Mediakenners oor moordenaar, Huisgenoot-joernalis se liefde

Marizka Coetzer is as Huisgenoot-verslaggewer geskors hangende ’n ondersoek na haar verhouding met ’n 22-jarige moordverdagte. Foto: Facebook

Professionele integriteit is die hoeksteen van ʼn joernalis se geloofwaardigheid.

Hierdie joernalistieke integriteit het juis weer hierdie naweek onder die soeklig gekom nadat ʼn mediahuis ʼn joernalis geskors het wat glo te nou by ʼn moordenaar in die Krugersdorp-afspraakmoordsaak betrokke geraak het.

Maroela Media het berig Marizka Coetzer (28), ʼn joernalis van Huisgenoot, is Vrydag geskors hangende ʼn interne ondersoek oor ʼn moontlike liefdesverhouding tussen haar en Le Roux Steyn (22), ʼn veroordeelde moordenaar, in dié saak.

Die tydskrif het in ʼn verklaring gesê ʼn interne ondersoek sal nou volg en daar sal gekyk word na WhatsApp-boodskappe wat dit laat blyk Steyn en Coetzer is in ʼn verhouding.

bokkie-gerber

Bokkie Gerber, ʼn oudredakteur van Rapport, sê publikasies en hul lesers heg ʼn geweldige hoë premie aan joernaliste se goeie oordeel en integriteit. Foto: ‘n Skermskoot uit ‘n eNuus-video/Youtube.com

Integriteit en onafhanklikheid van ʼn joernalis

Bokkie Gerber, ʼn oudredakteur van Rapport, sê publikasies en hul lesers heg ʼn geweldige hoë premie aan joernaliste se goeie oordeel en integriteit.

“ ʼn Sportskrywer kan nooit ʼn aanhanger van ʼn sportman of span wees nie, dieselfde geld vir elke vlak van joernalistiek of dit nou misdaad, politiek of artikels vir ʼn tydskrif is. Joernaliste moet neutraal kan staan.”

Prof. Johannes Froneman, ‘n mediakenner aan die Noordwes-Universiteit, het gesê uit die aard van joernaliste se werk, word hulle dikwels aan talle fisieke en psigiese uitdagings blootgestel.

“Joernaliste kan in die versoeking kom om geld te neem om ʼn storie aan te pas of dalk selfs nie te plaas nie. Daar is ook potensiaal vir onbehoorlike verhoudings, wat op sigself nie verkeerd sou wees nie, maar beslis ongewens is omdat dit die joernalis se vermoë kan beïnvloed om as ʼn onafhanklike waarnemer op te tree en op ʼn onbevange manier oor ʼn saak te berig.”

Froneman het gesê dit is waarom daar iets soos die Perskode en riglyne oor etiek is wat joernaliste juis beskerm sodat hulle nie hul onafhanklikheid verloor nie.

“Dit wys die verskillende gevaarpunte vir joernaliste in hulle werk uit. Die Perskode is nie net daar omdat ʼn paar mense gedink het dit sal oulike reëls wees nie, dit is omdat ons uit ervaring gesien het waar joernaliste in situasies geplaas word waar hulle in die gedrang kom.”

prof-johannes-froneman

Prof. Johannes Froneman, ‘n mediakenner aan die Noordwes-Universiteit, het gesê uit die aard van joernaliste se werk, word hulle dikwels aan talle fisieke en psigiese uitdagings blootgestel. Foto: Facebook.

Misleiding vir inligting

Gerber meen dit is net so oneties om voor te gee jy is in verhouding om inligting te bekom. “Daar is baie druk op joernaliste om eerste of die beste storie te kry. Boonop is daar ook nog die ego wat ʼn rol speel – daardie gevoel wat jy kry as jy ander joernaliste en mediahuise kan ‘scoop’ maar joernalistieke integriteit en oordeel bly altyd die belangrikste.”

Volgens Gerber is dit iets wat nie by ʼn joernalistieke skool geleer kan word nie. “Daardie etiese werkwyse word eerder deurgegee in ʼn nuuskantoor. Die omgewing waarin jy werk, of dit nou Maroela Media, Rapport of Huisgenoot is, definieer hoe joernaliste moet werk, wat daar van hulle verwag word en wat die etiek en joernalistieke grense is waarin hulle beweeg.

“Joernaliste werk in ʼn hoogs emosionele omgewing van groot hartseer en groot vreugdes. Dit is wanneer daar bande en betrokkenheid geskep word wanneer joernaliste in ʼn gevaarsone beweeg en dan moet ʼn joernalis kan uitreik na ʼn redakteur, nuusredakteur of kollega.”

Froneman beaam dit: “Joernaliste doen dikwels stories wat baie persoonlik is. Hulle raak op ʼn intieme vlak by ʼn storie betrokke. Hulle weet op ʼn diepsinnige manier wat ʼn persoon gesê, gedink en gedoen het en kan dan maklik ingesleep word by iets wat ʼn delikate situasie word. Dit lyk vir my of dit hier ook die geval kan wees.

“As ʼn joernalis te diep ingetrek word by ʼn persoon of ʼn situasie wat die joernalis se onafhanklikheid blootstel, beteken dit die joernalis gaan nie oor sekere goed berig nie en ander goed weer sterker stel om ʼn bepaalde punt te maak of iemand te beskerm.

“Mense vergeet joernalistiek is ʼn subjektiewe aktiwiteit waar gewone mense met ander mense te doen kry en oor hul doen en late berig. As jy as ʼn joernalis nie jou eie subjektiwiteit erken nie, vergeet jy jou eie swakhede en menslikheid terwyl jy jou eie vermoë om onafhanklik te bly, oorskat.”

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, sê die Suid-Afrikaanse media, en Afrikaanse media spesifiek, is tans op ʼn krisispunt waar dit die gevaar loop om alle geloofwaardigheid in die oë van die publiek te verloor. Foto: Noeleen Foster.

Etiese opleiding in die nuuskantoor

Gerber meen dit is hier waar indiensopleiding by ʼn mediahuis ʼn noodsaaklike rol speel.

“ ʼn Mens kan nie nuuskierigheid, wat ʼn karaktereienskap van ʼn goeie joernalis is, kweek nie, maar jy kan hulle deurentyd riglyne gee oor hoe om ʼn goeie joernalis te wees of hoe om hul eie onafhanklikheid te beskerm.”

Tog meen hy etiese opleiding kan ongelukkig “befonkfaai” word as ʼn redakteur of nuusredakteur nie ook deurentyd erns daarmee maak nie.

“Eintlik is iets soos ʼn terugvoergesprek (debriefing) ná elke storie wat ʼn joernalis dek, nodig, maar ek vermoed dit word nie meer gedoen nie, want daar is nie tyd hiervoor nie. Dit is hier waar ʼn redakteur of nuusredakteur met joernaliste kan gesels oor etiek, gevaarpunte kan uitwys en kan uitkyk vir ʼn joernalis se geestesgesondheid.”

Froneman meen Huisgenoot het reg opgetree om die betrokke joernalis te skors hangende die uitslag van die ondersoek omdat die publikasie en die joernalis in gedrang gebring is.

Dit is iets wat Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, ook benadruk: “Die vraag is egter nie of hierdie besluit die regte een was nie, maar eerder, hoe die situasie voorkom kon word.”

Lombaard sê die Suid-Afrikaanse media, en Afrikaanse media spesifiek, is tans op ʼn krisispunt waar dit die gevaar loop om alle geloofwaardigheid in die oë van die publiek te verloor.

“Kritiek oor die media se gebrek aan geloofwaardigheid en gebalanseerdheid, die manipulering van inligting, onetiese praktyke, subjektiewe beriggewing, sensasiesoekery en die blatante publiseer van fopnuus is aan die orde van die dag.

“Die publiek skeer alle media oor dieselfde kam – ‘die media’ kan nie vertrou word nie; ‘die media’ het ʼn verskuilde agenda. Dit is allermins waar vir alle media-instansies, maar ʼn gebeurtenis soos hierdie sit ongelukkig die beeld van die Suid-Afrikaanse mediawese in die oë van die publiek tien reusetreë terug.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Jerry ·

Sou die feite bestaan dat die verhouding geensins n invloed op haar werk as joernalis het nie, dan sou dit reg wees, ten spyte van eties of oneties. Ander joernaliste kan ook reeds in verhoudings wees met moordenaars, hulle weet dit nog net nie. Hoeveel vroulike joernaliste kan in verhoudings wees waar hulle mishandel word, maar hulle hou dit stil. Dit beinvloed egter hulle werk baie meer as die joernalis wat n verhouding het met die afspraakmoordenaar! Ons gemeenskapingesteldheid teenoor mekaar moet wees om mekaar te ondersteun en te help daar waar die pad byster geraak word, maar inplaas daarvan veroordeel ons en verwerp ons mekaar terwille van etiese korrektheid. Niks en niemand is so eties korrek en perfek soos wat daar voorgegee word nie, maar helaas en juis daarom moet ons daarna strewe in eerlikheid en nie in valsheid deur te vinnig n oordeel te fel nie.

Karolis ·

Julle oordeel haar voordat sy enige iemand bevoordeel en/of benadeel het asook enige iets verkeerd gedoen het.
Slegs ‘n “moontlike liefdesverhouding” is al rede wat julle nodig het?

nannie ·

Die dame is klaar veroordeel. Hoe weet hul dat daar whatsapp boodskappe is op haar foon? En indien die dame onskuldig is, gaan hulle haar onverskoning in die media vra?

jjobson ·

Huisgenoot ,volgens whatsapp is sy skuldig. Pateties!!!!!!!!!!!!

Alida ·

Skuldig aan wat? Vir wie vra jy toestemming om verlief te raak op iemand. Los dat sy haar kop stamp.

Cherokee ·

Sy lees hier, so as sy ‘n storie te vertelle gehad het, was daar niks wat haar terughou nie. Vir my persoonlik gaan dit nie oor etiek nie maar bloot oor smaak. En as dìt is waarop sy haar emosies wil verspil, is haar oordeel in alle opsigte te bevraagteken.

Arrian ·

“potensiaal vir onbehoorlike verhoudings, wat op sigself nie verkeerd sou wees nie” – hoe is dit moontlik dat ‘n onbehoorlike verhouding nie verkeerd kan wees nie? Bevrees Prof u het my hier in die war!

Martina Aucamp ·

Ek dink nie Huisgenoot het die reg om haar te skors daaroor nie. Dis haar persoonlike lewe. Hoogstens kan sy van die storie afgehaal word vir hulle onthalwe. Buitendien is daar geen werklike bewyse nog dat dit iets anders as ‘n vriendskapsverhouding is nie. Hoekom is ons mense altyd so vinnig om te oordeel??

Joe Hall ·

Ag asseblief tog!
Hoe kan ‘n joernalis se skryfsels oor ‘n siel met wie sy in ‘n verhouding is, ooit objektief wees???
Wat nog te sê wanneer die betrokke siel ene is wat van moord aangekla is, of nog erger, reeds skuldig bevind is!
Ek stel geensins belang in die detail van hierdie gruwelike saak nie, of watse oulike of interessante wesens die betrokkenes is nie, maar aanvaar dit as ‘n gegewe dat wat ookal in hierdie besondere geval uit die joernalis se pen sou vloei, geen, maar geen geloofwaardigheid het nie.
Is maar hoe dit is.

PJC ·

Is hierdie dame dan nie reeds getroud nie. Ek dink daar was so iets in die koerante. As sy ten spyte van al die feite wat in die hof openbaar is nog steeds op hierdie persoon verlief raak skort daar iets baie ernstig met haar oordeel. Die hoofstroom media het lankal hul geloofwaardigheid by die meer ingeligte deel van die publiek verloor. Dit is al jare lank duidelik dat hulle ń verskuilde agenda het en volgens my ń baie duistere een.

Hannes ·

En van wanneer af is Huisgenoot die toonbeeld van joernalistieke professionaliteit?
Beslis ‘n toonbeeld van sensasie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.