Die hospitaalgroep Mediclinic het besluit om vir eers alle elektiewe operasies en prosedures by sy hospitale wat onder druk verkeer te staak in ’n poging om die skerp toename in ernstige siek Covid-19-pasiënte te midde van die tweede virusgolf te hanteer.
Mediclinic se hospitale beleef tans ’n groot vraag na hospitaalbeddens in hul waakeenhede en daar is terselfdertyd ’n groot vraag na ventilators.
Dr. Gerrit de Villiers, hoof kliniese beampte by Mediclinic, sê die algehele getal Covid-19-pasiënte in Mediclinic se hospitale oorskry tans die getal pasiënte gedurende die piek van die eerste virusgolf met 75% en in sommige hospitale met 100%.
Mediclinic Suid-Afrika het gewoonlik ʼn bedkapasiteit van ongeveer 1 000 beddens met 850 beskikbare ventilators in sy waak- en hoësorgeenhede. Dié beddens is egter nou in sommige hospitale 90% vol, met sommige hospitale wat in dié stadium geen hospitaalbed of ventilator beskikbaar het nie.
Volgens De Villiers is ʼn skerp toename in die vraag na ventilators die afgelope week in die hospitaalgroep se hospitale opgemerk. Die groep se ventilatorvoorraad is onder groot druk en bykomende ventilators word nou vir sommige hospitale aangekoop. Mediclinic-hospitale se huidige vlakke van suurstof is oor die algemeen nog stabiel, maar word deurgaans bestuur en gemonitor. Bykomende stoorplek vir suurstoftenks word ook bekom.
De Villiers sê die hospitaalgroep het besluit dat pasiënte vir kort tye na ander fasiliteite verwys sal moet word indien daar nie voldoende kapasiteit in ’n betrokke Mediclinic-hospitaal is nie. Dít is sodat geen pasiënt se sorg agterweë bly nie.
Slegs pasiënte wat stabiel genoeg is, sal verwys word.
“Dié beleid word slegs vir kort tydperke, ’n maksimum van vier uur, in werking gestel om ’n agterstand van pasiënte uit die weg te ruim.”
Die skerp toename in hospitaalopnames word veral in KwaZulu-Natal, Mpumalanga, Limpopo en Gauteng opgemerk terwyl dit blyk dat die vraag na plek in hospitale in die Tuinroete gestabiliseer het. Die Wes-Kaap begin tekens van stabilisering toon.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
5 Kommentare
Ek wonder hoeveel covid pasiente le in Mediclinic hospitale wat besig is om stadig te versmoor, wat gereken het covid is net ‘n sameswering deur een of ander mag met ‘n verskuilde agenda.
Staats hospitale wys mense al vir baie lank weg omdat hul vol is…gee n paar pyn pille en laat jou huistoe trap…wat maak dit nou anders? Ons sit met goedekeurde middels, hoekom mag die dokters nie dit gee nie? Hoekom is daar n Dictator Counsel van politisie en nie n raad van dokters om n mediese krisis aan te pak nie. Dis n politieke hoaks. Dit is wat mense soos Francois nie verstaan nie, die paniek wat hy skep help net dat meer politisie betrokke raak en als opdons, as hul dit net gelos het sou n raad van dokters… Lees meer »