Mediclinic staak ‘vir eers’ verpligte inenting

Mediclinic Hart-hospitaal in Pretoria bloot ter illustrasie.

Mediclinic het besluit om sy verpligte inentingsmandaat tydelik uit te stel. Dit beteken dat alle werknemers – ingeëntes én nie-ingeëntes – tot verdere kennisgewing in hul huidige posisies by die hospitaalgroep geakkommodeer sal word.

Mediclinic Suider-Afrika het Woensdag in ’n verklaring gesê die hospitaalgroep het die implementering van sommige van die maatreëls wat in sy inentingsmandaat vir werknemers vervat is, verslap.

Dié besluit is glo geneem met inagneming van die verminderde risiko in die werkplek weens die Omikronvariant.

Die hospitaalgroep sou aanvanklik al hul werknemers vanaf April verplig het om die inenting teen Covid-19 te kry, nadat die groep besluit het dat ’n verpligte inentingsbeleid nie net wenslik is nie, “maar eties die regte ding is om te doen om ’n veilige en positiewe werkomgewing vir werknemers te skep”.

Die inentingsbeleid maak wel voorsiening vir moontlike vrystelling vir persone wat om geldige mediese en grondwetlike redes nie ingeënt kan word nie.

“Onlangse data dui daarop dat die Omikronvariant anders opgetree het as die voorafgaande variante. Hierdie verandering in simptome het die las op ons hospitale verlig en veranderings aan die inperkingsregulasies meegebring.

“Die beleid bly in plek, maar word verslap as gevolg van die huidige beskikbare kliniese bewyse en risiko-evaluering,” lui die verklaring.

Mediclinic Suider-Afrika sê die hospitaalgroep bly wel onwrikbaar in sy siening dat inenting die beste beskerming teen ernstige infeksie en dood bied.

  • Mediclinic Suider-Afrika sal voortgaan om die pandemie noukeurig te monitor en kan moontlik sy besluit vorentoe heroorweeg, indien nodig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

21 Kommentare

jongste oudste gewildste
Liesje

En dit vanuit ‘n mediese omgewing..ek is baie dankbaar dat my werkgewer die verstandigheid gehad het om dit nie af te dwing nie. Hulle het verseker reg opgetree.

Martin

En so wil almal tog net “polities korrek” wees en saam met die trop beweeg. Klink net soos die SAPD se motto “hulle sal die situasie noukeurig monitor”…

domheks

laat mens wonder ne!

Samuel

Dit is die regte besluit om hierdie inenting nie verpligtend te maak nie. Dankie vir rede wat seëvier.

Anel

As ‘n hospitaalgroep so besluit, wie is ander plekke om dit af te dwing?