Medici woedend ná skietdood van narkotiseur

(Foto: @DrShmuk/Twitter)

Medici het Donderdagmiddag na dr. Abdulhay Munshi se huis in Johannesburg opgeruk en geëis dat geregtigheid geskied en gesondheidsorgwerkers beskerm moet word.

Munshi, die narkotiseur wat strafregtelik vervolg is oor die dood van ʼn tienjarige pasiënt, is Woensdag koelbloedig doodgeskiet. Die moord het woede onder die land se mediese gemeenskap ontlok.

Die Suid-Afrikaanse Radiologiese Vereniging (RSSA) het sy skok oor die wrede en sinnelose moord op Munshi uitgespreek.

“Ons is woedend oor die wrede moord op dr. Munshi. Dokters reis dag en nag om pasiënte te besoek. Daar is toenemend berigte oor dokters en paramedici wat aangeval en vermoor is. Dokters loop reeds die risiko om die siektes op te doen wat hulle behandel, soos ons met die Covid-19-pandemie gesien het. Dit is nog meer tragies as hulle gewelddadig vermoor word terwyl hulle hul roeping volg en die gemeenskap dien,” het dr. Dharmesh Daya, president van die RSSA, gesê.

Munshi se motor is glo Woensdag in Johannesburg van agter deur ʼn ander motor getref. Hy het uitgeklim om ondersoek in te stel na die skade aan sy motor waarna hy na bewering verskeie kere in die agterkop geskiet is.

Munshi is voor sy dood saam met prof. Peter Beale, ʼn pediatriese chirurg, aangekla in verband met die dood van Zayyaan Sayed verlede jaar. Zayyaan het op 11 Oktober ʼn laparoskopie by die Netcare Park Lane-kliniek ondergaan nadat hy lank met refluks gesukkel het. Beale het die operasie uitgevoer, terwyl Munshi die narkotiseur was. Zayyaan het later dieselfde aand gesterf. Die dokters is ná die kind se dood van strafbare manslag aangekla.

Volgens Dara was die RSSA en ander in die mediese beroep woedend toe die dokters verlede jaar in hegtenis geneem is.

“Die openbare inhegtenisneming van die twee dokters en hul byna onmiddellike skorsing, sonder ondersoek deur die gesondheidsreguleerder, die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika, was voortydig. Die normale verloop van die gebeure is omgekeer, wat die alledaagse praktyk van geneeskunde in Suid-Afrika in gevaar stel,” het Dara gesê.

“Beweerde wanpraktyk moet ondersoek word, maar die ondersoek moet gedoen word voor daar opgetree word en strafregtelike aanklagte is. Soos alle beskuldigdes het dokters regte en is onskuldig totdat hulle skuldig bevind word.”

Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama) en die Suid-Afrikaanse Vereniging van Narkotiseurs (Sasa) het ook die moord op Munshi ten sterkste veroordeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Vriendelike Frikkie ·

Gaan die medici nou die res se voorbeeld volg en staak, plekke plunder, geboue brand en skade maak sovêr hulle gaan? Hopelik sal hulle soos verantwoordelike mense betoog.

ES ·

Persoonlik dink ek hierdie is ‘n uigesonderde geval. Hierdie dokter is geteiken omdat hy die dood van hierdie seun veroorsaak het. Daar was destyds berig dat talle ouers en volwassenes klagtes gemaak het oor sy behandeling van pasiente.

Dit bly tragies, sterkte aan sy naasbestaandes.

Cherokee ·

Dit is ‘n algemene en logiese vermoede. Waarskynlik dink die meeste lesers so.

Dana ·

ES.

Ek is ñ narkotiseur….. reeds vir langer as 20 jaar.

Dit is uiters onwaarskynlik dat die betrokke narkotiseur verantwoordelik was vir die dood van die seun…… Baie meer waarskynlik die gevolg van ñ komplikasie van die chirurgie.

Wanneer n narkotiseur sê aksies of gebrek/versuim die dood van ñ pasiënt veroorsaak gebeur dit gewoonlik in teater, ten tyde van die chirurgie, of direk na chirurgie in die herstelarea.

Belinda ·

Hokaai bietjie, die Dokter was nie skuldig bevind nie en hierdie seuntjie het dalk gesterf omdat sy liggaam nie sterk genoeg was, of omdat daar meer geskort het met hom. Ek is bewus dat sekere Dokters se foute begrawe word, ek spreek niemand vry nie, maar hierdie Dokter was nie skuldig bevind nie. Die saak moes nog voor die hof kom, daar was nog ‘n Doktoer en personeel ook betrokke by die operasie. Sou dit ‘n menslike fout wees, moet mens darem net eers kyk hoeveel hy al gered en suksesvol behandel het, sy lisensie wegneem, maar voor die voet doodskiet, nee jinne party mense raak heel mal en ander laat verkragting en moord toe.

Dana ·

Beste ES

Ek is ñ narkotiseur…… reeds vir 21 jaar.

Dit is hoogs onwaarskynlik dat die seun se dood veroorsaak is deur die narkotiseur se toedoen of nalatigheid. Die meer waarskynlike oorsaak is ñ komplikasie van die chirurgie.

Wanneer n narkotiseur se aksie (of gebrek/versuim) die dood van ñ pasient veroorsaak gebeur dit feitlik uitsluitlik in teater of direk na chirurgie in die herstelarea.

Andre ·

Eerstens; simpatie aan naasbestaandes. Tweedens; ja woede maar woede los nie die probleem op nie. Is dit nie tyd dat ons almal moet opoffer om te oorleef nie. Byvoorbeeld; wat sou gebeur het as Clicks sy werknemers ingelig het dat salarisse aangepas moet word omrede winkels moes sluit agv EFF se plundering en verwoesting. Sal hulle volgende keer weer met handskoene hanteer word as hulle optrede eerlike werkers se sak raak…

Johann ·

Ek stem saam dat dit ‘n uitsonderlikke geval is hy was aangekla van strafbare manslag en hy was op borgtog uit En dit blyk dit was ‘n teregstelling Die publiek het vertroue verloor in die regstelsel en dit sal my nie verbaas as die optrede meer gaan voorkom nie

Objektief ·

Daar is drie kante aan elke saak en in hierdie geval is dit duidelik dat medici en die publiek sterk verskil oor die saak.

Medici moet aanvaar dat hulle moet verantwoordelikheid aanvaar vir hulle opterde as hulle nalatig was en die publiek moet ook besef dat sekere pasiente nie gaan oorleef nie.

Dit sou ideaal gewees het as die hof n onpartydige uitspraak as die derde kant van die saak kan gee en almal dit aanvaar het

Niklaas ·

Dis een onsinnige daad want die oorledene, Dr Munshi, is nie skuldig bevind aan enige oortreding nie. Sy dood sal ook nie die seun wat gesterf, terugbring nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.