se staatsrede.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef)het gesê die aansoek het ten doel om veiligheidsagentskappe te keer om kommunikasieseine te blok en met verslaggewing in te meng.

“Ons sal die howe nader om te keer dat staatsveiligheidsagentskappe in die toekoms onwettiglik kommunikasieseine blok wat ten doel het om in te meng met joernaliste se regte en vryhede wat deur die grondwet beskerm word,” het Sanef gesê.

Sanef sal ook die howe versoek om die parlement te dwing om uitsaaimedia toe te laat om hul eie kameras in die wetgewer aan te bring.

Volgens Sanef was Donderdagaand se gebeure ʼn poging deur die parlement en uitvoerende gesag om joernaliste te verbied om vir die nasie die volle verhaal te vertel van hoe die opening van die parlement in pandemonium losgebars het nadat die polisie in die Nasionale Vergadering ingestuur is om EFF-LP’s te verwyder.

Mpumelelo Mkhabela, voorsitter van Sanef, het gesê die seinonderbreking moet dus nie net gesien word as spanning tussen die regering en die media nie maar eerder as hartseer kommentaar rakende die stand van die land se demokrasie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.