Media24 beoog afleggings, sluiting van talle tydskrifte en koerante

Ishmet Davidson. Foto: Media24

Media24 het Dinsdag aangekondig dat hy oorweeg om van sy tydskrifte en koerante te staak en gevolglik personeel af te lê.

Volgens die uitgewer is hy hard getref deur die Covid-19-pandemie. “Van die begindae van die pandemie in Suid-Afrika het ons met alles wat ons doen op twee prioriteite gefokus. Eerstens, die gesondheid en veiligheid van ons mense, en tweedens, om ons besigheid aan die gang te hou – by implikasie ook om vir so lank ons kan, poste te beskerm,” het Ishmet Davidson, uitvoerende hoof van Media24, gesê.

Die aankondiging kom kort nadat dit bekend geword het dat Bob van Dijk, groep uitvoerende hoof van Naspers, in die afgelope boekjaar $16 miljoen (meer as R270 miljoen) verdien het. Naspers het verlede maand sy jaarverslag bekend gestel. Media24 is ʼn filiaal van Naspers.

Daar word tans oorweeg om vyf tydskrifte en twee koerante te sluit, oorblywende maandelikse tydskrifte uit te kontrakteer en minder gereeld uit te gee, twee koerante net digitaal uit te gee, en om personeel in steundienste-afdelings te verminder. Die maatskappy het gesê hy begin vandag met personeel konsulteer.

Die beplande ingrypings raak na verwagting bykans 510 personeellede met ’n voorgestelde vermindering van nagenoeg 660 poste uit ’n totale personeelsterkte van 2 971.

Tans word beplan om Move! en die Hearst-titels (Men’s Health, Women’s Health, Bicycling, Runner’s World) te sluit en om DRUM net in digitale formaat uit te gee. ʼn Uitgewersooreenkoms word met Helen Schöer beding om die ouerskaptitels (Baba & Kleuter en Your Pregnancy) onafhanklik uit te gee.

Media24 wil verder die redaksionele produksie van die oorblywende maandelikse tydskrifte uitkontrakteer. Dit sluit in Fairlady, SARIE, SA Hunter/Jagter, True Love, tuis | home, Weg! | go! en Weg! Ry & Sleep | go! Drive & Camp asook die tweeweeklikse Kuier. Die frekwensie van maandblaaie sal dan ook tot ses uitgawes per jaar verminder word en agt uitgawes vir tuis | home, SA Hunter/Jagter en Man Magnum.

“Die vlagskip-weekblaaie Huisgenoot, YOU en Landbouweekblad sal steeds intern saamgestel en uitgegee word.”

Vir sy koerantafdeling beplan Media24 om Son op Sondag, Sunday Sun en die Oos-Kaapse uitgawe van Son te staak. Volksblad en Die Burger Oos-Kaap sal net digitaal en net op weeksdae uitgegee word, volledig in PDF-formaat beskikbaar op Netwerk24.

Dit word verder beoog om vier gemeenskapskoerante in KwaZulu-Natal: Amanzimtoti Fever, East Griqualand Fever, Hillcrest Fever en Maritzburg Fever te staak.

Talle ander titels sal saamgevoeg word: Noordkaap en Kalahari Bulletin word Noordkaap Bulletin, en Kroonnuus en Vrystaat Nuus word Vrystaat Kroonnuus. Theewaterskloof Gazette word by Hermanus Times ingelyf. Die digitale oorgang van The Witness sal versnel word.

“Die pandemie het die reeds bestaande strukturele langtermyn-inkrimping van drukmedia verhaas, met ’n vernietigende uitwerking op ons eie, reeds kwesbare drukmediabedrywighede. Ons sirkulasie- en advertensie-inkomste het sedert April skerp gedaal. Terselfdertyd baat baie van ons druktitels nie meer by vorige ingrypings om strukturele dalings teen te werk en hulle langer op die rak te hou nie, en bly daar geen ander opsies oor nie,” het Davidson gesê.

“Selfs al sou die ekonomie herstel tot die vlakke voor Covid-19, sal ons drukmediabesigheid nie van die pandemie se impak daarop kan herstel nie. Ons het ongelukkig geen ander keuse nie as om ons besigheid nou te herstruktureer ten einde die verliese by ons drukmediaportefeulje te beperk, en ons ook in staat te stel om te fokus op die haalbaarheid van die titels wat behoue bly en om hulle so lank moontlik in druk te hou.”

Terselfdertyd, sê Davidson, is Media24 besig om te omvorm om vinniger as ooit tevore by ’n toenemend digitale omgewing aan te pas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Johan ·

Persone word afbetaal maar nog n Bob kry let wel definitief nie verdien R260 miljoen per jaar . Die noem mens nou n sonde die te veel van die Bybel.

Racheltjie Debeer ·

Miskien moet Bob ‘n kleiner salaris trek dan sal ander, hardwerkende mense nie hul werk verloor nie. Watter normale mens verdien R260 miljoen per jaar???? Dis belaglik buitensporig, en wat presies doen Bob nou eintlik om die geld te regverdig??

Anoniem ·

Bob lag nog altyd al die pad bank toe en basta met die res.

Piet parys ·

Hou vas ZIM 2 IS OPPAD. danksy die regering . Sal seker die media beheer en so alles in die land beheer.

Agge nee ·

Sou ek wonder of Netwerk 24 intekenare nog dieselfde sal moet betaal terwyl die tydskrifte en koerante gehalveer word. Sal die volle prys van ‘n brood verhaal word, terwyl die helfde van die brood deur Bob opgevreet is.

Wilhelm ·

Vir my is Media24, sinoniem met News24, DSTV, Multichoice, Showmax… ek het absoluut geen simpatie met hulle nie.

Raakvatter ·

Het inteendeel DStv gekanseleer so week terug. Het nou Wifi, my genade, hoekom het ek dit nooit gehad nie. O ja, vir sport. Mens kan steeds kyk.

Twopence ·

Dis die hartseerste nuus. Selfs my man vra wanneer is dit weer SARIE-tyd. Elke twee maande is net nie goed genoeg nie. Werk mnr Van Dijk 24 uur per dag om R270m te verdien?

Johan ·

Hulle kan Beeld ook maar sluit loshande die swakste dagblad!!

Wielspore ·

Die skrif was al lank terug aan die muur, Media 24 het besluit om van die tradisionele na die eksklusiewe te beweeg toe daar van lesers verwag is om te begin betaal vir internet lees stof. Omtrent al die Afrikaans sprekende mense het groot geword met Huisgnoot, van die armste mense tot die rykste. Toe beweeg Huisgenoot oor na elektronies teen ‘n prys. Die enigste een wat hierby baatgevind het was Bob, hy het lekker geld gemaak. Met die onlangse finasiele prestasie van Media 24 sou mens nie kon voorspel dat daar probleme is. Dan is daar nogal bonusse uitbetaal vir die goeie werk, nou gaan mense hulle werk verloor. Bob, ek vermoed daar ontbreek eerlikheid in die saak.

Anoniem ·

Ek kan met alle eerlikheid sê dat ek nie ‘n sent tot Bob Van Diik se miljoene bygedra het nie.

capie ·

Ek was self werksaam by naspers en kan my indink hoe die mense op die vloer moes swoeg en sweet en elke sent bespaar vir bob se miljoene. NOU hoor ons van afbetalings.

Jakes ·

Dit is nogal verbysterend dat n persoon soveel salaris per jaar verdien. Kan Naspers ons dalk inlig hoe Bob se salaris saamgestel is? Ek hoop SARS neem ook kennis hiervan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.