Mediclinic-hospitale steeds onder druk

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Mediclinic sê sy hospitale in Gauteng, Mpumalanga, Limpopo, KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap is onder druk weens die toename van Covid-19-gevalle en gevolglike hospitaalopnames.

Die hospitaalgroep sê hy versterk tans sy kapasiteit om ʼn verdere toename in hospitaalopnames in die komende weke in bogenoemde provinsies te hanteer. Die aantal opnames in sy hospitale in die Noord-Kaap en Namibië is egter aan’t afneem.

Mediclinic sê die aantal hospitaalopnames is ook meer vergeleke met die vorige virusgolwe.

Tertia Kruger, woordvoerder van Mediclinic Suid-Afrika, sê die kapasiteit wat hospitaalbeddens betref, is steeds “vloeibaar” en word deurlopend gemonitor. Die hospitaalgroep skuif ook toerusting soos ventilators tussen sale en fasiliteite namate sommige sale en fasiliteite onder druk verkeer en dit benodig.

“Dit is belangrik om daarop te let dat die kapasiteit van die intensiewesorgeenhede (ICU) en hoësorgeenhede van hospitaal tot hospitaal kan verskil. Dit hang af van die aantal beddens beskikbaar en hoeveel Covid-19-pasiënte in die intensiewesorgeenheid beland of meganiese ventilasie benodig,” sê Kruger.

“Baie pasiënte wat opgeneem word, word doeltreffend met aanvullende suurstof en ander ondersteunende behandelingsmetodes behandel. Mediclinic is in staat om pasiënte binne sy mediese afdelings op só ʼn manier te help.”

Volgens Kruger word ʼn gestruktureerde triage-proses van siekte (sortering van pasiënte) gevolg om te bepaal watter pasiënte voorkeur moet geniet. Pasiënte wat dringende behandeling benodig, sal gestabiliseer en opgeneem word of na ʼn ander geskikte fasiliteit oorgeplaas word.

“Mediclinic-hospitale is deurgaans in verbinding met ander hospitale om die vraag na gesondheidsorg te beheer.”

Besoekers, elektiewe chirurgie

Elektiewe chirurgie is verminder of tydelik opgeskort in Mediclinic-hospitale wat weens Covid-19 onder groot druk verkeer. Noodoperasies gaan egter normaalweg voort.

Besoektye is intussen in verskeie Mediclinic-hospitale hersien. Besoektye mag moontlik beperk of selfs tydelik opgeskort word waar hospitale tans onder geweldige druk verkeer weens ʼn toename in Covid-19-pasiënte.

Toegang tot Mediclinic se neonatale hoësorgeenhede (​NICU) en pediatriese sale word steeds toegelaat.

Familielede kan die hospitaal nader vir meer inligting oor hoe hulle met hul geliefdes in verbinding kan tree. Virtuele kontak kan waar moontlik tussen gesinne en hul geliefdes in die hospitaal deur die personeel in die saal geadministreer word.

Inentings

Volgens Kruger bedryf Mediclinic tans 10 Pfizer-inentingsentrums. Die hospitaalgroep is ook in die proses om nog inentingspersele op die been te bring waar die Johnson & Johnson-entstof teen Covid-19 toegedien sal word sodra voorraad beskikbaar is.

“Daar was die afgelope week ʼn toename in die aantal entstowwe wat deur Mediclinic se inentingsentrums toegedien is.”

Ondersteuning vir gesondheidsorgpersoneel

Kruger sê Mediclinic erken die wesenlike rol wat gesondheidswerkers in die pandemie speel en die geweldige druk wat op hul geestelike en emosionele welstand geplaas word.

Die hospitaalgroep het bykomende aanlyn en persoonlike ondersteuningshulpbronne vir hierdie werkers beskikbaar gestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.