Medici wat volgens wet optree, hoef nie vervolging te vrees – NVG

Dr. Abdulhay Munshi (Foto: ANA)

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het Saterdag gesê mediese praktisyns wat hul pligte binne die perke van die wet uitvoer, hoef nie strafregtelike vervolging te vrees nie.

Dít volg nadat mediese praktisyns vandeesweek hul kommer uitgespreek het oor die aanklag van strafbare manslag waarop die vermoorde narkotiseur, dr. Abdulhay Munshi, saam met prof. Peter Beale, ʼn pediatriese chirurg, teregstaan ná die dood van ʼn pasiënt verlede jaar.

Maroela Media het vroeër berig Zayyaan Sayed (10) het op 11 Oktober ʼn laparoskopie by die Netcare Park Lane-kliniek ondergaan nadat hy lank met refluks gesukkel het. Beale het die operasie uitgevoer, terwyl Munshi die narkotiseur was. Zayyaan het later dieselfde aand gesterf.

Zayyaan Sayed.

Die saak teen Munshi sal egter nou teruggetrek word nadat hy Woensdag koelbloedig doodgeskiet is. Bewerings van ʼn sluipmoord doen intussen die ronde en dokters sê hulle is bang hulle word vermoor óf vervolg indien ʼn pasiënt in hul sorg sterf.

Die NVG voer egter in die verklaring aan dat die vervolging van Munshi regmatig was.

“As dit blyk dat ʼn geneesheer op ʼn manier sou optree wat tot nalatige lewensverlies gelei het, is die NVG verplig om op te tree met die doel om te besluit of strafregtelike stappe teen die geneesheer ingestel moet word al dan nie.

“Ná ʼn strafregtelike klag van mediese nalatigheid deur Sayed se pa in Oktober 2019, is die NVG gelei deur artikel 179 (2) van die Grondwet wat die NVG bemagtig om strafregtelike stappe namens die staat in te stel.

Talle dokters het Woensdag ná die moord op Munshi na sy huis in Johannesburg opgeruk en geëis dat geregtigheid geskied en gesondheidsorgwerkers beskerm moet word. (Foto: @DrShmuk/Twitter)

“ʼn Saak van strafbare manslag teen Beale en Munshi is ingestel nadat die saakdossier nagegaan en daar vasgestel is dat redelike vooruitsigte op suksesvolle vervolging wel bestaan (ʼn prima facie-saak).”

Luidens die verklaring sal die vervolging volgens die standaardprosedure wag op ʼn afskrif van Munshi se doodsertifikaat sodat die aanklag teen hom formeel in ʼn hof teruggetrek kan word.

Die saak teen Beale gaan egter voort en sal weer op 16 November vanjaar in ʼn hof aangehoor word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Evert ·

Ongelukkug tree die HPCSA nie op in belang van ons dokters nie. Hulle moes eers ondersoek instel voor dit na NVG aangestuur word

Delia ·

Dr Peter Beale..wees asb baie versigtig en hou jou oë oop. Beskerm jouself.

annie ·

Ons dokters betaal groot geld aan versekering omdat ontevrede pasiènte gereeld groot eise indien. Navorsers wat meen SA sal nie nog ‘n Zimbabwe word nie, is dalk reg, miskien word ons ‘n 2e Meksiko waar operasies met wapens op sypaadjies uitgevoer word.

Vicky ·

So as hy nog gelewe het,het die saak voort gegaan…Nou dat hy oorlede is,word die saak terug getrek teen hòm,maar die ander Dr word nogsteeds vervolg. Belaglik. Dit maak nie sin nie.

Johan D ·

Genade Vicky, die saak teen die oorledene kan mos nie vir ewig en altyd en nog ʼn dag langer “oop” gehou word nie, wie op hierdie lemoenronde aarde gaan hulle vervolg? Daar is mos nie meer ʼn verdagte of beskuldigde nie, die man is dood, weg, vir ewig!

Pieter ·

Indien ek op ‘n ongelukstoneel afkom is dit dus beter om aan te ry, want netnou dagvaar een van die beseerdes my dat ek hulle verkeerd bygestaan het. Ek neem notisie van die aanklaer.

Jakes ·

Wel hoe anders as om die saak terug te trek want die dokter is vermoor? Hoe kan n dooie persoon pa staan vie n hofsaak?

pestilensie ·

Jammer om te se , maar as dit my kind was sou ek ook op vervolging aangedring het . Roetiene ondersoek behoort nie tot die kind se dood te lei . As n Dr nalatig was behoort hy nie deur sy mede Dr,s beskerm te word

Moedeloos ·

Ek stem saam. Maar hoe bewys jy die nalatigheid van n dokter. Hoe weet mens die Dr was nalatig. Aan wat is die kind oorlede dink nie ek het dit al iewers gelees nie. Dit is so n wye veld wat gedek word dat nalatigheid nie sommer bewys kan word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.