Media24 erken prysvasstelling

Media24 (Foto: Media24)

Die Suid-Afrikaanse Mededingingskommissie het Vrydag gesê Media24 het erken dat hy skuldig is aan prysvasstelling en die vasstelling van handelsvoorwaardes, en het derhalwe ingestem om byna R14 miljoen in ʼn skikkingsooreenkoms met die kommissie te betaal.

Media24 is een van 28 mediamaatskappye wat verlede maand na die Mededingingstribunaal verwys is vir vervolging op aanklagte wat spruit uit ʼn ondersoek wat byna sewe jaar gelede gedoen is.

Kragtens die Media24-skikkingsooreenkoms het die maatskappy ingestem om ʼn administratiewe boete van R13,8 miljoen op te dok.

Die kommissie het gesê Media24 het ook ingestem om R4,9 miljoen tot die ekonomiese ontwikkelingsfonds oor ʼn driejaartydperk by te dra, asook om 25% ekstra advertensieruimte te verskaf vir elke rand aan advertensieruimte wat deur kwalifiserende klein advertensie-agentskappe gekoop word, oor ʼn tydperk van drie jaar en tot ʼn maksimum van R35 miljoen.

Die saak hou verband met ʼn ondersoek in November 2011 wat bevind het dat mediamaatskappye wat die dienste van Media Credit Coordinators (MCC) gebruik het, ingestem het om advertensiemaatskappye dieselfde afslag en betalingsvoorwaardes te bied.

Die kommissie het bevind dat dié praktyke wedywering onder mededingende maatskappye gestrem het omdat hulle nie onafhanklik op afslag kon besluit het nie en daarom die prys en handelsvoorwaardes vasgestel het wat ʼn oortreding van die Mededingingswet is.

Tot dusver het verskeie ander mediamaatskappye skikkingsooreenkomste met die kommissie aangegaan. Caxton & CTP Publishers and Printers het ingestem om ʼn administratiewe boete van R5,8 miljoen te betaal, Independent Media het ingestem om R2,2 miljoen te betaal en DStv Media Sales sal R22,2 miljoen betaal.

Daarby het die advertensiemaatskappy Provantage Media ook erken dat hy skuldig is aan die vasstelling van prys en handelsvoorwaardes. Die maatskappy het ingestem om net meer as R1 miljoen as deel van sy skikkingsooreenkoms te betaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Eish ·

Ek kan dit glad nie verstaan dat reuse maatskappye soos Media 24 nie geleer het uit die maalbedryf se ekskursies met die mededingingskommissie jare gelede nie. Hoeveel pensioenfondse het belê in die maatskappy en sy filiale? Hoe beïnvloed die boete winsgewendheid?
Wat is so n wetsoortreding enigsins verskillend van die Steinhoff sage? Dit toon uiters swak oordeel en totale gebrek aan integriteit en geen respek vir die land se wette nie.
Die bestuur van die maatskappy behoort summier afgedank te word.

White Rhino ·

Ook maar korrup – gee ook gladnie vreeslik dekking aan plassmoorde nie.
Kry vir julle!!!

LB S ·

Ek lees elke dag Netwerk24 en ek kan jou belowe dat elke plaasmoord wat op MM verskyn, ook in Netwerk24 verskyn. Jy hap nou sommer na lug net om iets te kan sê.

anti verrotting ·

Ja julle wil mos korrup wees – nou daar het julle dit.
Ek is so bly julle word gestraf. Betaal lekker aan die boete!!!!!

Amelia ·

Kan iemand help? Ek wil weet dai miljoene rande boetes, waarvoor word dit aangewend?

Manie Strydom ·

Suid Afrika het verval tot n skelm land waar skelms in beheer is waar gierigheid ordentlike mense sleg maak waar trots en inbors nie meer bestaan nie ,en dan wonder ons hoekom ons so swaarkry

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.