Mediclinic merk daling in Covid-19-verwante opnames

(Argieffoto: Go Nakamura/Getty Images/AFP)

Mediclinic sê hy bemerk in hierdie stadium ʼn bestendige afname in Covid-19-verwante hospitaalopnames in alle provinsies.

Die hospitaalgroep gee weekliks die jongste verslag van die situasie by sy hospitale.

“Algehele opnames het met 50% afgeneem sedert die kruin teen die middel van verlede maand bereik is,” sê dr. Gerrit de Villiers, kliniese hoof by Mediclinic.

“Daar was ook ʼn 30%-daling in die getal pasiënte wat in hoësorgeenhede sedert die tweede piek opgeneem is. Ons ondervind nog druk op intensiewe sorg- en hoësorgbeddens en ventilators, veral in die Vrystaat, Mpumalanga en KwaZulu-Natal.”

De Villiers sê daar is steeds brandpunte, veral in die omgewing van Mbombela (Nelspruit) en Polokwane.

By sommige hospitale is elektiewe chirurgie reeds hervat.

Mediclinic het ook sy steun toegesê aan die regering se plan om ʼn entstof teen Covid-19 beskikbaar te stel en sê hy beraadslaag met die staat oor waar hy moontlik kan help. Die groep het ook reeds syfers voorgelê oor hoeveel van sy gesondheidswerkers in die aanvanklike fase entstof gaan benodig.

De Villiers sê besoekure is nou minder streng – Covid-19-pasiënte uitgesluit – maar deernisbesoeke aan dié pasiënte word op ʼn individuele grondslag oorweeg. Die hospitaalgroep het ook personeel aangestel om waar nodig as tussengangers tussen pasiënte en hul geliefdes op te tree en te verseker families bly op die hoogte van ʼn pasiënt se toestand.

“Weens die afname in die getal pasiënte wat sorg in intensiewe- en hoësorgeenhede benodig, was daar ʼn beduidende afname in die vraag na suurstof,” sê De Villiers.

“Ons huidige suurstofvlakke is bestendig en word op hospitaalvlak bestuur en dopgehou omdat kapasiteit en behoefte wissel.”

De Villiers sê Mediclinic het ook kennis geneem van die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte (Sahpra) se besluit dat ivermektien voortaan weens menslikheidsredes op ʼn beheerde grondslag gebruik mag word vir die behandeling van Covid-19-pasiënte.

“Die proses oor hoe om aansoek hiervoor te doen vir spesifieke pasiënte, is onder al ons hospitale versprei.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Josua ·

SA het met die jare heen altyd een of ander probleem gekry maar nog altyd daarmee saam geleef en altyd antwoorde gekry, Covid is niks snaaks nie, ek glo dat die medikasie wat skielik goedgekeur was daartoe bygedra het tot die herstel koers en dit gaan nog baie verbeter. Wat my egter bekommer is dat nou skielik word SA se “Covid” beskou as n ander variant en ek sê dis snert, dit gaan alles oor geld en mag. Skielik het ons ‘n gedeeltelike antwoord op die Covid 19 met bewyse wat natuurlik die “wereld” se beplanning met die entstof totaal onkant betrap het en nou skielik is SA se Covid nie dieselfde as die buiteland se Covid nie en mense glo dit, Indie het reeds n Covid kit wat hulle vir hul mense gee maar skielik krap weteskaplikes kop oor SA se Covid, laasjaar was dit nog dieselfde Covid wat mense gedood het of baie siek gemaak het, ons kan maar een en een bymekaar sit mense, die ouens om die tafel se planne het “gebackfire” dank die Vader daarvoor !!!

KB ·

Ek sal graag wil weet hoekom ons AstraZeneca se entstof gebruik (veral omdat Switserland dit in totaliteit verbied het, en omdat Duitsland en Frankryk dit verbied het vir persone ouer as 65jaar).
Is Pfizer, J&J, Moderna of SII se entstowwe bo verdenking? Wat van die Russiese Sputnik V-entstof?
Is Ivermektien nie maar na als die paadjie om te stap nie?

Baardman ·

Want die ANC se maatjies in Indië vervaardig dit. Heel moontlik is daar n Gupta hand of 2 ook by

Kobus ·

Ivermektien is die antwoord.
Ek het self onder die 2de Pes deurgeloop en dit is beslis geen griep nie.
Ivermektien, of die generiese variant Ecomectin wat ek gebruik het, het een groot probleem: jy kan meer as 50 siek persone genees op 1 bottel wat nagenoeg R500 behoort te kos. Dit is dus R10 per genesing, daar is dus geen geld in die middel nie.

Michelle ·

Wat sou die invloed wees van mense se self medikasie (vitamines, invermectin ens) op die afname van hospitalisasie syfers?
Hierdie afnames is reeds voor enige entstowwe….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.